ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die familie Nonnetjie-eende wat verlede Donderdag hulle opwagting in ‘n inwoner van Louis Trichardt se tuin gemaak het. Die vorige dag is ‘n ander familie Nonnetjie-eende in die inwoners se huis betrap. Waar hierdie eende vandaan kom, is egter ‘n raaisel. Foto verskaf.

Herkoms van families Nonnetjie-eende ‘n raaisel

Date: 20 March 2021 By: Andries van Zyl

Inwoners van Lous Trichardt het die afgelope paar weke ‘n paar vreemde besoekers gekry. Buiten vir ‘n hele aantal groot slange wat by ‘n paar mense kom inloer het, het een inwoner ook ‘n krokodil in haar swembad gevind. Die gedierte was wel klein, maar steeds ‘n krokodil, waarvan die herkoms steeds onseker is.

Verlede Donderdag, 11 Maart, het inwoner Narina Kunneke laat weet dat haar man die vorige dag ook vreemde besoekers in hul huis aangetref het. “Hy het een volwasse Nonnetjie-eend met vyf kleintjies in ons huis se gang gekry. Hy het die kleintjies gevang en in die tuin gesit. Hy soek toe die volwasse eend en kry dit in ‘n slaapkamer. Dié het onmiddellik gevlieg toe hy dit op die grasperk neersit,” het Narina gesê.

Dit was egter nie die einde van die eende se besoek nie. “Donderdagoggend vind ek nog twee volwasse Nonnetjie-eende en drie kleintjies in ons tuin,” vertel Narina. Wat van die ander geword het wat hulle die vorige dag in die huis gekry het, was sy nie seker nie, maar sy het vermoed hulle kruip in haar tuin weg.

Narina is welbekend vir die papegaaie en ander eksotiese voëls wat sy op haar erf aanhou. Daar is genoeg kos en ook ‘n klein dammetjies waar van haar ander watervoëls in bly. “Hulle het gou die dammetjie opgesoek en lekker daarin begin swem. Of hulle gaan bly of wegvlieg weet ek nie. Ons sal maar sien,” het Narina in daardie stadium gesê.

Teen Maandag hierdie week was haar gaste steeds heel gelukkig met hulle “nuwe” blyplek. “Ek het hulle laat gistermiddag gehoor. Bedags sien mens hulle nie juis nie. Hulle wei glo snags. Saterdag het een bo-oor die huis gevlieg en geroep. So, ek vermoed hulle kom en gaan soos hulle lus kry,” het Narina gesê.

Narina se vraag is egter waar die eende vandaan kom, aangesien hulle wilde eende is.

Oud-inwoner Barry Fourie is bietjie van ‘n voëlkenner en die Zoutpansberger het hom gepols oor die moontlike herkoms van die eende. “Hulle is redelik volop. In die broeiseisoen verloor die ouers hulle vliegvlerke en stap hulle. Dit kan ook wees dat iemand hulle aangehou het,” het Fourie gesê.

Die Nonnetjie-eend word volgens ‘n vinnige Internet-soek op Wikipedia omtrent 43–48 cm lank en kan uitgeken word aan ‘n lang, grys snawel, lang kop en langerige bene. Hulle het ‘n wit kop en kroon, met 'n swart agterkop. Die rug en vlerke is donkerbruin tot swart, en aan die onderkant swart, hoewel die flanke fyn wit lyne vertoon. Die nekkleur is bruin. Jong voëls se kop- en nekkleure is minder kontrasterend. Die wit gesig is die mees opvallende kenmerk.

Wat habitat betref, bly hulle naby varswater en reservoirs met baie plante, wat moontlik verklaar hoekom hulle so mal is oor Narina se erf. Hull spandeer ook baie tyd in die water en verkies warmer gebiede - dalk die rede hoekom hulle in die Bosveld geëindig het.

Die eende eet sade en ander plantmateriaal en Narina was reg dat hulle in die aand wei; hulle eet ook graag skulpdiertjie en krappies. Volgens die Internet-soektog kom die Nonnetjie-eend voor in die ooste van Suid-Afrika, waar hulle suid van die Sahara broei. Hulle kom egter ook in Suid-Amerika voor.

 

 
 
 

Viewed: 945

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT