ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die goeie reën die afgelope paar weke het die vlak van die Albasinidam oor die 100% gestoot met van die dam se sluise wat sedert Maandag oopgemaak moes word. Die skouspel van die donderende watermassa aan die onderkant van die damwal het vir groot toeskouerwaarde gesorg met mense wat van heinde en verre gery het om dit te besigtig. Foto: Lana Hoffman.

Vloedwater los spoor van verwoesting

Date: 26 February 2021 By: Andries van Zyl

Rampbestuur personeel van die Vhembe Distriksmunisipaliteit moes Maandag in die streek ontplooi word, nadat swaar reën die voorafgaande 24 uur erge vloedskade veroorsaak het. Veral Musina en omstreke, asook woongebiede in die noordelike dele van die voormalige Venda tuisland, het erg deurgeloop.

Volgens ‘n boer van die Musina-omgewing, mnr. Riaan Dames, het sowat 200 mm reën sedert Sondagaand en Maandagoggend oor die streek uitgesak. Dit het tot grootskaalse vloede in die hele Musina-omgewing gelei. “Dit was nie eers so erg tydens 2000 se vloede nie,” het Dames Dinsdag gesê. Hy bly op ‘n plaas uit op die Maladriftpad, ‘n pad wat plek-plek heeltemal weggespoel het. Teen Dinsdagaand was baie boere en inwoners van woongebiede in die omgewing steeds afgesny van die buitewêreld. Hyself het nog sonder elektrisiteit gesit.

Die swaar reën het gepaard gegaan met ‘n erge donderstorm, een van die langste donderstorms wat nog in die streek teëgekom is. Die weer het letterlik vanaf Sondagmiddag tot Maandagoggend gedreun. Dit is vergesel met erge weerlig wat ook plek-plek skade veroorsaak het, asook vee doodgeslaan het.

Videogrepe van vloedwaters wat Maandagoggend letterlik die dorp Musina “verswelg”, het vinnig hul weg gevind tot op sosiale media platforms. Selfs die munisipale kantore is oorstroom.

‘n Inwoner van Musina, me. Connie Boshoff, het Dinsdagoggend laat weet dat hulle krag darem weer aan is en dat hulle darem weer selfoonontvangs het. Volgens haar was daar baie vloedskade aan huise en besighede. Dit was heel verstaanbaar as daar gekyk is na die foto’s en video’s wat op sosiale media versprei is. Musina se hoofstraat was amper onherkenbaar onder water. By Messina Toyota het die vloedwater teenaan die gebou opgedam. Winkelsentrums het ook deurgeloop. “Ons huis se dak het erge lekke opgedoen, maar ons kla nie. Dit kon erger gewees het. Ons sukkel op die oomblik net met water. Sedert gisteraand [Maandag] het ons geen water by huis of by winkel nie. Maar ek moet sê die munisipaliteit het ingespring en onder omstandighede die taak goed aangevat,” het Boshoff gesê.

Volgens Boshoff het inwoners van die Nancefield-woongebied ook baie skade gehad. Hier het riviere water letterlik huise en besighede verswelg. “Sommige mense het letterlik alles verloor wat hulle gehad het,” het Boshoff gesê.

Oos van Musina het die vloedwaters erge skade aan die Musina/Tshipise-pad aangerig  met groot dele van die pad wat weggespoel het. Berig van vloedskade is ook van woongebiede in die voormalige Venda tuisland ontvang. Ongelukkig was daar ook lewensverlies.

Volgens die polisie op Vhulaudzi buite Thohoyandou is ‘n 37-jarige vrou vroeg Maandagoggend dood, nadat haar voertuig deur vloedwater meegesleur is. Die vrou, ‘n inwoner van die Vuvha-woongebied, het kort vantevore haar kind na die Tzhedza-hoofpad gevat sodat haar kind vandaar ‘n volgende geleentheid skool toe kon kry. Op pad terug het die ma by die Mudzingarivier aangekom wat intussen sy walle oorspoel het. Sy het egter steeds die rivier probeer kruis, waarna die vloedwaters haar oorweldig het. ‘n Omstander het gesien wat het gebeur en die polisie is ontbied. Die vrou se liggaam is sowat drie kilometer vanwaar haar motor meegesleur is in boomstompe op die oewer van die rivier gevind. Met reën wat steeds vir die provinsie voorspel word, het die polisie motoriste gewaarsku om nie kanse te vat met brûe en rivierkruisings wat oorspoel is nie.

Suidwaarts het goeie reën ook oor die Soutpansberg uitgesak met reënvalsyfers van tot 80 mm en meer wat in dieselfde 24-uur periode aangeteken is. Die goeie reën die afgelope paar weke het die vlak van die Albasinidam oor die 100% gestoot met van die dam se sluise wat sedert Maandag oopgemaak moes word. Die donderende watermassa aan die onderkant van die damwal het vir groot toeskouerwaarde gesorg met mense wat van heinde en verre gery het om die skouspel te besigtig. Meeste van die vernaamste damme in die streek se vlakke staan nou oor die 100% (sien damvlakke op bladsy 6 van hierdie week se Zoutpansberger).

 
 
 

Viewed: 1219

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Musina se hoofstraat was amper onherkenbaar onder water. Foto verskaf.

Die bestuurder van hierdie voertuig, ‘n 37-jarige vrou, is Maandagoggend dood nadat sy die Mudzingarivier wat in vloed was, probeer oorsteek het. Die vloedwater het haar voertuig meegesleur. Haar liggaam is later sowat  drie kilometer vanaf die toneel in boomstompe op die rivieroewer gevind. Foto: Limpopo SAPD.

Dit was die toneel op die plaas van mnr. Riaan Dames van die Musina-omgewing Maandagoggend nadat bykans 200 mm in minder as 24 uur oor die gebied uitgesak het. Die rivier tussen sy kweekhuise is waar die pad veronderstel is om te wees. Foto: Riaan Dames.

Groot dele van die Maladrift-pad het weggespoel. Foto: Riaan Dames.

Meeste van die vernaamste damme in die streek se vlakke staan nou oor die 100%. Afgeneem is die Nzheleledam wat oorloop. Die dam het Maandag op 121,3% gestaan. Foto: Naas Pohl/Facebook.

Strate in Musina het Maandagoggend soos riviere gelyk nadat sowat 200 mm reën binne 24 uur oor die streek uitgesak het. Foto verskaf.

Oos van Musina het die vloedwaters erge skade aan die Musina/Tshipise-pad aangerig  met groot dele van die pad wat weggespoel het. Foto: Nawaz Saifee/Facebook.

Dit was die toneel op die plaas van mnr. Riaan Dames van die Musina-omgewing Maandagoggend nadat bykans 200 mm in minder as 24 uur oor die gebied uitgesak het. Die rivier tussen sy kweekhuise is waar die pad veronderstel is om te wees. Foto: Riaan Dames.

Oos van Musina het die vloedwaters erge skade aan die Musina/Tshipise-pad aangerig  met groot dele van die pad wat weggespoel het. Foto: Nawaz Saifee/Facebook.

Meeste van die vernaamste damme in die streek se vlakke staan nou oor die 100%. Afgeneem is die Nzheleledam wat oorloop. Die dam het Maandag op 121,3% gestaan. Foto: Naas Pohl/Facebook.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT