ADVERTISEMENT:

 

 
 

Laerskool Louis Trichardt moes die afgelope week noodgedwonge sowat 40 kinders huis toe stuur, nadat een van die skool se ouers en haar dogter positief getoets het vir die Covid-19 virus. Dit het ingesluit die skool se prefekte, wat saam met die ouers die afgelope naweek ‘n prefekte-afskeid bygewoon het.

Skool stuur leerlinge huis toe ná positiewe Covid-19 uitslag

Date: 03 December 2020 By: Andries van Zyl

Die jaar mag dalk op sy einde wees, maar die Covid-19 virus toon steeds geen teken daarvan om te kwyn nie, en gebeure die afgelope week in Louis Trichardt getuig hiervan.

Laerskool Louis Trichardt het Woensdag hul hele Graad 7Y-klas huis toe gestuur, nadat een van die leerlinge in die klas positief getoets het vir die virus. Dit volg ná ‘n skrywe aan alle ouers van die skool Dinsdag dat die skool se hele groep prefekte, 26 in totaal, asook twee onderwysers huis toe gestuur is vir 10 dae van self-isolasie. Hulle was die afgelope naweek almal op ‘n prefekte-afskeidsfunksie, ná afloop waarvan een van die ouers wat teenwoordig was positief getoets het vir die Covid-19 virus. “Ons het die prefekte en twee onderwysers as voorsorgmaatreël huis toe gestuur. Dit beteken nie dat almal van hulle die virus het nie. Vanoggend het ons gehoor dat ook die ouers wat op die afskeidsfunksie was se dogter positief getoets het. Daarom het ons besluit om haar hele klas huis toe te stuur,” het waarnemende skoolhoof Irene Adendorff Woensdag gesê.

In totaal is sowat 40 van die skool se leerlinge huis toe gestuur. Adendorff het gesê dit is in lyn met die protokol soos deur die Departement van Onderwys bepaal.

Die feit dat die kinders vir 10 dae huis toe gestuur is, beteken dat hulle nie hulle eksamens sal kan voltooi nie. Adendorff het gesê dat die kinders elkeen ‘n jaarpunt sal kry in die uitstaande vakke. “Maar ek dink nie enige van die kinders gaan sleg voel hieroor nie,” het Adendorff skertsend gesê.

Gerrit en Yolandi du Toit het ook die afgelope paar weke met die slegte kant van die virus te doen gekry. “Gerrit het sowat drie weke gelede die virus opgedoen. Alhoewel hy nie hospitalisasie nodig gehad het nie, het hy erg siek geword. Hy het miskien nie met sy asemhaling gesukkel nie, maar hy was erg moeg,” het Yolandi gesê.

Die Du Toit-egpaar is welbekend vir hul besigheid, Du Toit’s Apteek. Dié gewilde apteek moes verlede week sluit weens Covid-19. “Gerrit was in insolasie by die huis gewees. Toe hoor ons dat sy mede-apteker, Salomé Sauer, ook positief getoets het vir die virus. As voorsorgmaatreël het ons die apteek eerder gesluit,” het Yolandi gesê. Sy het bygevoeg dat sy en haar kinders ook positief getoets het vir die virus en in self-isolasie gegaan het, alhoewel hulle geensins so siek geword het soos Gerrit nie. Ná ‘n week van verliese aan inkomste het Yolandi gesê dat hulle wel Woensdagoggend weer die apteek kon oopmaak vir sake, met Gerrit terug agter die toonbank. Salomé sal vir ‘n wyle nog by die huis moet bly.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat die virus nog heel “aktief” is in Louis Trichardt. Wat dit betref het beide Adendorff en Yolandi inwoners vermaan om nie laks te word ten opsigte van die maatreëls om die verspreiding van die virus hok te slaan of te vertraag nie. Dit sluit in die nou al geykte rympie van “Dra jou masker, was jou hande gereeld en handhaaf sosiale afstand”.

 

 
 
 

Viewed: 1725

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT