ADVERTISEMENT:

 

 
 

Meegaande grafiek is opgetrek deur gebruik te maak van reënvalsyfers wat beskikbaar gestel is deur Louis Trichardt inwoner mnr. Louis Nel. Dit toon Louis Trichardt se gemiddelde reënval vir die afgelope 34 jaar aan. Interessant genoeg toon die grafiek ‘n tendens aan dat die dorp se gemiddelde reënval jaarlikse bietjie toeneem.

Streek kan uitsien na besonderse reënvalseisoen

Date: 07 March 2021 By: Andries van Zyl

Met nog reën wat in die vooruitsig gestel word, is dit duidelik dat die Soutpansberg vanjaar ‘n besonderse reënvalseisoen gaan beleef. Net waar jy kyk is die damme vol, loop die riviere en bars Moeder Natuur uit haar nate van dankbaarheid. Selfs die normaalweg dorre savanna-veld agter die Soutpansberg is vanjaar lowergroen. Maar is die baie reën van die afgelope paar weke regtig so buitengewoon vir die Soutpansberg?

Die Zoutpansberger het bietjie gaan kyk hoe vergelyk vanjaar se reënval met vorige jare. Dit was egter nie so maklik nie, aangesien amptelike reënvalsyfers vir spesifieke areas nie meer so geredelik beskikbaar is soos in die verlede nie, en was dit nie vir privaat individue wat getrou boekhou van reënvalsyfers nie, sou dit feitlik onmoontlik gewees het om ‘n vergelyking te doen.

Een van die individue wat getrou reënvalsyfers aanteken, is mnr. Louis Nel van Louis Trichardt. Sy skoonpa, wyle oom Giel Nel, het sedert 1987 noukeurig rekord gehou van reënvalsyfers by sy huis in die dorp. Ná oom Giel se dood in 2019 het Louis met die “gewoonte” voortgegaan.

Louis se statistiek maak vir interessante leesstof. Die syfers wys dat teen einde Februarie vanjaar het Louis Trichardt reeds 678 mm (369 mm vir Januarie en 309 mm vir Februarie) gemeet, slegs 121 mm minder as die totale reënvalsyfer vir die dorp vir 2020 wat 799 mm was. Vir die voorafgaande vier jaar (2016 tot 2019) was die gemiddelde reënval vir die dorp sowat 750 mm per jaar.

Die jaar 2015 was ‘n besonderse droë jaar met slegs 349 mm wat op Louis Trichardt gemeet is. Dit was die laagste reënvalsyfer in die dorp in 13 jaar met die vorige laagste reënvalsyfer van 317 mm wat in 2002 gemeet is. Interessant genoeg was 2014 ‘n goeie reënvaljaar met 1 110 mm wat gemeet is. Daardie jaar het die Albasinidam se vlak ook die 100% kerf oorskry en moes die sluise oopgetrek word. Sowat twee weke gelede is die dam se sluise vir die eerste keer daarna weer oopgetrek.

Sedert 1987 tot op hede was daar net drie gevalle waar Louis Trichardt volgens die syfers meer as 1 000 mm per jaar aangeteken het. Naas 2014 het dit ook gebeur in 2009 (1 050 mm) en natuurlik tydens die vloede van 2000 (1 769 mm). Die Albasinidam se sluise moes toe ook oopgetrek word.

Louis Trichardt se droogste jaar die afgelope 34 jaar was in 1994 toe ‘n skrale 241 mm gemeet is. In die daaropvolgende jaar of twee het die Albasinidam se vlak tot gevaarlik onder die 10% kerf gedaal tot groot bekommernis van inwoners. Maar gelukkig reën dit altyd weer.

Wat gemiddelde reënvalsyfers vir Louis Trichardt betref, was die gemiddelde reënval die afgelope 34 jaar so bykans 733 mm per jaar. Die gemiddelde reënvalsyfers vir 10-jaar-periodes was 645 mm (1990 – 1999), 810 mm (2000 – 2009) en 742 mm (2010 – 2019). Interessant genoeg toon die afgelope 34 jaar se totale syfers ‘n tendens dat die dorp en onmiddellik omgewing stadig maar seker besig is om elke jaar bietjie meer reën te kry.

Wat die res van die streek betref sal die Zoutpansberger graag van inwoners wil hoor wat getrou reënvalsyfers aanteken. Een van hulle wat reeds reageer het, was mnr. Stephen Hoffman van Levubu. Levubu en die gebiede oos van Louis Trichardt kry tradisioneel meer reën, terwyl reënvalsyfer wes van Louis Trichardt en noord van die Soutpansberg weer afplat.

Alhoewel Stephen noukeurig lesings neem is sy dagboek, moet hy egter nog hierdie data van die afgelope paar jaar omskakel in digitale formaat. Wat hy wel tot sy beskikking gehad het, was ‘n opsomming van Levubu se reënval vanaf 1968 tot 1996. Levubu se gemiddelde reënval vir die periode was 971 mm per jaar. Daar was egter ‘n paar uitskiet jaar waar sowat 1 500 mm of meer gemeet is. Dit was in 1977, 1978, 1981 en 1996. Wat laasgenoemde betref, is daar dieselfde jaar 952 mm op Louis Trichardt gemeet.

Leser wat beskik oor reënvaldata van die streek word uitgenooi om dit met die Zoutpansberger te deel. Skakel gerus vir Andries by tel. 082 603 2419 hieroor.

 
 
 

Viewed: 1157

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT