ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Hardus Linde (29). Foto verskaf.

Bekende jong boer sterf in motorongeluk

Date: 12 February 2021 By: Andries van Zyl

Familie en vriende het die afgelope naweek met groot hartseer afskeid geneem van die 29-jarige Hardus Linde van Louis Trichardt wat vroeg Saterdagoggend op slag dood is in ‘n motorongeluk op die N1, sowat ses kilometer vanaf Bandelierkop.

“Hardus was ‘n boerseun in murg en been en het elke oggend opgestaan met ‘n passie om te boer.  Hy was ‘n hardkoppige mens gewees, maar ‘n goeie mens en het nie ‘n dag gegaan sonder die Here nie,” het sy vrou Bianca gesê.

Hardus was ten tye van die ongeluk op pad terug huis toe. Niemand weet presies wat gebeur het nie, maar Hardus se voertuig het van agter met ‘n swaar vragmotor gebots. Die ongeluk het op ‘n blinde hoogte plaasgevind.

Om te boer was van kleintyd af deel van Hardus se lewe gewees. Hy het grootgeword op Dendron waar sy ouers met aartappels geboer het en hy sou later sy skoolloopbaan by die CVO-skool op Vivo voltooi.

Hardus en Bianca het die afgelope vier jaar net buite Louis Trichardt geboer waar hulle grond gehuur het op die Rondebosch-plotte. Hulle het hoofsaaklik met suikerboontjies en ander groente geboer, maar ook voer geplant.

“Hardus het diep spore in elke liewe persoon met wie hy in aanraking gekom het se harte getrap. Hy was ‘n opregte mens gewees. Soos jy hom vandag sien, so sien jy hom môre,” het Bianca gesê.

Huldeblyke vir Hardus het ná sy dood van orals ingestroom.

“Hy was ‘n goeie professionele jagter, een van ons bestes. Hy het altyd met sy bokke teruggekom. Partykeer het hy deur die nag gejag. Hy het altyd sy kliënte eerste gestel en hulle het altyd hulle goed gekry. Enige ou wat saam met hom gejag het, het geweet as Hardus jag word daar geskiet. Daai man se naam het alles gesê. Hy was kliphard – wragtig ‘n smart ou. Altyd vriendelik en opgeruimd en hardwerkend. Nee hel, dit is ‘n smart ou wat ons verloor het,” het vriend en professionele jagter, Trompie Hofmeyr gesê.

Iemand wat hom egter die beste as boer beskryf het, was familievriend Elrica Smit. Sy het hulde gebring deur W.E.G. Louw se gedig, Om boer te wees aan hom op te dra. Die gedig lees:

O om ‘n boer te wees wat werk
met sy hande in die son
die liewe, lange dag; om saans
moeg terug te kom
van die lande, en te slaap
tot die rooidag deur die vensters breek,
en teen die tweede hanekraai, oor die ryp,
die ploegstert vas te hou...

O om boer te wees en te werk
in God se sonskyn en reën;
om nooit te twyfel dat Hy weet
wat die beste is; om nog te glo,
as sy hart wil breek,
en voel dat hy, boer alleen,
met God kan praat, en dank
as laag-druipend daal die reën...

“Die gedig som Hardus baie mooi op,” het Bianca gesê.

Teen druktyd was daar nog geen finale begrafnisreëlings vir Hardus getref nie. Hy word oorleef deur sy vrou Bianca, sy dogters Christi (4) en Ellé (nege maande), pa Pieter, ma Ronelle en broer Pieter (Tokka).

“Ons het so baie sterk mense wat ons bystaan en ons het groot waardering daarvoor. Almal is besig en almal spring net om te help. Die boerdery gaan aan,” het Bianca gesê.

 
 
 

Viewed: 5609

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT