ADVERTISEMENT:

 

 
 

Gearresteer: Bo na onder van links na regs is Christine Labuschagne (29), Koos Duvenhage (27), Marvelique van der Merwe (20), Neil Duvenhage (25) en Zandroux Hibbert (30). Foto's Facebook/verskaf.

Tonge gons ná arrestasies

Date: 16 April 2021 By: Andries van Zyl

Die arrestasie van vyf van Louis Trichardt se jongmense op klagte wat verband hou met ‘n reeks inbrake by wonings en besighede, onwettige jag en selfs die besit van ‘n gesteelde vuurwapen, het die afgelope week behoorlik tonge aan die gons.

Die polisie het verlede Woensdag, 7 April, klopjagte uitgevoer by twee wonings in die dorp in onderskeidelik Hlanganani- en Burgerstraat. Verskeie vermoedelik geteelde goedere is tydens die klopjagte deur die polisie gevind. Dit het gelei tot die arrestasie van ses verdagtes. Hulle is die 27-jarige Koos Duvenhage, 25-jarige Neil Duvenhage, 30-jarige Zandroux Hibbert, 29-jarige Christine Labuschagne, 20-jarige Marvelique van der Merwe, asook die 26-jarige Wonder Jere wie se herkoms onbekend is.

Die ses verdagtes het almal Vrydag, 9 April, in die hof op Louis Trichardt verskyn. Die twee Duvenhages, Hibbert, Labuschagne en Jere het almal verskyn op klagte van inbraak by beide wonings en besighede, een klag van onwettige jag wat verband hou met die skiet van ‘n bees en twee klagte van die besit van vermoedelik gesteelde goedere. Al vyf van hulle is borg geweier weens ander uitstaande klagte teen van hulle.

Van der Merwe is op haar beurt aangekla van die besit van ‘n onwettige vuurwapen. Sy is die enigste beskuldigde wat Vrydag borg van R1 500 toegestaan is. Plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane het by navraag die arrestasies bevestig en bygevoeg dat Van der Merwe se saak heel moontlik oorgeplaas gaan word na Musina, aangesien die vuurwapen wat in haar besit gevind is moontlik verbind kan word met ‘n besigheidsroof waartydens sewe ander vuurwapens geroof is.

Die motief agter die beweerde misdade word wyd toegeskryf aan die beskuldigdes se skynbare dwelmverslawing. Dit is hierdie week beaam deur een van die jong mense se ma’s. “Hierdie jong mense steel vir dwelms. Dit is almal kinders wat met dwelms deurmekaar is. Hulle steel nie om kos in die huis te bring nie of enige iets anders nie,” het die ma gesê. Sy het verkies om anoniem te bly uit vrees vir hulle veiligheid. “My kind wil praat, maar is te bang om te praat … ons lewe in hierdie stadium in vrees … ons weet nie wat om te verwag as ons by hierdie hekke uitgaan nie,” het die ma gesê. Sy het verwys na wat die dwelmhandelaars in die dorp moontlik kan doen as een van die jong mense sou “uitpraat”.

Volgens die ma is die probleem van dwelms in die dorp en haar eie kind se verslawing nie ‘n nuwe een nie. “Hierdie probleem kom nie van vandag af nie. Tien jaar gelede het ek name en adresse aan die polisie gegee van handelaars. Tot vandag toe is nog nie een van hulle gevang nie,” beweer die ma. “Dit is maklik om hierdie jong mense te vang wat die diefstalle pleeg. Ek staan nie vir hulle op nie, want hulle was verkeerd. Maar hulle gaan nie ophou steel nie, solank as wat daar nie iets gedoen word aan die dwelmhandelaars nie. Ek sê nie dit wat my kind gedoen het is reg nie, maar soek die groot oorsaak voordat nog kinders en jong mense se lewens geruïneer word,” het die ma gesê.

Volgens die ma bevind sy haarself, soos baie ouers wie se kinders met dwelms worstel, in ‘n magtelose situasie. “Dit is nie net slegte ouers wie se kinders op sulke paadjies kom nie. Dit gebeur met goeie ouers se kinders ook. Vir my gaan dit nie nou oor net my eie kind nie, dit gaan vir my oor al die kinders. Ek het hierdie kinders al probeer help. Ek het by kerke gaan smeek, so ook by die polisie – orals – en gevra ‘Mense help asseblief! Nie net vir my kind nie, maar vir almal se kinders’. Ek kan vir jou baie ander kinders se name gee wat ook dwelms gebruik. Van hulle het nie eers blyplek nie. Hulle het niks nie. Hierdie jong mense word uitgemaak as die “gemors” en “skuim” van die dorp, maar niemand staan op en vra waar kan hulle help nie,” het die ma gesê.

Die ma sit op moedverloor se vlakte. “As ‘n ma sê ek eerlikwaar, ek kan nie meer nie! Al wat ek wil hê is dat die jongmense gehelp word, sodat hulle ook ‘n lewe kan hê. As dwelmverslaafdes het hulle geen lewe nie. Al wat hulle koppe vir hulle sê is om te steel om geld vir dwelms te kry,” het die ma gesê. Intussen vrees sy vir haar kind se lewe. “Ek was baie teleurgesteld en kwaad vir my kind, totdat ek besef het dit help nie jy bly kwaad en probeer nie hulp kry nie. Ek wil graag my kind help, maar jy voel magteloos! Dit voel of jou hande afgekap is. My kind het reguit vir my gesê: ‘Ma, ek gaan myself doodmaak, want ek kan nie meer hierdie dinge hanteer nie. Ek kan nie meer so aangaan nie,” het die ma gesê.

Die twee Duvenhages, Hibbert, Labuschagne en Jere se saak is uitgestel na 16 April vir ‘n borgaansoek. Van der Merwe se saak is intussen uitgestel na 3 Mei.

 
 
 

Viewed: 12673

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT