ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die man in die wit pak en hoed regs op die geposeerde foto, blyk ds. J.J.F. van Schoor te wees – die eerste vaste leraar van die kerk, en ook leraar tydens die bou en ingebruikneming van die kerk. Gedurendie die 100-jarige feesvieringe van die gemeente in 2006, is ‘n gedenkboek uitgegee, nl. Ons is die Stad op die Berg deur dr. Gerdrie van die Merwe VDM. Foto verskaf.

Wie kan meer lig werp op dié geskiedkundige foto’s?

Date: 13 December 2020 By: Pétria de Vaal

‘n Oud-inwoner van Louis Trichardt, nou woonagtig in Pretoria, mnr. Danie Joubert, het onlangs onder die Zoutpansberger se aandag gebring dat hy in besit is van twee foto’s wat geneem is gedurende die bou van die Haantjiekerk. Hierdie foto’s is nog nooit voorheen gesien nie, en die Zoutpansberger wil graag die mense op die foto’s identifiseer.

Joubert het gesê dat die foto’s etlike jare gelede deur ‘n mnr. A.B. van Rensburg (reeds oorlede) aan hom gegee is. Die foto’s moes geneem gewees het tussen 18 Julie 1925, toe die hoeksteenlegging plaasgevind het, en die inwyding op 26 Junie 1926.

“‘n Baken op die pad van ‘n volk se geskiedenis en ‘n stille getuienis van die nakoming van ‘n plegtige gelofte” - uittreksel uit Die Dorp Louis Trichardt deur P.H.C de Vaal. Hier word verwys na die statige kerkgebou wat op die bultjie uittroon en opsigself ‘n storie het om te vertel. Hierdie is die kerk met ‘n paar name: Haantjiekerk, NG Moedergemeente, Die Stad op die Berg en, bowenal, die Geloftekerk.

Min inwoners weet egter dat die kerk ook ‘n Geloftekerk is. Sover kennis strek is die kerk die enigste “ander” Geloftekerk naas dié een wat in Pietermaritzburg opgerig is nadat die gelofte op 9 Desember 1838 by Wasbank afgelê is – voor die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838.

Die agtergrond van die gelofte van die burgers by die Soutpansberg is die geweldige stryd van 1898 tussen die Boere en die inheemse bevolking in die landstreek. Kommandant-generaal Piet Joubert was in beheer van die republikeinse magte en op sy voorstel is ‘n gelofte aan die Here gemaak.  Dit het plaasgevind tydens ‘n biduur op 12 November 1898, nadat ‘n sitting van die krygsraad gehou is. Die belofte is gemaak dat, indien die Here die ekspedisie sou toelaat om te slaag (in hul geveg teen Mphephu), die burgers ‘n Godshuis sou oprig op die plek waar die Boerelaer gestaan het. Die beslissende geveg het op 16 November 1898 plaasgevind.

Gemeentestigting is die naweek van 23-25 Maart 1906 gevier en die eerste kerkgebou is op 20 Februarie 1909 ingewy. Die gebou was 60 voet by 30 voet (20m x10m) met steenmure en ‘n spits sinkdak.

Hierdie gebou het diens gedoen tot met die inwyding van die nuwe kerkgebou in 1926. Die argitek van die nuwe kerkgebou was Gerhard Moerdyk, een van die bekendste argitekte in Suid-Afrika.

Die pienk graniet waaruit beide hoekstene gekap is, was deel van die eerste kerkgebou van 1909 en is weer in 1926 gebruik met die bou van die huidige kerkgebou. Die klip is afkomstig van massiewe rotsblokke in Mphephu se stat, toe dit deur kommandant-generaal Piet Joubert se kanonskote getref is. Die hoeksteen is duidelik sigbaar in die buitenste portaal van die kerkgebou.

Die man in die wit pak regs op die geposeerde foto blyk ds. J.J.F. van Schoor te wees – die eerste vaste leraar van die kerk, en ook leraar tydens die bou en ingebruikneming van die kerk. Gedurende die 100-jarige feesvieringe van die gemeente in 2006, is ‘n gedenkboek uitgegee, nl. Ons is die Stad op die Berg deur dr. Gerdrie van die Merwe VDM.

Enige hulp met die identifisering van die persone op die foto sal opreg waardeer word.

 
 
 

Viewed: 1276

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

Die foto’s moes geneem gewees het  tussen 18 Julie 1925, toe die hoeksteenlegging plaasgevind het, en die inwyding op 26 Junie 1926. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT