ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die vraag is, hoeveel mense lees nog en watter bronne word gebruik om gesonde leesgewoontes te ontwikkel en te behou? Het die gewildheid van die digitale boek die gedrukte boek vervang?

Het tegnologie liefde vir boeke vervang?

Date: 16 January 2021 By: Denise van Bergen

Die opkoms van die Internet het buitengewone verandering in die leeskultuur gebring. In ‘n moderne samelewing het dit nou noodsaaklik geword om ‘n balans te vind tussen die ewig-groeiende tegnologie en gesonde, intellektuele groei, waarin lees ongetwyfeld ‘n baie belangrike rol speel - vernaamlik onder die jeug.

Televisie, radio, rekenaars, selfone, die Internet en die wye verskeidenheid sosiale netwerke neem daagliks ‘n groter deel van ons tyd in beslag, terwyl lees al hoe meer die agtersitplek blyk in te neem.

Studies toon egter dat mense wél nog lees, en dit bied ‘n groot mate van gerusstelling dat die ganse mensdom hom nie in die proses van intellektuele uitsterwing bevind nie. Die vraag is, hoeveel mense lees nog en watter bronne word gebruik om gesonde leesgewoontes te ontwikkel en te behou? Het die gewildheid van die digitale boek die gedrukte boek vervang? Volgens ‘n wêreldwye opname in 2019, het verkoopsyfers getoon dat die fisiese boek by verre nog oor die digitale boek koning kraai. In 2020 het die verkoop van digitale boeke egter drasties gestyg, terwyl duisende boekwinkels reg oor die wêreld hul deure moes sluit weens die Covid-19 pandemie.

Die Zoutpansberger het met Jeneane Roets, eienaar van die Boekwinkel op Louis Trichardt, gaan gesels om vas te stel of ons plaaslike lesers nog ‘regte’ boeke lees, en hoe tegnologie dié mark affekteer.  

Volgens Jeneane doen die Boekwinkel goed, ten spyte van die omstandighede rondom die huidige inperkings, en baie mense koop nog gedrukte boeke in haar winkel. Sy sê dat die digitale boek nog nie ‘n bedreiging vir die Boekwinkel inhou nie. “Almal het nie toegang tot aanlyn platforms nie, en baie lesers (vernaam ouer persone) hou van die idee om steeds ‘n boek vas te kan hou en ‘n bladsy om te kan blaai,” sê sy.

Jeneane gaan uit haar pad uit om die leeservaring vir die publiek interessant te hou en om ‘n besoek aan die Boekwinkel in ‘n avontuur te omskep. Wanneer ‘n mens deur die rakke stap, voel dit soos ‘n skatkamer wat voor jou oopgaan en elke vorm van verbeelding word geprikkel.

‘n Eindelose verskeidenheid van leesstof is hier te vinde en alhoewel die boeke grootliks tweedehands is, het hulle wel een of twee nuwe reekse vir die jonger lesers. Jeneane sê dat kliënte van alle ouderdomme die winkel besoek. Hul gewildste verkopers is fiksie en die oudste boek onder hul versameling is ‘n uitgawe van Die Bybel wat dateer uit die vroeë 1900’s. Die Boekwinkel bemark ook graag plaaslike skrywers, soos Christina Venter, Ted Uys en ander.

‘n Amper versteekte hoekie tussen die boekrakke is gerieflik ingerig met ‘n skootrekenaar en stoel, waar enigiemand kan gaan sit en luister na oudioboeke. Hierdie konsep is veral handig vir persone met siggestremdhede, soos blindes of bejaarde mense wat nie meer self kan lees nie. Hulle het bykans 200 oudioboeke om van te kies, wat ou radiostories insluit, soos Leon van Nierop se Wolwedans in die Skemer.

Die Boekwinkel spog ook met sy eie filmteater, wat sitplek het vir 20 persone op ‘n slag, en filmvertonings word weekliks aangebied. Die teater word ook gebruik om Poppekas-opvoerings vir speelgroepies aan te bied.

Verder beskik hulle oor ‘n ‘koffiekroeg’ waar mense op bespreking drie verskillende soorte filterkoffies en/of tees kan gaan proe.

Die Boekwinkel is ‘n plek waarvoor jy jou kinders lief wil maak, want in hierdie atmosfeer, so ryk aan verbeelding, sal hul passie vir lees eerstens begin wortel skiet, en hul kennis gevoed en verbreed word. Vir die volwassene is dié ‘n plek van salige ontvlugting.

 

 
 
 

Viewed: 1180

 

 
 

Denise van Bergen

Denise van Bergen joined the Zoutpansberger/Limpopo Mirror in November 2020. She has previous experience as a journalist working for Die Pos in Modimolle.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT