ADVERTISEMENT:

 

 
 

Links: Dit is hoe die sypaadjie rondom die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente daar uitgesien het, nadat 'n veselkabelmaatskappy hul kabels gelê het. Regs: Inwoner Natasja Thompson het hierdie foto geneem om te wys hoe veselkabel-werkers waterpype voor haar huis in Erasmusstraat stukkend gekap het. Foto's verskaf. 

Stop die gegrawery

Date: 05 February 2021 By: Denise van Bergen

Die Makhado Munisipaliteit het die afgelope week die werksaamhede van alle veselkabelmaatskappye in Louis Trichardt gestop weens kroniese water- en kragonderbrekings wat veroorsaak is deur werknemers van die maatskappye wat kort-kort ondergrondse waterpype of kragkabels beskadig het.

Die goedkeuring vir die aanlê van hoë-spoed Internet veselkabels is einde verlede jaar deur die Makhado Munisipaliteit aan verskeie maatskappye toegestaan. In ‘n media navraag aan munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi in Desember, het Bobodi gesê goedkeuring is aan ses maatskappye gegee. Hy kon egter nie die name van die maatskappye verskaf nie.

Die projek het haastig ‘n aanvang geneem, en klagte van beskadigde waterpype en kragkabels het kort voor lank begin instroom - blykbaar vanweë ‘n merkbare haastigheid onder veselkabelmaatskappye om so vinnig as moontlik hul kabels in die grond te kry.

Verlede Woensdag (27 Januarie) is groot dele van die dorp aan die bo-punt van Kroghstraat (in die omgewing van Mount Fuji Motors, tot by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal) vroegmiddag in duisternis gedompel. Die Zoutpansberger het ondersoek gaan instel en vasgestel dat hierdie spesifieke kragonderbreking ontstaan het as gevolg van ‘n hoogspanningskabel (11 000 Volt) wat raakgeboor is deur een van die veselkabelmaatskappye se subkontrakteurs.

Die probleem is nie ‘n maklike een om te herstel nie en die hulp van ‘n privaatkontrakteur, PD Otto Elektries, moes uiteindelik ingeroep word. PD Otto Elektries spesialiseer in hoogspanningskabels.

Teen 20:30 is elektrisiteitstoevoer na sekere huishoudings in die area herstel. Ander was minder gelukkig en teen Donderdagoggend was baie huise steeds sonder elektrisiteit. Die rede hiervoor, het mnr. Paul Otto van PD Otto Elektries by navraag verduidelik, was dat die kabel wat hulle nodig gehad het om die fout te herstel nie plaaslik beskikbaar was nie. Hulle kon egter ‘n tydelike plan maak, danksy hulp van die munisipaliteit, om die kragtoevoer teen omstreek 21:00 Donderdagaand, meer as 24 uur later, na party huishoudings te herstel. Intussen, het Bobodi gesê, is die nodige reëlings getref om die regte kabels in die hande te kry en het Otto Maandag teruggekeer om die finale herstelwerk te doen.

Die talle veselkabelmaatskappye se bedrywighede in die dorp en die ontwrigting wat hulle veroorsaak, is vir baie inwoners nie net onaanvaarbaar nie, maar ook onverstaanbaar. “Ons word omgekoop met ‘n belofte van hoëspoed Internet in ‘n dorp wat feitlik nooit water het nie en die munisipaliteit sukkel om die ligte aan te hou. Dit is absurd! Ons het absoluut geen sê gehad in ‘n besluit wat grootskaalse ontwrigting en skade aan infrastruktuur en eiendom veroorsaak nie,” het een inwoner opgemerk.

Die grootste frustrasie wat baie inwoners tans ondervind is wie nou eintlik verantwoordelik is vir die herstel van skade, sou ‘n waterpyp of kragkabel raakgekap word? Die koerant het talle klagtes ontvang van inwoners wat sê hulle is van bakboord na stuurboord gestuur wanneer hulle ‘n probleem wou rapporteer. Die kontrakteur sê dit is die munisipaliteit se verantwoordelikheid en die munisipaliteit sê die kontrakteur moet die herstelwerk doen. In die proses was sommige inwoners vir ure, en in sommige gevalle dae, lank sonder elektrisiteit.

Wat laasgenoemde betref het Bobodi gesê die munisipaliteit bly steeds verantwoordelik vir die herstel van die skade. Hy het egter verduidelik dat tegnici nie altyd onmiddellik beskikbaar is nie, aangesien hulle op ander plekke werk. Hy het ook die gemeenskap daarop gewys dat hulle steeds nie met ‘n vol personeelkorps werk nie maar op ‘n rotasie-basis vanweë die Covid-19 regulasies. Hulle ondervind dus gereeld ‘n tekort aan tegniese personeel.

Mnr. Mario Gous, projekbestuur vir Herotel, een van die veselkabelkontrakteurs wat plaaslik werksaam is, het Maandag bevestig dat hulle en al die ander kontrakteurs deur die munisipaliteit tot ‘n halt geroep is. Hulle is glo ingelig dat alle kabel aanlêwerk dadelik gestop moet word, totdat ‘n vergadering met die betrokke kontrakteurs gehou kan word om oor probleme rondom die projek te praat. Die vergadering was vir Woensdag geskeduleer, maar teen druktyd kon nie bevestig word of die vergadering al plaasgevind het nie. Gous het intussen inwoners uitgenooi om enige vrae wat hulle mag hê aan hom te rig op Louis Trichard Funkmail se Facebook-blad, of ‘n e-pos aan hom te stuur na [email protected].

Intussen het bekende plaaslike inwoner me. Inga Gilfillan besluit om in haar persoonlike kapasiteit met die munisipaliteit en kontrakteurs te vergader. Sy het inwoners gevra om haar te skakel met moontlike vrae en voorstelle wat sy aan die munisipaliteit en kontrakteurs kan voorlê in ‘n poging om die projek beter te bestuur. Een van die voorstelle is byvoorbeeld dat die veselkabelmaatskappye ‘n deposito moet inbetaal in ‘n rehabilitasiefonds om te help betaal aan skade wat inwoners mag ly vanweë die maatskappye se werksaamhede. Gilfillan kan geskakel word by tel. 072 509 3939.

 

 
 
 

Viewed: 901

 

 
 

Denise van Bergen

Denise van Bergen joined the Zoutpansberger/Limpopo Mirror in November 2020. She has previous experience as a journalist working for Die Pos in Modimolle.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT