Wyle Harry Smith (66). Foto verskaf.

Groot Kremetartboom van Musina val

Date: 15 January 2021 By: Andries van Zyl

Viewed: 4095

Musina en die Soutpansberg in geheel is beslis armer daaraan toe met die nuus van die dood van die welbekende Harry Smith (66). In lewe was Harry ‘n legende op vele vlakke van die samelewing en geliefd onder almal.

“As daar ‘n ‘Groot Vyf’ op Musina was, was hy een van hulle gewees. ‘n Groot Kremetartboom het hier geval,” het Harry se seun Henry aan die Zoutpansberger gesê.

Harry is op 4 Januarie in die Urologiese Hospitaal in Pretoria oorlede. ‘n Paar weke vantevore het hy ingegaan vir ‘n prostaatoperasie, waartydens sy longe platgeval het. Medici kon hom weer bybring en Harry is opgeneem in die intensiewe eenheid, waar hy toe ‘n hartaanval gehad het. Na bykans 20 minute kon dokters weer Harry se hart aan die gang kry, maar omdat sy liggaam so lank sonder suurstof was, was die skade reeds gedoen. Hy was vir bykans vier weke in ‘n koma toe hy gesterf het.

Die familie is ná Harry se dood oorval met huldeblyke en boodskappe van regoor Suid-Afrika en selfs oorsee en dit was beslis ‘n getuienis van die diep spore wat Harry nie net in die streek nie, maar ook in die harte van almal wat hy ontmoet het, getrap het.

Harry Townsend Smith is op 15 Oktober 1954 gebore. As tweede generasie myner het Harry jare lank by die ou kopermyn op Musina gewerk, dieselfde myn waar sy pa gewerk het. Harry het uitgeblink in die mynwese en veral hier sy merk gelaat. Daarbenewens was hy ook boer, sakeman en soldaat.

As boer het Harry met rissies en tamaties geboer en terselfdertyd Mudzwiri Lodge op die dorp bedryf. Meeste mense sal egter die lodge onthou bloot as Harry’s, een van die gewildste kuierplekke op die dorp.

Die geskiedenis wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van Mudzwiri Lodge is ‘n interessante een. “My pa en sy vennoot het die ontspanningsklub by die kopermyn gekoop, nadat die myn gesluit het. Dit het ingesluit ‘n teater en ’n 50m swembad. In ‘n stadium het die plek egter afgebrand. Ek kan nie presies onthou wanneer dit was nie,” het Henry vertel en vervolg: “Die dak was met kreosoot geverf gewees. Op ‘n dag het iemand daar ingebreek. My pa se vennoot het gaan ondersoek instel en het ‘n sigaretaansteker aangesteek om te kan sien. Die kreosoot het vlam gevat en die vlamme het sy vennoot binne die gebou verswelg. My pa was vir jare lid van die myn se reddingspan. Hy het toe in die vlamme ingehardloop, sy vennoot uit die vlamme gaan haal en na die hospitaal om die hoek gedra. In die proses het hy erg verbrand en was vir ses maande in die hospitaal. Hy was een van die eerste mense gewees wat ‘n veloorplanting gekry het. Dit was toe nog ‘n nuwe ding.  Ná hy ontslaan is, het hy Mudzwiri Lodge gebou.” Later sou Harry die Lodge aan Kobus Botes verkoop, wat dit toe weer aan Venetia Myn verkoop het. Vanaf ongeveer 1999/2000 sou Harry se paaie weer met die mynwese kruis, toe hy aangestel is om Venetia Myn se ontspanningsklub te bestuur, ‘n taak wat hy met ywer en entoesiasme verrig het.

As soldaat, vertel Henry, het sy pa nie baie gepraat oor die oorlog in Angola nie. “Hy was wel nie skaam om vir mense te vertel dat hy sy diensplig by 2SAI op Walvisbaai in die nou Namibië verrig het nie. Daarna het hy vir jare in die kommando onder Soutpansberg Militêre gebied gedien.”

Harry was in sy jong dae ‘n uiters goeie sportman gewees. Buiten vir klubrugby, het hy ook vir Verre Noord uitgedraf op die rugbyveld. Hy is ook tydens sy weermagdae bekroon as 2SAI bokskampioen. Hy sal egter die beste onthou word vir sy absolute liefde vir rugby. “Hy was by elke dorpswedstryd en daar was min skeidsregters wat hom nie geken het nie. Tydens ‘n paar wedstryde het hy sommer die skeidsregter langs die veld ‘bymekaar’ gemaak. Hy het self tydens een wedstryd op die veld gestap om ‘n skeidsregter aan te spreek,” onthou Henry.

Nog iets waarvoor Harry onthou sal word, is sy unieke versameling kristalle wat hy onder meer uit die kopermyn gebring het. Sy versameling word gereken as een van die grootstes en bestes in die wêreld. “Mense van regoor die wêreld het na hom gekom om na sy versameling kristalle te kyk,” het Henry gesê.

Harry was ook bekend as iemand wat nie skaam was om sy geloof uit te leef nie. “Hy was lief vir almal gewees en sy gewildste gesegde was altyd: Prys die Here!” het Henry gesê. In ‘n boodskap aan die familie beaam bekende gospelsanger Franna Benade dit. “Ek het sommer geweet ek is op die regte plek as ek vir ‘n kerkkamp op Musina gegaan het en in die verte Harry hoor lag het en sê: O, Jesus het jou lief. Jesus is so goed vir ons!” het Benade gesê. ‘n Spesiale liedjie deur Benade sal ook op Harry se begrafnis as huldeblyk aan hom gespeel word. Boodskappe van vertroosting is ook aan die familie gestuur deur nog ‘n bekende gospelsanger, Julius Magan.

Dat Harry ‘n groot leemte sal laat in talle se harte met sy afsterwe is nie te betwyfel nie. In lewe was hy ‘n legende wie se familie kan spog met ‘n ryke geskiedenis in die Musina-omgewing, in so ‘n mate dat Harry Townsend Straat wat naby die ou kopermyn verbyloop na Harry se familie vernoem is.

Harry word Saterdag, 16 Januarie, vanuit die Volle Evangelie Kerk in Musina begrawe. Drie dienste sal vir hom gehou word. Weens die Covid-19 regulasies is die eerste twee dienste egter reeds vol bespreek. Die derde diens sal om 13:00 lewendig op die gemeente se Facebook-blad (VEK Musina) gestroom word. Die dienste sal waargeneem word deur dr. Hennie Kotzé van Rustenburg, wat vir jare NG-leraar op Musina was. Vir diegene wat nie die dienste kan bywoon nie, maar wel fisies wil afskeid neem van Harry sal daar ook geleentheid wees. Harry se kis sal tussen 09:00 en 09:45 buite die gemeente se ouditorium geplaas word waar mense kan verbyry en blomme plaas indien hulle graag op so ‘n wyse ‘n huldeblyk aan hom wil betoon.

Wyle Harry word oorleef deur sy vrou Linda, seun Henry, dogter Rose-Marie (met skoonseun Christopher van der Westhuizen) en twee kleinkinders. Die familie het hul opregte dank uitgespreek teenoor almal vir hulle ondersteuning en woorde van vertroosting in hierdie moeilike tyd.

 

 
 

 
 
 
 
 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: andries@zoutnet.co.za

 
 

More photos...