ADVERTISEMENT:

 

 
 

Bo: Leon en wyle Carla met hul verlowing 32 jaar gelede. Onder: Sowat 29 jaar later sou Leon en wyle Carla se paaie weer kruis. Die twee is in April 2018 getroud. Foto's verskaf.

Leon dankbaar vir gelukkig tye saam met Carla

Date: 29 January 2021 By: Andries van Zyl

“Ek het tot op die einde geglo sy gaan herstel…” Dit was die hartseer woorde van die 61-jarige Leon Barnard van Louis Trichardt, wat op 23 Januarie onverwags sy vrou en die groot liefde van sy lewe, die 55-jarige Carla Barnard, aan die dood moes afstaan.

‘n Steeds bewoë Leon het Dinsdag aan die Zoutpansberger vertel hoe Carla op 13 Januarie ‘n ernstige beroerte gehad het, wat erge bloeding op die brein veroorsaak het. Weens die bloeding is sy opgeneem in die Medikliniek in Polokwane, tot verlede Woensdag (20ste) waar haar toestand tot so ‘n mate verbeter het dat sy oorgeplaas is na die Medstep-kliniek in Pretoria. Soos die noodlot dit wou hê, het haar toestand daar egter dramaties versleg en sy is omstreek 02:00 op 23 Januarie oorlede.

Te midde van die hartseer onthou Leon die goeie tye wat hy en Carla saam gehad het met ‘n opgewonde glimlag.

Min mense weet dit, maar Leon en Carla was 32 jaar gelede verloof gewees. Hulle het mekaar kort tevore ontmoet toe Carla se stiefpa, Dirk Badenhorst, wat in daardie stadium bestuurder was van die Mountain View Hotel, hom gevra het of hy vir Carla ‘n saamrygeleentheid sou gee van Pretoria na die destydse Pietersburg. Leon, wat toe in Sibasa gebly het, het ingestem.

“Dit was liefde met die eerste oogopslag!” het Leon gesê.

Maar dinge tussen die twee het ongelukkig nie uitgewerk nie. Leon en Carla se paaie het uitmekaar gegaan en met die jare is albei van hulle met iemand anders getroud. Die twee se paaie sou egter weer kruis na beide se egskeidings.

“ ‘n Paar jaar na my egskeiding het ek toevallig op Facebook gesien sy kuier by haar ma, Bebe Knoetze, in Polokwane. Dit was in Desember 2017. Ek het haar gevra vir ‘n date en die liefde het weer geblom!” het Leon gesê.

Leon en Carla het beslis nie gras onder hulle voete laat groei nie en ‘n paar maande later, in April 2018, is die twee getroud. Dit was ook toe dat Carla vanaf Pretoria na Louis Trichardt verhuis het.

“Die laaste drie jaar saam met Carla was van my gelukkigste. Sy het goed ingeskakel in die gemeenskap. Sy was baie betrokke by die MOTHs en was president van die Rotary Anns,” het Leon gesê.

As lewensmaat, sê Leon, was hulle baie geheg aan mekaar gewees. “Ek gaan haar baie mis. Sy het alles vir my gedoen. Sy was tot my persoonlike assistent by die werk,” het Leon gesê.

Teen druktyd was nog geen definitiewe begrafnisreëlings bekend nie. Leon het wel bevestig dat Carla veras sal word, waarna ‘n roudiens in ‘n latere stadium vir haar gehou sal word. Sy word oorleef deur Leon, seun Christopher, stiefseun Auren, ma Bebe en stiefpa Dirk.

“Die gemeenskap is verskriklik ondersteunend en ek waardeer dit verskriklik. Daar is te veel mense om voor dankie te sê en ek is bang ek los iemand uit. Maar baie dankie aan almal. Ek is so dankbaar dat ek en Carla die laaste paar jaar bymekaar en gelukkig kon wees,” het Leon gesê.

 
 
 

Viewed: 1794

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT