ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image.

Staat gekritiseer oor “voete sleep” in Groenewald-saak

Date: 03 April 2021 By: Andries van Zyl

Meer as 10 jaar ná bekende plaaslike sakeman Dawie Groenewald van Out of Africa Adventure Safaris saam met 10 ander verdagtes gearresteer is op klagte van grootskaalse renosterstropery en onwettige handel in renosterhorings, sloer sy saak steeds in die howe. Die Staat blyk egter die party te wees wat voete sleep.

Die saak het in September 2010 nie net landwyd nie maar wêreldwyd opslae gemaak. Volgens die klagstaat is Groenewald-hulle aangekla dat sy besigheidsaktiwiteite wettige en onwettige bedrywighede ingesluit het. Hy en sy medebeskuldigdes sou glo renosters onwettig onthoring, gejag en onwettig besit of verkoop het.

Groenewald se prokureur, mnr. Hennie Erwee van Musina, het die afgelope week gesê dat sy kliënt se saak op ‘n jaarlikse basis uitgestel word hangende die uitslag van ‘n Grondwetlike Aansoek wat deur Groenewald gebring het. Sou hy suksesvol wees met die aansoek, sal dit ‘n ernstige impak hê op die strafsaak teen hom. “Die strafsaak kan dus nie begin alvorens die Grondwetlike Aansoek afgehandel is nie,” het Erwee gesê.

Die Grondwetlike Aansoek volg op die suksesvolle tersydestelling van die moratorium op die handel in renosterhorings wat gebring is deur Johan Kruger en waarin John Hume later aangesluit het. Kruger en Kuhn is ook deur Erwee verteenwoordig. “Nadat die moratorium saak suksesvol afgehandel was, en die hof bevind het dat die Moratorium onregmatig was, het dit die deur oopgemaak vir die Grondwetlike Aansoek oor die tipe klagtes in die Staat se saak,” het Erwee gesê.

Volgens Erwee het die saak in Februarie vanjaar weer voor Regter Bam in die Noord Gauteng Hooggeregshof gedien. Groenewald word daar deur adv. Jaap Cilliers SC en adv. Sevenster verteenwoordig. Erwee het gesê die hof het toe ‘n ondersoek gelas om te bepaal of enige vertragingstegnieke of -aksies aan die kant van enige beskuldigde voorgekom het. Die hof het ‘n sekere proses voorgeskryf waaraan die partye moes voldoen, onder andere versoeke aan die Regter President, dokumentasie en eedsverklarings om te verduidelik wat gebeur het in die Grondwetlike Aansoek. “Slegs toe hierdie proses afgehandel is met die verskyning op 25 Maart 2021 in die Noord Gauteng Hooggeregshof voor Regter Bam, het Regter Bam pertinent op rekord geplaas dat dit baie duidelik is dat geen beskuldigde, ingesluit Groenewald, enigsins die rede is vir enige vertragings nie,” het Erwee gesê. Hy het bygevoeg dat Regter Bam van mening was dat die vertragings in die Grondwetlike Aansoek 100% voor die deur van die vervolgingsgesag geplaas kon word en het ook adv. Joanie Spies, namens die NDPP, ernstige gekritiseer oor haar en haar kantoor se hantering van sake, asook die onderskeie departemente wat respondente is in die Grondwetlike Aansoek.

Erwee het bevestig dat Regter Bam ná hul hofverskyning verlede week beveel het dat die saak uitgestel word tot 10 September vanjaar vir ‘n Nadere Besonderhede proses en ook dat alle interim aansoeke afgehandel moet wees teen Julie 2021. “In my opinie is die Grondwetlike Aansoek nog ver van afhandel en sal die saak heelwaarskynlik later in die jaar uitgestel word. Die saak, in my opinie, is nog nie reg vir verhoor nie,” het Erwee gesê.

Alle beskuldigdes in die saak se borgvoorwaardes is verleng.

 

 
 
 

Viewed: 936

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT