ADVERTISEMENT:

 

 
 

“Ons gaan nie weg vir Paasnaweek nie.” Só sê Martin en Alet Oosthuyse. “Die hoofrede is dat ons as ‘n reël nie weggaan oor sulke besige vakansietye nie. Ons hou nie van die baie verkeer en die lang rye by plekke nie,” sê hulle. Foto verskaf.

Ry jy of bly jy dié Paasnaweek?

Date: 01 April 2021 By: Pétria de Vaal

Wie ry en wie bly vir Paasnaweek? Druk die finansies of het ons inwoners steeds ‘n vrees vir die Coronavirus? Is diegene wat gaan reis bekommerd oor die virus? Die Zoutpansberger het met ‘n paar inwoners hieroor gaan gesels.

Koos Steyn sê dat hulle tradisioneel nie vir Paasnaweke weggaan nie; die paaie is te besig en in die verlede was die Sioniste ook nog op die pad tydens hierdie naweek. “Ons kinders wat studente is kom ook nie vir Paasnaweek huis toe nie (juis weens die besige paaie). Ons is ook in die middel van ons makadamia-oes en al ons werknemers gaan vir die Paasnaweek huis toe. Diefstal van makadamianeute is 'n groot probleem, en hierdie jaar is dit weer baie erg. Ons bly dus tuis om ook die plaas en neute op te pas,” sê Koos. Hy voeg by dat dit vir hulle heerlik is om tuis, op die plaas, te bly. “Hier is dit rustig en ons voel nie die gejaagdheid van die lewe daarbuite nie. Dit is 'n tyd vir ontspanning en kuier saam met vriende wat ook vir Paasnaweek tuis in die omgewing is.  Die pandemie het nie ons patroon van wat ons gewoonlik oor Paasnaweke doen verander nie, en enige verandering in die vlak van inperking sal geen effek op ons planne hê nie,” sê Koos.

Francois en Sanet Barnard bly ook tuis hierdie naweek.  Francois moet werk. “In die verlede het ons elke Paasnaweek Eiland toe gegaan saam met my ma (Elsa Louw) se familie.  My suster het altyd van Engeland af gekom, my tannie-hulle, nefie- en niggie-hulle, asook oupa van Mpumalanga. Ons almal het dan daar saam gekuier. As gevolg van Covid-19 kan my suster-hulle nie Suid-Afrika toe vlieg nie. My pa se skielike afsterwe verlede jaar het natuurlik ook ‘n groot invloed op ons familiebyeenkoms - ek weet nie of ons weer oor ‘n Paasnaweek Eiland toe sal gaan nie. Ons is dankbaar dat die President in sy toespraak Dinsdagaand nie die provinsiale grense gesluit het nie, omdat Francois gereeld spesialiste in Pretoria moet sien,” sê Sanet.

“Ons gaan nie weg vir Paasnaweek nie.” Só sê Martin en Alet Oosthuyse. “Die hoofrede is dat ons as ‘n reël nie weggaan oor sulke besige vakansietye nie. Ons hou nie van die baie verkeer en die lang rye by plekke nie,” sê hulle. “Die onsekerheid oor moontlike nuwe inperkings kan veroorsaak dat dit die planne wat gemaak is kan omkrap en dalk selfs tot gevolg het dat ‘n mens geld verloor indien besprekings gekanselleer moet word – daarom het ons geen reëlings getref nie,” sê die egpaar.

Corné Smith en gesin gaan wel weg vir die Paasnaweek weens sportverpligtinge. Hulle ry eers Jeffreysbaai toe en dan Port Elizabeth toe. Corné gaan deelneem aan skietkompetisies van The South African Practical Shooting Association (SAPSA) – geaffilieer by die International Practical Shooting Confederation (IPSC). Corné het sedert 2018 elke jaar Limpopokleure vir skiet verwerf. Hy neem deel met ‘n handwapen, geweer en haelgeweer en was die afgelope naweek die wenner by die Schyffontein-klubkompetisie. “Ry gaan ons ry. Ons het lankal planne gehad. Natuurlik sal ons steeds versigtig wees,” sê die gesin. 

‘n Familie van Levubu, wat nie hulle name genoem wil hê nie, gaan nooit oor Paasnaweek êrens heen nie – as gevolg van die swaar verkeer. “Dit is ook vir ons belangrik om tyd met naby vriende en familie deur te bring. Ons is dankbaar dat die President nie ‘n reisverbod aangekondig het nie. Indien dit sou gebeur, sou dit besigheid nog verder afwaarts dwing. Ons is nie bang vir die virus nie, ons hou by die reëls en sorg dat diegene wat met ons in aanraking kom ook daarby hou, veral by ons besigheid,” sê die familie.

Wanneer ‘n bruilof reeds drie keer uitgestel is, is dit nou tyd om deur te druk! Laurie Bannatyne en sy gesin woon ‘n troue hierdie naweek by – net mooi die vierde probeerslag sedert die uitbreek van Covid-19. “Indien reisbeperkings ingestel sou word tussen provinsies, sou dit ‘n probleem wees, want gaste kom van oraloor. Daar was selfs gaste wat oorspronklik uit Indië en Engeland die troue sou bywoon, maar wat toe noodgedwonge moes kanselleer. Ek gaan nog steeds troue toe en ek gaan steeds my wyn drink. Al is dit net ek by die troue, gaan ons dit nou hierdie keer agter die rug kry!” sê Laurie. Hy voeg  by dat die troue baie afgeskaal is en dat dit ‘n klein, intieme geleentheid in Musina gaan wees vir slegs die naaste familie. “Ons is egter gehoorsame landsburgers en sal hou by wat ook al gedoen mag word, al dan nie,” sê Laurie.

Laurie sluit af deur te noem dat finansies as gevolg van hierdie pandemie werklik ‘n probleem geword het. “Die groter omvang hiervan is vir my ‘n groter probleem as wat dit slegs vir die individu is. Ons sal egter ook hierdeur kom. Ons is op ons knieë en bid vir leiding en krag,” sê hy.

 

 
 
 

Viewed: 943

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT