ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die tehuis se personeel en inwoners het rede gehad om bedreig te voel. In ‘n stadium het die betogers heel aggressief beskuldigings en dreigemente deur die palissadeheining geskreeu. Een van die meer aggressiewe betogers was in militêre drag geklee. Gelukkig was ‘n groot aantal polisie- en privaatsekuriteitsbeamptes teenwoordig om die betogers in toom te hou.  

Ons Tuiste in die ANC se visier

Date: 10 April 2021 By: Andries van Zyl

Terwyl die politiekery rondom bewerings van rassisme by Ons Tuiste Ouetehuis om Louis Trichardt voortduur, is die tehuis se 76 bejaardes dié wat tans die prys daarvoor betaal. Vir hulle het verlede Donderdag benoude oomblikke opgelewer nadat ‘n groot skare betogers voor die tehuis vergader het.

Die “onrus” by die tehuis spruit uit klagtes van rassisme wat deur van die personeel by die tehuis teenoor die bestuur van Ons Tuiste aanhangig gemaak is en tans ondersoek word deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK). Alhoewel die klagtes spruit uit ‘n voorval in Oktober verlede jaar toe ‘n personeellid onder meer beweer het dat aparte toilette vir wit en swart personeel by die tehuis in gebruik is, is die kwessie weer op die spits gedryf toe die SAMRK op Donderdag, 18 Maart, die tehuis besoek het om die klagtes te ondersoek.

Buiten die klagte van aparte toilette vir wit en swart personeel, het die aanvanklike klagtes onder meer ook ingesluit dat swart personeel diskriminasie ondervind ten opsigte van salarisse, die kwalifikasies wat hulle benodig om aangestel te word, en die uitbetaling van jaarlikse bonusse. Die lys van klagtes het intussen ook gegroei om in te sluit dat swart personeel nie genoeg beskermende drag (PPE’s) kry om hulle teen moontlike Covid-19 infeksie te beskerm nie en dat hulle slaapkwartiere by die tehuis haglik is. (Die Zoutpansberger het in die berig “Home in race row” van 26 Maart volledig berig oor Ons Tuiste se antwoorde op al die klagtes).

Alle klagtes van diskriminasie, veral wat betref aparte toilette vir wit en swart personeel, word deur die bestuur van Ons Tuiste Ouetehuis ten sterkste ontken. Hulle het ook die tydsberekening van die SAMRK se besoek betwyfel, aangesien dit toevallig plaasgevind het tydens die land se viering van Menseregtemaand in Maart. “Hierdie is ‘n ou kwessie. Ons het reeds, soos deur die SAMRK versoek, skriftelik op die klagtes gereageer in November verlede jaar. Sedertdien wag ons om te hoor of ons skuldig is of nie.” het die bestuur gesê. Die tehuis is van mening dat die situasie niks anders is as ‘n arbeidsgeskil waarby die SAMRK nou betrek is nie.

Die tehuis se treurmare het verlede Donderdag, 1 April, voortgeduur toe ‘n groot groep betogers in ANC-drag voor die tehuis vergader het. Die rumoer het omstreeks 10:45 begin met klipharde musiek, dreunsang en dansende betogers. “Dit het so aangehou vir ongeveer vier ure. Van Ons Tuiste se personeel het gaan deelneem aan die optog saam met die reeds bestaande groep dansende mense. Met tye het die skare hard uitgeroep ‘Ons Tuiste must fall’ en ‘Kittie de Bruin must fall’,” het die tehuis se bestuurder, me. Kittie de Bruin, Dinsdag gesê. Sy sê vir die handjievol personeel wat in die ouetehuis agtergebly het om te waak oor hul weerbare inwoners was die ervaring baie traumaties. “Ons as personeel se hoofdoel is om die 76 bejaardes, waarvan 30 in ons verswakte afdeling is, te beskerm en te versorg. Maar ons het absoluut magteloos gevoel. Om die verskrikte bejaardes se beangste gesigte te sien was erg. Ons het net heeltyd probeer om almal kalm te hou. Van die bejaardes het selfs ‘n gebedsgroepie gevorm om te bid vir almal se veiligheid,” het De Bruin gesê.

Die tehuis se personeel en inwoners het rede gehad om bedreig te voel. In ‘n stadium het die betogers heel aggressief beskuldigings en dreigemente deur die palissadeheining geskreeu. Een van die meer aggressiewe betogers was in militêre drag geklee. Gelukkig was ‘n groot aantal polisie- en privaatsekuriteitsbeamptes teenwoordig om die betogers in toom te hou.  

Volgens De Bruin neem hulle aan die optog is ‘n uitvloeisel van die SAMRK se besoek in Maart, alhoewel sy nie presies weet wat die betogers se klagtes is nie aangesien hulle geen memorandum aan die tehuis oorhandig het nie. Aanvanklik was daar sprake dat die optog deur ANC-raadslede van die Makhado Munisipaliteit gereël is en dat die betogers ‘n memorandum aan die munisipaliteit oorhandig het. “Ons Tuiste is ‘n privaatinstansie en val glad nie onder die bestuur van die Makhado Munisipaliteit nie,” het De Bruin gesê.

In antwoord hierop het die woordvoerder van die Makhado Munisipaliteit, mnr. Louis Bobodi, gesê dat die munisipaliteit geensins betrokke was by die protesoptog nie en dat hulle ook geen memorandum ontvang het nie. “Kontak die ANC vir inligting oor die optog,” het Bobodi gesê.

Wat laasgenoemde betref, het die ANC se streeksekretaris, adv. Anderson Mudunungu, gereageer en gesê dat alhoewel daar geen memorandum aan die tehuis oorhandig is nie, die optog gereël is om in die openbaar steun te gee aan die personeel van die tehuis wat betref hulle klagte van rassisme. “Die ANC het ook gekom om die publiek bewus te maak dat rassisme nie geduld sal word nie en dat die ANC rassisme sal beveg waar ook al dit sy lelike kop uitsteek,” het Mudunungu gesê.

Volgens Mudunungu gaan hulle die saak verder opneem met die LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, sodat die LUR ‘n vergadering kan belê met die onderskeie rolspelers en betrokke werkers. So ‘n vergadering, het Mudunungu gesê, sal vir hulle ‘n beter begrip kan gee van wat presies by die tehuis aangaan. “Volgens die werkers weet ons nou dat slegs een rassegroep [wit] by die ouetehuis geakkommodeer word. Ons wil hê dit moet verander. Ons kan nie ‘n situasie toelaat waar openbare geld of regeringsgeld gebruik word om die praktyk van rassediskriminasie te befonds nie. Dit gaan nie gebeur nie,” het adv. Mudunungu gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1716

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT