ADVERTISEMENT:

 

 
 

Strome drinkwater borrel nou al vir twee weke uit onder die teeroppervlak op die hoek van Tshirululuni- en Olifantstraat. Maandag het die Vhembe Distriksmunisipaliteit gesê hulle dra geen kennis van die lekkasie nie, maar ‘n inwoner kon ‘n verwysingsnommer gee dat hy die lek reeds op 5 Maart gerapporteer het.

Genoeg water om te mors?

Date: 19 March 2021 By: Pétria de Vaal

Vir twee weke lank al stroom skoon water vanaf Tshirululunistraat in Olifantstraat in.

“Dit hou net nie op nie.  Daar is só baie water dat dit ver in die lug opspat wanneer motors verbykom. Blykbaar het die lekkasie ontstaan toe die maatskappy wat grawe vir veselkabels, ‘n waterpyp raakgekap het.” Só sê ‘n ontstoke inwoner van Olifantstraat wat nie haar naam genoem wil hê nie. Sy het menigmaal vir die grawers gaan vra wat hulle daaraan gaan doen, maar geen antwoord gekry nie.  ‘n Ander inwoner noem dat die lekkasie in Tshirululunistraat al ‘n bars in die teer veroorsaak het.

Mnr. Brian du Plooy, wyksraadslid van die DA, se opinie is in hierdie verband gevra. Hy rapporteer gedurig, soos wat hy van probleme te hore kom, die sake aan die Vhembe Distriksmunisipaliteit – wat verantwoordelik is vir waterverskaffing,  -onderhoud en alles wat daarmee gepaard gaan. Hy kry egter dikwels te doen met telefone wat nie beantwoord word nie.

“Die watersituasie en die probleme wat ons ondervind by Vhembe Distriksmunisipaliteit is geheel en al chaoties,” sê Du Plooy. Hy bevestig dat ‘n kontakpunt by die gewone plaaslike munisipaliteit wel bestaan waarheen probleme deurgegee kan word (die nooddienstenommer 087 350 2764). Kommunikasie tussen hierdie kontakpunt en Vhembe blyk egter ‘n probleem te wees. “Behalwe hierdie probleem is daar ook lekkasies op talle ander plekke. Riool wat oral uitborrel is ook ‘n groot probleem,” sê Du Plooy.

Sedert die Zoutpansberger begin ondersoek instel het hierdie week, het klagtes van lekkasies letterlik ingestroom. Probleme word onder meer ondervind op die hoek van Wolmarans- en Vorsterstraat, Kwaggastraat (twee verskillende lekkasies), Azaleastraat, Bauhiniastraat, in Celliersstraat naby die laerskool, Rooibokstraat – hierdie water loop af in Hlanganani - Springbokstraat, Jasmynstraat, en nog baie ander plekke. In Douthwaitstraat is ‘n lekkasie by ‘n watermeter en dit raak net al hoe erger. ‘n Waterlek is ook oorkant die muurbalbane in die ruigtes ontdek.

Du Plooy noem dat Vhembe self nie die materiaal het om herstelwerk te doen nie.  Slegs wanneer iemand ‘n groot geraas maak, sal kontrakteurs aangestel word wat die herstelwerk doen. “Elke dorp wat onder Vhembe val het blykbaar nou een ekstra voertuig (bakkie) bygekry, maar dit gaan nog steeds nie die probleme uitsorteer nie,” sê hy.

“Kommunikasie vanaf die owerhede is ‘n groot bron van kommer. Ons probeer om met die gemeenskap te kommunikeer oor probleme op verskeie platforms, bv. WhatsApp-groepe, Facebook-groepe en so meer. As die inligting ons nie bereik nie, kan ons egter nie ons inwoners daaromtrent inlig nie,” vervolg Du Plooy.

Hy noem ook dat ‘n groot area in die industriële gebied nou al vir ‘n jaar lank geen water het nie. Vermoedelik is sommige van die kleppe onder teer waar strate of gedeeltes daarvan herstel is. “Ons het die een keer gesien dat ‘n klep se deksel langs die pad lê waar herstelwerk aan ‘n straat gedoen is en dit is nooit teruggesit nie,” sê hy. “Die owerhede is bewus hiervan, maar sover word daar nog niks aan gedoen nie. Hulle weet nie waar die kleppe is nie.”

Du Plooy is van mening dat die bestuur van die water teruggegee moet word aan Makhado Munisipaliteit. “Geld is deur Vhembe Distriksmunisipaliteit geallokeer aan infrastruktuur in byvoorbeeld Thohoyandou en in die tussentyd is Musina en Louis Trichardt afgeskeep – om maar twee te noem,” sê hy.  

Mnr. Moses Shivhambu, woordvoerder van die Vhembe Distriksmunisipaliteit, is oor die saak gepols. Hy sê dat, sodra enige inligting aan hulle deurgegee word, die Departement Tegniese Dienste in kennis gestel word. Sou daar foto’s by wees, word dit ook deurgegee. Hierdie Departement gaan stel dan ondersoek in na die probleem.

Hoewel die probleem in Tshirululuni- en Olifantstraat al geruime tyd teenwoordig is, beweer Vhembe dat hulle teen 15 Maart nog nie daarvan geweet het nie. Shivhambu het wel van ander lekkasies verneem en hy het dit op sy beurt weer aan die Departement van Tegniese Dienste gerapporteer. Ten tye van die Zoutpansberger se gesprek met Shivhambu het hy onderneem om die probleem in Olifantstraat ook aan die tegniese dienste deur te gee. Intussen het die Zoutpansberger van ‘n inwoner in Tshirululunistraat verneem dat die lekkasie al op 5 Maart gerapporteer is en ‘n verwysingsnommer daaraan toegeken is.

Vroeër vandeesweek is ‘n persverklaring deur Vhembe Distriksmunisipaliteit uitgereik wat inwoners inlig dat, wanneer beurtkrag plaasvind, dit ‘n beduidende invloed het op die watervoorsiening, aangesien geen water gepomp kan word wanneer die krag af is nie. Verskoning word gemaak vir enige ongerief tydens beurtkrag en inwoners is gevra om geduldig onder hierdie omstandighede te wees.

Die volgende kontakbesonderhede is verkry waarheen inwoners self kan skakel om probleme met betrekking tot water en riool te rapporteer (almal van Vhembe Distriksmunisipaliteit): Eric by 082 453 6484 of 071 377 7317; Murendi by 072 317 5532 of Collin by 064 540 7183 of 060 939 4095.

 

 
 
 

Viewed: 839

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT