ADVERTISEMENT:

 

 
 

Lekker nat, maar gelukkig was daar nie vloede nie. Dit was hoe boorde in die Levubu-omgewing gelyk het danksy die goeie reën wat Sikloon Eloise na die streek vergesel het. Foto: Ralda van Wyk.

Dit is lekker nat!

Date: 28 January 2021 By: Andries van Zyl

Alhoewel tropiese storm Eloise wel skade in sommige dele van die streek aangerig het toe sy deur die Mosambiekkanaal oor die binneland inbeweeg het die afgelope naweek, was die Soutpansberg se landbougemeenskap gelukkig om ernstige stormskade vry te spring. Inteendeel, veral die boere het gejuig oor die reën.

“Ons het almal goeie reën gehad, waarvoor ons almal baie dankbaar is. Dit was maar droog en ons kan darem nou al sê die droogte is so half en half gebreek vir ‘n rukkie. Gelukkig was daar geen ernstige strukturele skades gewees nie. So hier en daar was daar ‘n heiningdraad of twee wat in ‘n laagte was wat platgestoot is,” het mnr. Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, ná afloop van die naweek se reënval gesê. “Dit was goeie, sagte, aanhoudende en deurdringende reën gewees,” het hy bygevoeg.

In die Levubu-omgewing het Havinga gesê dat meeste boere so ‘n rapsie meer as 100 mm oor die naweek gemeet het. “Nader aan die berg is daar ouens wat praat van tot 300 mm. Dit is hierdie reën wat die riviere volgemaak het,” het Havinga gesê.

Agter die berg, in die rigting van Tshipise, is ook goeie reënvalsyfers aangeteken. “Tussen 40 en 50 mm lyk my is die gemiddeld gewees. Op Waterpoort het almal in die omgewing van 56 mm gehad. Bandelierkop het 70 mm, miskien 80 mm, op plekke gemeet,” het Havinga gesê. Wat Louis Trichardt self betref, het baie mense op sosiale media laat weet dat hulle so tussen 80 en 110 mm oor die naweek gemeet het.

Goeie reën het ná die naweek se neerslae nog plek-plek voorgekom. Dinsdag het daar volgens Lana Hoffman sowat 40 mm in 45 minute op hul plaas op Levubu uitgesak. Dieselfde tyd het nie ‘n druppel in Louis Trichardt geval nie.

“Dit was baie goeie reën gewees en, soos ek genoem het, is ons baie dankbaar daarvoor. Maar ons moet maar versigtig wees vir die reën wat binne die volgende paar dae kan val. Die aarde is nou deurnat, en as daar nou skielik nog baie reën gaan val, dan gaan dit spoel. Dit is dan wat mens kitsvloede kry wat mense onverwags kan vang,” het Havinga gesê.

Teen druktyd was die lug nog baie vogtig, met donderstorms wat plek-plek nog uitgesak het. Intussen het die goeie reën die afgelope tyd ook damvlakke in die omgewing ‘n welkome hupstoot gegee (‘n kolom met die jongste reënvalsyfers is op p. 4 van hierdie uitgawe beskikbaar).

Alhoewel die landbougemeenskap gelukkig was om ernstige skade vry te spring, was ander minder gelukkig, met talle families in woongebiede wat wel skade gehad het (sien artikel op p.2).

 

 
 
 

Viewed: 1051

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT