ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Attie Naudé (33). Foto verskaf.

Attie was enig in sy soort

Date: 11 December 2020 By: Andries van Zyl

Nuus van die dood van ‘n gewilde jong man van Louis Trichardt die afgelope week het baie inwoners moedeloos laat vra: Hoeveel slegte nuus is daar nog vir 2020...?

Die 33-jarige Attie Naudé is verlede Donderdagoggend (3de) oorlede na ‘n ongeluk op die R524 net buite Louis Trichardt. Hy sou op 14 Desember sy eerste huweliksherdenking gevier het. In stede daarvan beplan sy vrou CJ, familie en vriende nou sy begrafnis. As vertroosting verwag CJ haar en Attie se eersteling en het sy Maandag tydens ‘n sonar uitgevind dit sal ‘n dogtertjie wees.

“Ek en Attie het na ‘n dam [op ‘n plaas sowat agt kilometer uit die dorp] gaan kyk waar ons bietjie wou gaan visvang. Toe ons klaar was, het Attie ‘n motorfiets daar sien staan en vir die eienaar gevra of hy ‘n draai daarmee kan gaan ry. Hulle het gesê: Geen probleem – hulle weet hy kan ry,” het sy broer Sakkie Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Attie het vanuit die plaashek ‘n ent op in die pad in die rigting van Louis Trichardt gery. “Ek het gehoor hoe kom hy terug, want ek het gehoor hoe slack hy af. Skielik was daar ‘n slag. ‘n Vriend van my het dadelik gesê: Daar stamp hulle vir Attie,” het Sakkie gesê.

Soos die noodlot dit wou hê was dit wel Attie wat blykbaar van agter deur ‘n bakkie getref is. Sakkie-hulle was oomblikke na die tragedie op die toneel. Attie was onder die bakkie vasgepen. Ná ‘n groot gesukkel kon hulle vir Attie onder die bakkie uit kry. “Hy het nog met my gepraat, maar het swaar asem gehaal. Ek het vir hom gebid ... ‘n paar minute later is hy in my arms dood,” het Sakkie gesê.

Attie is in die destydse Nylstroom gebore en het in 2001 saam met sy familie na Louis Trichardt gekom waar hy sy skoolloopbaan aan Hoërskool Louis Trichardt voltooi het. Ná skool het hy ‘n ambag as outo-elektrisiën by Simms op Louis Trichardt begin loop. Later jare het hy homself egter as PH (professionele jagter) bekwaam, ‘n loopbaan wat hy en Sakkie aktief beoefen op beide plaaslike en internasionale vlak, met jagtogte ook in Mosambiek.

Vir Sakkie is die dood van sy broer as enigste familielid veral hartseer. Hulle was baie naby aan mekaar gewees. “Hy was enig in sy soort en bang vir niks. Hy was my alles gewees,” het Sakkie gesê. Nog een van hulle jagvriende, JW Hofmeyr, voeg op sy beurt by dat Attie sy lewe voluit gelewe het. JW se broer Trompie het weer op sy beurt bygevoeg dat hulle Attie sal onthou as iemand wat altyd tyd gehad het vir ‘n grappie. “Hy was ‘n man, ‘n bul! ‘n Regte staatmaker. Jy kon enige tyd op sy knoppie gedruk het om jou te kom help,” het Trompie gesê.

‘n Gedenkdiens vir wyle Attie vind Vrydag, 11 Desember, om 10:00 by Northgate Lodge buite Louis Trichardt plaas. “Die drag sal khaki wees - kortbroeke en pette. Dit is hoe mense hom geken het en ons wil hom graag so vereer,” het Trompie gesê.

Die familie het hul dank uitgespreek teenoor al Attie se vriende vir hulle woorde van vertroosting en ondersteuning in hierdie moeilike tyd. Dank het ook gegaan aan Mosaïek Begrafnisondernemers, Northgate Lodge vir hulle perseel, ds. Corné Burger van die NG Kerk Moedergemeente en in besonder Piet Naudé vir al die reëlings. Wyle Attie word oorleef deur sy vrou CJ, broer Sakkie en aangetroude familie.

Die oorsaak van die ongeluk vorm tans deel van 'n polisieondersoek. Sakkie-hulle het egter gesê hulle het vrede in hulle harte dat Attie nou op 'n beter plek is.

 
 
 

Viewed: 3450

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT