ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Lucas Vermeulen (61). Foto verskaf.

Lucas se dood laat groot leemte in gemeenskap

Date: 09 April 2021 By: Andries van Zyl

Nog ‘n groot boom van die Soutpansberg het geval met die dood van die welbekende Lucas Vermeulen van Louis Trichardt verlede week.

“Weet jy, jy is voorbereid want jy weet wat kom. Maar die dag wat dit kom, bly dit steeds ‘n skok. Die leemte is groot en die huis is leeg,” het Lucas se vrou, Adele, gesê.

Lucas het die laaste 18 maande ‘n dapper stryd teen kanker gevoer. Hy is Woensdag, 31 Maart, in die Sungardens Hospice in Pretoria oorlede in die ouderdom van 61 jaar. Adele was tot die einde by hom gewees. Die egpaar het in Desember verlede jaar na Pretoria verhuis om nader te wees aan die mediese sentrums waar Lucas behandel is.

Baie sal vir Lucas as sakeman onthou weens sy verbintenis met die destydse LCV Promotions. Meer onlangs, tot en met sy siekte, was hy betrokke by Mona Mona Readymix. Hy het egter op alle vlakke van die samelewing ingeskakel om ‘n verskil te maak. So was hy betrokke by Ons Tuiste Ouetehuis en het hy ook in ‘n stadium op die Bergcare direksie gedien. Hy was ook vir ‘n tydperk lid van die Louis Trichardt Rotariërs. Lucas was ook ‘n groot kerkmens gewees. “Sy kerk en sy geloofslewe was vir hom belangrik. Hy was ‘n groot gelowige en sy geloof was sterk tot aan die einde,” het Adele gesê.

Lucas is op 5 November 2019 met Hodgkin's lymphoma gediagnoseer. Hy het begin met chemoterapie en in Mei verlede jaar het hy ‘n beenmurgoorplanting gekry. Aanvanklik het Lucas goed op die behandeling gereageer en was hy in remissie. “Toe, een oggend in September verlede jaar, het hy wakker geword van ‘n verskriklike hoofpyn. Die hoofpyn wou nie weggaan nie en dit het net al erger en erger geraak,” het Adele gesê. Verdere toetse sou wys dat Lucas ‘n gewas op die brein gehad het. Hy het weer begin met behandeling, maar sonder sukses.

Te midde van Lucas se stryd teen die kanker het die liefde tussen hom en Adele geblom. Die egpaar het op 31 Oktober verlede jaar besluit om die knoop deur te haak en te trou. Die twee was in totaal vir sowat vier jaar saam gewees. “Dit was vier kort jare, maar dit was vier wonderlike jare. Ons het 'n goeie lewe saam gehad. Ek sal dit altyd koester. Hy was my sielsgenoot, vriend en vertroueling tot aan die einde en hy sal altyd dit vir my wees. 'n Jintelman – altyd!” het Adele gesê.

Wyle Lucas word oorleef deur Adele, dogters Cathrine, Caroline en Pam uit sy eerste huwelik, pa Andries Vermeulen, broer Danie en susters Christina en Kleintjie. Adele het namens die familie haar opregte dank uitgespreek vir almal se omgee en woorde van vertroosting in hulle tyd van hartseer.

 

 
 
 

Viewed: 1871

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT