ADVERTISEMENT:

 

 
 

Min mense besef dat die heel eerste vorm van melktert sy oorsprong reeds ongeveer 2 000 jaar gelede in die Rooms-Katolieke Kerk gehad het.

Onthou, Saterdag is Nasionale Melktertdag!

Date: 26 February 2021 By: Pétria de Vaal

Hoewel talle ander lande ‘n weergawe van hierdie lekkerny het, is die Suid-Afrikaanse melktert steeds bobaas – daarom dat ons Nasionale Melktertdag vanjaar op 27 Februarie vier.

“Melktert is trooskos. Ek is mal oor ‘n gebakte melktert. My kinders hou weer van die melktert met kondensmelk. Ouma het dit altyd vir hulle gemaak as iemand verjaar of vir spesiale geleenthede soos Kersfees wanneer die hele familie bymekaar is. Nou praat ons van familie-tert,” sê Heiletje le Roux, een van Louis Trichardt se inwoners.

Min mense besef dat die heel eerste vorm van melktert sy oorsprong reeds ongeveer 2 000 jaar gelede in die Rooms-Katolieke Kerk gehad het.  Daar is geëksperimenteer met ‘n tipe amandelmelk-pap wat gebruik is tydens streng vastye toe proteïne en suiwel verbode was. Die konsep is later verfyn na ‘n eiervla in ‘n broskors- of skilferkorsdeeg.

Dwarsdeur Europa kom ‘n verskeidenheid variasies voor, maar dit was die Vlaamse “Mattentaart” uit België wat saam met ons Hollandse voorouers op eie bodem geland het, wat waarskynlik die basis van melktert, soos ons dit vandag ken, gevorm het. Dit het ‘n skilferkorsdeeg gehad en ‘n vulsel soortgelyk aan gebakte kaaskoek.

‘n Hele klompie inwoners is baie lief vir melktert.

Celeste Smit sê dat hulle die gebakte kors met gekookte vulsel verkies. “Ek het een keer ‘n skilferkorsdeeg-melktert gemaak (dit was ‘n baie uitgerekte baksessie), maar ons het dit nie so baie geniet soos die tradisionele melktert nie. Dit was ook glad nie wat Armand verwag het toe ek vir hom melktert aanbied nie,” sê sy. Sy voeg by dat hulle nie ‘n familieresep het nie en graag Nasionale Melktertdag vier as hulle onthou.

“Die outydse melktert in die Kook en Geniet is ons gesin se gunsteling, ” sê Christine Venter. “Ons eet dit warm met ‘n stewige strooiseltjie kaneel. Soms is dit soetgoed na ‘n Sondagdiens, maar meermale sommer net opgedis as ‘n lekker poedinkie na ete. Ons vier Nasionale Meltertdag sommer elke tweede week!” sê sy.

Anel van der Walt en gesin hou van die gebakte melktert, asook die een wat vla-tert genoem word “soos wat my ma dit maak (ongelooflik lekker),” sê Anel. Haar man, Garth, hou op sy beurt weer van die gebakte sjokolade melktert as ‘n nagereg. “Ons weet nie regtig wanneer melktertdag is nie, maar ons almal is mal daaroor en sal elke dag melktert eet as ons kon,” voeg sy by.

Albé Engelbrecht glo aan haar moeder se resep: kondensmelk-melktert met Tennisbeskuitjie-koekies, terwyl Monica Botha en haar gesin dol is oor die outydse soort met ‘n botterkors en melkvulsel.  “Ons het nie ‘n familieresep nie, hoewel my oorlede pa my geleer melktert bak het,” sê Monica.

“Wie vier nou nie Melktertdag nie? Enige geleentheid vir 'n ietsie lekker.” Helen Hugo is aan die woord. Sy en haar gesin is beslis die outydse manier van maak se grootste aanhangers – die gebakte kors met gekookte vulsel. “Ek het self al vele kere probeer om dit te maak, maar dit is altyd ‘n mislukking. Al is dit my skoonma se geheime resep, gee dit vir my die verskoning om dit in haar bekwame hande te los wanneer sy kom kuier,” sê Helen.

Nonna Uys Fick is dit ook eens dat die outydse gebakte melktert met gekookte vulsel die lekkerste is. Sy maak die opmerking dat sy nie grootgeword het met allerhande dae nie – net met verjaardag en Kersfees – maar sal nietemin enige tyd melktert geniet!

 
 
 

Viewed: 972

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT