ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle mnr. Janko Jankowitz, wat op 26 Januarie vanweë die gevreesde Covid-19 virus in die ouderdom van 75 jaar oorlede is. Foto verskaf.

“Hy was my held gewees en die middelpunt van my bestaan”

Date: 05 February 2021 By: 

Inwoners van die Soutpansberg het die afgelope week kennis geneem van die dood van nog ‘n bekende vanweë die gevreesde Covid-19 pandemie, die alombekende mnr. Janko Jankowitz. Hy het sy laaste asem op 26 Januarie uitgeblaas in die Zoutpansberg Privaathospitaal, dieselfde plek waar hy sy eerste asemteug gegee het 75 jaar gelede, toe dit ‘n kraaminrigting was.

Janko is op 15 Maart 1945 as die oudste seun van Mouritz en Nelie Jankowitz gebore. As jong seun het hy op die plaas Morningside naby die Hendrik Verwoerd tonnels gewoon, asook op Alicedale naby Tshipise en die plaas Middelfontein. Hy het sy laer- en hoërskoolloopbaan op Louis Trichardt voltooi en was ‘n uitblinkstudent en uitstekende rugbyspeler.

Ná skool het Janko sy vakleerlingskap en ambag as ‘n motorwerktuigkundige voltooi. Hy het by Werda Motors gewerk, asook by Frans Kelly, tot en met die dag van sy aftrede op 55 jaar. Mense beweer dat hy so ‘n goeie motorwerktuigkundige was, dat hy net met die aanskakel van jou motor presies vir jou kon sê wat fout was.

Janko is in Februarie 1979 met Mariaan Botha getroud en daardie selfde jaar in Desember is dogter Yolandé gebore. Ongelukkig sou die huwelik nie uitwerk nie en vyf jaar later is die egpaar geskei.

“My pa was welbekend as die sterkste man in Louis Trichardt. Hy was mal oor rugby, visvang en jag, en ek dink dit is hoe mense hom onthou. Hy was ook baie bekend by Tshipise en het altyd in die warm swembad uitgehang,” vertel Yolandé.

Volgens Yolandé was haar pa baie lief vir grappies maak, het altyd gelag tot vir sy eie grappe. “Hy kon ‘n regte harde koejawel met tye wees en het altyd sy eie kop gevolg. Maar ek was baie lief vir hom gewees, want hy was altyd daar vir my. Ek en hy het baie saam gaan jag en visvang en ons kuiers saam was om Saterdae rugby te kyk,” onthou Yolandé.

Yolandé sê hy het veral ‘n nou band gehad met sy twee kleinseuns, Jeandré en Johan Fourie. “Vir hulle was hy oupa Toekoe Toek, ‘n bynaam wat hulle hom gegee het omdat hy ons altyd kom haal het as ons met die trein Johannesburg toe gery het. Hulle wou so graag saam met hom gaan visvang het, maar in daardie stadium was sy Parkinson’s al te erg gewees. Hy het altyd vir hulle stories vertel en saam met hulle gespeel. Hy het beslis ‘n groot invloed op die twee gehad,” het Yolandé gesê.

Die laaste paar maande was vir Yolandé-hulle ‘n moeilike tydperk. “My pa het in 2019 ‘n beroerte gehad, waarna ons dit goed gedink het om hom in Ons Tuiste Ouetehuis onder sorg te plaas. Hy was soms baie moeilik, met die dat hy demensie en Parkinson’s gehad het. Soms het hy my en die ander staf teen die mure uit gedryf. Maar ek was daar die laaste twee jaar elke liewe dag. Ek het hom sien agteruitgaan en swakker word. Hy het nog laasjaar sy 75ste verjaarsdag in die ouetehuis gevier,” sê Yolandé, wat self ‘n personeellid by Ons Tuiste is.

Yolandé het gesê sy weet nie hoe haar pa Covid-19 opgedien het nie. “Hy het baie swaar gekry en dokter Stroebel het hom laat opneem in die hospitaal. Hy het koors, bloedklonte, swak asemhaling en al die ander goed wat met die siekte gepaard gaan, gehad Hy het geveg, maar op 26 Januarie het hy die stryd verloor. Dit is vir my baie swaar om te weet ek gaan hom nooit weer sien nie. Hy was my held gewees en die middelpunt van my bestaan. Hy was ‘n pa 1000,” sê Yolandé.

Yolandé het haar dank uitgespreek teenoor Ons Tuiste se personeel en veral die siekeboeg se personeel vir die laaste twee jaar se liefde en sorg, al was haar pa soms moeilik. “Ek wil ook dankie sê aan dr. Stroebel en die Zoutpansberg Privaathospitaal se personeel vir die sorg en harde werk van die laaste week. Ook ‘n dankie aan sy familie vir die hulp met sy begrafnis,” sê Yolandé.

Wyle Janko word oorleef deur sy dogter, Yolandé Fourie, skoonseun Barend Fourie, kleinkinders Jeandré en Johan Fourie, broer en skoonsuster Ben en Wilma Jankowitz, broer en skoonsuster Chris en Denise Jankowitz asook sy suster en swaer Petro en Johan Marais.

 

 
 
 

Viewed: 2083

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT