Die 16-jarige Rynard Pretorius se eerste Lego-stel wat hy jare gelede gebou het, was hierdie seilboot wat hy vashou. Vandag staan sy ouers se huis vol van Lego-modelle, van bekende landmerke soos Tower Bridge in Londen, tot skaalmodelle van klassieke voertuie.   

Klein blokkies bring vir Rynard internasionale erkenning

Date: 12 December 2020 By: Andries van Zyl

Viewed: 823

‘n Unieke eer het ‘n jong man van Louis Trichardt te beurt geval deurdat sy Lego-model gekies is om vir ‘n jaar lank in Lego House – Home of the Brick in die stad Billund in Denemarke uitgestal te word.

Die 16-jarige Rynard Pretorius, ‘n Graad 10-leerling van Hoërskool Louis Trichardt, het Dinsdag tydens ‘n onderhoud met die Zoutpansberger opgewonde vertel hoe dit gekom het dat sy model gekies is.

Rynard het gesê dat hy van kleins af ‘n belangstelling in Legos het. “Toe ek nog klein was, het my pa vir my Duplo-blokkies gekoop. Ek het met dit gebou, maar toe hoor ek later daar is nog kleiner blokkies, die gewone Lego blokkies. My pa het toe vir my ‘n stel gekoop en vandaar af het die gogga my gebyt,” het Rynard gesê.

Wat Rynard as stokperdjie beskryf, sal ander dalk as obsessie beskryf. Orals in sy ouers se huis staan Lego-modelle rond, van bekende landmerke soos Tower Bridge in Londen, tot skaalmodelle van klassieke voertuie. Rakke en rakke van Lego-blokkies, elk volgens soort gekategoriseer, is ook oral te sien. Maar Rynard koop nie net Lego-stelle om te bou nie, hy ontwerp ook sy eie stelle op rekenaar deur middel van ‘n spesiale rekenaarprogram, Lego Studio. Dit beskik oor ‘n databasis van elke moontlik Lego-blokkie wat ooit ontwerp is, in elke moontlike kleur.

Soos Rynard se belangstelling in Lego gegroei het, het hy ook meer en meer begin oplees daaroor. Dit het hom op die spoor geplaas van ‘n Lego-webblad, https://ideas.Lego.com/. “Daar kan jy jou eie voorstelle maak vir nuwe Lego-stelle wat hulle kan uitbring. Jy stel dit bekend aan verskeie mense en hulle kan daarvoor gaan stem. As jy 10 000 stemme kry, dan kies hulle jou voorstel. Dit word egter nog nie goedgekeur nie; hulle kyk net daarna. Maar daar is ook kompetisie op die webblad, waar jy verskeie goed kan wen, soos Lego-stelle. Een van die kompetisies was jy moes iets vat wat mensgemaak is of iets wat natuurlik is en iets daaraan verander, wat dit anders maak. Dit is hoekom ek ‘n disco in die bos gemaak het met diere,” het Rynard gesê.

Laasgenoemde kompetisie is in April op die webblad geloods. Rynard het dadelik aan die werk gespring en ‘n model met die titel Monkey Rave op sy rekenaar ontwerp. Aan die begin van Mei het hy die rekenaarkonsep van sy model vir Lego deurgestuur. “Nadat hulle dit gekies het om uit te stal, het hulle my egter laat weet dat ek die model fisies sal moet bou, omdat hulle dit wil uitstal,” het Rynard gesê.

Rynard het al die blokkies wat hy nodig gehad het begin bymekaar maak. ‘n Probleem het egter opgeduik met die apies wat hy nodig gehad het. “Daar was ‘n oom in Mosselbaai, ‘n vriend, wat ook Legos bou. Ek het eers by hom gaan hoor of hy van die blokkies het, sodat ons nie hoef in te voer nie. Ek het baie van my blokkies by hom gekry, maar ons het gesukkel om die apies te kry. Hy het net ‘n paar gehad, maar dit was van sy eie goed. In die res van Suid-Afrika was daar nie ander mense wat dit verkoop nie. Ons moes toe van oorsee bestel, van Swede en Hongarye. Ons het baie lank vir daardie apies gewag, maar ons het hulle toe uiteindelik gekry. ‘n Week nadat ek die apies gekry het, het hulle die model kom haal. Hulle het al die vervoerkostes gedek,” het Rynard vertel. Dit het hom sowat vyf ure geneem om die model fisies te bou.

Rynard se Monkey Rave model word sedert September by Lego House uitgestal. Vir sy moeite het hy ook as “prys” ‘n Lego House stel ontvang wat geteken is deur die ontwerper. Hierop is hy baie trots.

Met al dié bouery sou mens dink dat Rynard ‘n loopbaan in ingenieurswese of argitektuur sou najaag. Hy wil egter ‘n ouditeur word. “…maar ek sal graag hierdie as ‘n stokperdjie wil bly beoefen. Daar is heelwat mense, oud en jonk, wat Lego-groepies vorm. Hulle deel hulle idees met mekaar en hou uitstallings regoor die wêreld,” het Rynard gesê. Intussen vaar hy baie goed in Hoërskool Louis Trichardt se nuwe vak, Ontwerp. “Baie geluk met jou internasionale erkenning, Rynard, ons is baie trots op jou!” het die skool gesê.

Legos was nog altyd ‘n gewilde geskenk, veral vir die jongspan, en met Kersfees om die draai kan pa of ma dalk net hul kleinding se verbeelding prikkel met ‘n Lego-stel, soos Rynard se verbeelding jare gelede geprikkel is.

 

 
 

 
 
 
 
 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: andries@zoutnet.co.za

 
 

More photos... 

Rynard koop nie net Lego-stelle om te bou nie, hy ontwerp ook sy eie stelle op rekenaar deur middel van ‘n spesiale rekenaarprogram, Lego Studio. Dit beskik oor ‘n databasis van elke moontlik Lego-blokkie wat ooit ontwerp is, in elke moontlik kleur.

Rynard se Lego-model, Monkey Rave, wat vir ‘n jaar lank by Lego House – Home of the Brick in die stad Billund in Denemarke uitgestal gaan word. Foto verskaf.