ADVERTISEMENT:

 

 
 

Cobus van der Goot staan op die plek in Makhado Crossing sentrum in Louis Trichardt waar hy Maandag deur twee mans van ‘n groot som kontant beroof en met ‘n vuurwapen gedreig is.

Sakeman in Makhado Crossing beroof

Date: 25 February 2021 By: Denise van Bergen

Louis Trichardt sakeman mnr. Cobus van der Goot het ‘n noue ontkoming gehad nadat hy in die Makhado Crossing-winkelsentrum beroof en met ‘n vuurwapen gedreig is.

Van der Goot was Maandag op pad om sy onderneming se geld te gaan bank. Hy sê dat hy dit nooit op dieselfde dag of tyd doen nie, juis as sekuriteitsmaatreël, en het die geld in ‘n rugsak gedra.

Toe hy egter die sentrum binnegaan, het ‘n man hom van agter genader en die rugsak van sy skouer afgeruk. Van der Goot het omgeswaai en reg in die loop van ‘n vuurwapen gekyk. Hy kon nie sê of dit ‘n rewolwer of pistool was nie. “Mens registreer nie sulke dinge in so ‘n oomblik nie,” het hy gesê.

Van der Goot het vertel dat die man die vuurwapen vir enkele sekondes op hom gerig gehou het, moontlik om te sien wat sy reaksie gaan wees en of hy aksie sou neem. Die man het toe omgedraai en saam met sy medepligtige (wat ook gewapen was) by die uitgangsdeur uitgehardloop. Van der Goot het uitgeroep en die mans agterna gesit. Toe hy buite kom was die mans reeds ‘n paar meter van hom af. Een van die mans het na hom gekyk, sy vuurwapen gerig en ‘n skoot afgevuur, voordat hulle in ‘n voertuig gespring en weggejaag het.

“Dit het so vinnig gebeur,” het Van der Goot aan die Zoutpansberger gesê. Alhoewel hy van ‘n groot bedrag geld beroof is, sê hy dat hy dankbaar is dat hy met sy lewe daarvan afgekom het.

Die polisiewoordvoerder op Louis Trichardt, konst. Irene Radzilane, het die voorval bevestig en gesê dat ‘n saak van gewapende roof ondersoek word. Die polisie is steeds op soek na twee onbekende verdagtes wat weggejaag het in ‘n goue Toyota Etios met geen nommerplaat op nie. Hulle is albei gewapen.

Die polisie doen ‘n beroep op die publiek om te alle tye paraat te wees en vra dat enigiemand wat hulle met nuttige inligting kan help na vore sal kom.

Die ondersoekbeampte, Sers. Tshifiwa Netshia, kan gekontak word by tel. 066 263 4915.

 
 
 

Viewed: 3645

 

 
 

Denise van Bergen

Denise van Bergen joined the Zoutpansberger/Limpopo Mirror in November 2020. She has previous experience as a journalist working for Die Pos in Modimolle.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT