ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Reeks foto’s van die erge rioolstorting by ‘n woning in Groblerstraat, Louis Trichardt. Die probleem is herhaaldelik al by die Vhembe Distriksmunisipaliteit gerapporteer, maar die klagte val blykbaar op dowe ore. Die afgelope week het die Demokratiese Alliansie in Limpopo ‘n klag by die Groen Skerpioene gaan lê teen die distriksmunisipaliteit. Foto’s verskaf.

Sies Vhembe!

Date: 19 December 2020 By: Andries van Zyl

Die feestyd is in volle swang, maar vir baie is die groot vraag of inwoners van Louis Trichardt ‘n nat of droë Kersfees gaan hê? Dit het egter niks met reën te doen nie.

Mens kan maar net die sosiale media platforms dophou die afgelope paar weke, en spesifiek die laaste week, om te weet waaroor dit gaan. Inderdaad is dit die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) se onvermoë om konstant water aan die dorp en omstreke te voorsien. “Lyk my ons het vanjaar vroeër droë krane. Gewoonlik het ons eers van 20 Desember af geen water gehad nie,” het een inwoner gesê.

As daar wel water is, borrel die riool orals uit. Hoekom dit soms dae, weke en maande vat om probleme op te los, weet niemand nie. In gevalle worstel inwoners nou al jare met spesifieke rioollekke. Van die VDM se kant af is die antwoorde min. Antwoorde van die Makhado Munisipaliteit is eweneens min wat betref die kroniese kragonderbrekings wat die streeks die afgelope paar weke ervaar het – en dit is nie beurtkrag nie. 

Hierdie onvermoë van die VDM en Makhado Munisipaliteite om dienslewering te verseker ten opsigte van hul onderskeie mandate om water, riool en krag te voorsien, het Maandag oorgekook met ‘n massa protesaksie deur die Zoutpansberg Community Development Forum (ZCDF), inwoners, plaaslike sakelui en self die boerderygemeenskap (sien berig hieroor elders op die webblad).

Die afgelope twee weke het talle inwoners, wat nie die luuksheid van ‘n boorgat het nie, weer vir dae sonder water gesit. Dit volg nadat die VDM op 9 Desember aangekondig het dat ‘n pyp by beide pompstasie 2 en 3 gebars het. Inwoners van Louis Trichardt en Tshikota se opgewondenheid met die nuus dat die pype reggemaak is, was egter van korte duur. In die afwesigheid van enige kennisgewing vanaf die VDM het plaaslike DA raadslid Brian du Plooy Saterdag op die Louis Trichardt Water Shedding Facebook-blad laat weet dat die rouwater suiweringsaanleg by die Albasinidam weer onder water is. “Dit sal dinge nog erger maak vir mense wat reeds dae sonder water sit,” het Du Plooy gesê. Teen druktyd was daar steeds inwoners wat gekla het dat hulle nog steeds nie water het nie. Hierdie rouwater suiweringsaanleg was in Augustus vanjaar ook onder water en dit is moeilik om te verstaan waarom dit telkens gebeur. Aangesien die elektriese waterpompe by die aanleg nie gemaak is om onder water te funksioneer nie, moes die pompe teen groot koste vervang of reggemaak word.

Terug na die rioolprobleem. Die DA het die afgelope week twee klagte van rioolbesoedeling by die Groen Skerpioene gelê teen die VDM. Die een was vir die erge rioolprobleem by Groblerstraat 110 (sien meegaande foto’s) en die tweede van die rioolstorting op die hoek van Stubbs- en Krugerstraat. Laasgenoemde rioolstorting vind al jare plaas en vrese bestaan dat die ondergrondse watertafel in daardie area (in die omgewing van die brug in Stubbsstraat) wat boorgate voed reeds onherstelbaar besoedel is.

Soos genoem is antwoorde van die VDM oor water- en rioolprobleme min of geen. Die koerant se mees onlangse navrae hieroor was reeds op 20 Oktober aan die VDM gerig. Na talle opvolgversoeke om kommentaar te lewer, bly hierdie navrae steeds onbeantwoord. Onder meer wou die koerant weet of die gerugte waar is dat die VDM nie meer geld oor het om instandhouding te doen nie? Ons wou ook weet wat die VDM se totale begroting vir die huidige finansiële jaar beloop en hoeveel daarvan al bestee is. Dit is ‘n feit dat Louis Trichardt se water- en rioolnetwerke nie meer kan byhou met die volumes soos wat die dorp uitbrei nie. Wat dit betref is die VDM gevra of hulle enigsins planne het om dié stelsels op te gradeer? Hulle is ook gevra hoekom hulle so lank neem om waterlekke en rioolstortings wat gerapporteer word aan te spreek?

In die afwesigheid van antwoorde is dit duidelik dat inwoners maar net hoop vir ‘n nat Kersfees wat watervoorsiening betref en droë Kersfees wat riool betref. Intussen kan mens net sê: Sies Vhembe!

 
 
 

Viewed: 1300

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT