ADVERTISEMENT:

 

 
 

Regs: Hierdie reuse swartmamba is verlede Donderdag deur mnr. Nico Bezuidenhout by sy huis in Mimosastraat, Louis Trichardt, met sy sweep doodgeslaan. Links: Mnr. Leon Koen met die amper drie-meter-lange swartmamba wat hy by sy huis in Azaleastraat, Louis Trichardt, geskiet het. Foto's verskaf.  

Nat weer dwing slange uit hul skuilings

Date: 05 March 2021 By: Andries van Zyl

Te oordeel aan die aantal slange wat deesdae in Louis Trichardt rondseil, sou dit baie wys wees om liefs te kyk waar jy trap.

Verlede Donderdag het mnr. Nico Bezuidenhout van die Hanglip Posduifklub ‘n yslike swartmamba van digby drie meter by sy papegaaie se hok in Mimosastraat betrap. “Ek het ‘n helse lawaai by die hok gehoor. Toe ek uitstap, sien ek hoe die mamba teen die hok probeer op seil. Ek het dadelik my sweep gegryp en hom ‘n hou gegee,” het Nico gesê. Die eerste hou het die mamba op die grond laat val en Nico het die slang met ‘n goed geplaaste tweede hou doodgeslaan.

“Ek gaan nie kanse vat met so ‘n groot gevaarlike slang nie. Die mense om my het almal honde of klein kindertjies,” het Nico gesê. Twee weke voor dit het hy ‘n kobra van bykans ‘n meter by sy voëlhok betrap. “Dit is duidelik die slange hou nou in die dorp en die mense moet versigtig wees,” het Nico gesê.

Nog ‘n swartmamba van digby drie meter het op Maandag, 8 Februarie, inwoners van Azaleastraat op hol gehad. Mnr. Leon Koen het vertel hoe sy buurman se seun gesien het hoe die reuse mamba van hulle erf na Leon se erf oorseil. Hulle het toe Leon se vrou geskakel en kort daarna het Leon die slang met ‘n haelgeweer van kant gemaak. “Met so ‘n slang vat jy nie kanse nie. Agter my bly ‘n ma met twee jong kinders,” het Leon gesê.

Plaaslike slangkenner en -vanger mnr. Jan “Slang” van Rooyen meen die deurdringende reën die afgelope paar weke speel ‘n groot rol in die huidige voorkoms van slange in die dorp. “Hulle kom soek skuiling en kos in die dorp, want hulle gate en skuilings in die bos is vol water of nat,” het Van Rooyen gesê.

Van Rooyen is ‘n groot kampvegter vir die bewaar van slange. Sy pleidooi is steeds dat slange net as ‘n finale uitweg doodgemaak moet word. “Wat mense nie verstaan nie, is dat ‘n slang jou glad nie sal pla nie. Mense veroorsaak die konflik deur die slang te nader,” het Van Rooyen gesê.

Wat laasgenoemde betref, het Van Rooyen inwoners weereens versoek om eerder met ‘n slangkenner of -vanger te skakel indien hulle las ervaar van ‘n slang. “Asseblief mense, los die slange vir mense wat weet wat om te doen as jy op een sou afkom. Die risiko om gebyt te word is nie die moeite werd nie,” het Van Rooyen gesê. In dieselfde asem het hy mense gewaarsku om versigtig te wees as hulle buite rondloop. “Veral na ‘n reënbui of teen skemer wanneer die meeste slange aktief is. As jy moet rondbeweeg, maak van ‘n flits gebruik om te kan sien waar jy trap,” het Van Rooyen gesê. Hy het inwoners weer gevra om alle slangbyte as ernstig te beskou en dadelik mediese hulp te bekom.

Vir meer inligting of hulp met probleem slange kan Van Rooyen geskakel word by tel. 067 835 0816.

 

 
 
 

Viewed: 1218

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT