ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom Peet en tannie Nellie Pretorius het verlede Donderdag, 10 Desember, hulle 60ste huweliksherdenking gevier. In die agtergrond staan Kittie de Bruin, bestuurder van Ons Tuiste Ouetehuis, waar die egpaar tans ‘n kamer in die siekeboeg deel.

“Moenie twee dae laat verby gaan sonder om slaai te deel”

Date: 18 December 2020 By: Andries van Zyl

Die Bybel sê vir ons in Psalm 90 vers 10 dat mens maar 70 jaar, of, as ons baie sterk is, 80 jaar oud word, en in hierdie tyd ken mens baie swaarkry en leed. Hoe wonderlik is dit dan nie dat man en vrou kan terugkyk op 60 jaar se getroude lewe en sê dit is elke dag nog lekker.

Hiervan kan oom Peet en tannie Nellie Pretorius getuig. Hulle het op 10 Desember hul 60ste huweliksherdenking gevier het. Die Zoutpansberger het so vinnig by hulle gaan inloer waar hulle ‘n dubbelkamer deel in Ons Tuiste se siekeboeg. Alhoewel die jare wys, met oom Peet ‘n rype 93 jaar oud en tannie Nellie 81, is albei se geheue nog heel vars.

Die jong egpaar Pretorius het mekaar in Vereniging ontmoet. “Maar ek is eintlik ‘n Suidwester, daar van Stampriet se wêreld,” het oom Peet gesê. Tannie Nellie, wat 21 was toe hulle getroud is, het op haar beurt gesê sy is van Olifantshoek se wêreld. Tannie Nellie was ‘n onderwyseres en oom Peet “die poskantoor se polisieman”.

“Alhoewel ons in jare ‘n paar jaar verskil, verjaar ons ook op dieselfde dag, 1 Mei,” het die egpaar met ‘n glimlag gesê en mens kan duidelik nog die sprankel van liefde in hul oë sien. Oom Peet blyk ook die romantikus te wees en ‘n kranige digter.  Met entoesiasme sê hy een van sy gedigte op. Uit die laaste vers daarvan is dit duidelik dat oom Peet-hulle naby aan hulle Here leef. Die versie lui: Maar dan onthou ek ook my Heer dat U o redder my in ‘n grenselose nag, My nooit vergeet en nie verlaat het nie. Dan buig ek laag my God, want U hou wag.

Hierdie gedig, het oom Peet gesê, het hy geskryf as jong man in die Tweede Wêreldoorlog. “Ek kom nog uit die laaste oorlog uit. Ek was in Italië gestasioneer. Ek was 15 jaar oud toe ek by die weermag aangesluit het en het ná die oorlog my 18de verjaarsdag in Windhoek gevier,” onthou oom Peet. Skertsend voeg hy by dat hy hoop daar is nie meer iets soos ‘n NAT en ‘n SAP nie.

Uit oom Peet en tannie Nellie se huwelik is twee dogters, Fransie en Petro, gebore. “Daar is vier kleinkinders en ‘n hele spul agterkleinkinders,” lag die egpaar.

Die groot vraag wat almal egter altyd vra as ‘n egpaar so ‘n mylpaal in hulle lewe behaal, is: Wat is die geheim van ‘n gelukkig huwelik. Humor blyk duidelik deel te wees daarvan. “Jy moet nie twee dae laat verby gaan sonder om ‘n slaai te deel nie,” het oom Peet gesê, met tannie Nellie wat lekker saam lag. Op ‘n ernstiger noot het oom Peet egter bygevoeg: “Nee, dit is maar net die Here se genade. Vir ons was dit nie harde werk nie. Ons het mekaar dadelik gevind,” het oom Peet gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1259

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT