‘n Voorbeeld van een van Inarié de Vaal se unieke klein skilderye langs ‘n standaard drukpotloot. Foto verskaf.

Klein kunswerkies maak groot impak op inwoners

Date: 29 November 2020 By: Pétria de Vaal

Viewed: 873

“Covid-19 en die grendeltydperk het ons almal uitgeboul.” Só sê Inarié de Vaal. Sy is ‘n boorling van Louis Trichardt en is nou, ná haar aftrede in Johannesburg, weer terug in die dorp.

“Ons was almal half lam toe die grendeltydperk aanbreek. So lief as wat ek vir skilder is, het ek om een of ander rede net nie kans gesien om ‘n groot skildery aan te pak nie,” sê Inarié. Dit is tóé dat sy met ‘n idee wat al lankal by haar posgevat het, begin eksperimenteer het. Hierdie idee was om met oorskiet-naellak skilderye te “skep”. Nie grotes nie, maar piepklein skilderytjies wat wissel in grootte van so 6cm by 8cm tot ongeveer 10cm by 10cm.

“Die idee om met hierdie medium te werk, is om ‘n bydrae te lewer tot herwinning - om ‘n  sekondêre waarde daaraan toe te ken. Glas kan maklik herwin word, maar wat word van die oorskiet-inhoud?” sê Inarié. Hierdie begaafde kunstenaar gesels verder en vertel hoe dankbaar sy in die grendeltyd was dat vriendinne reeds die afgelope twee jaar al hulle oorskiet-naellak vir haar gegee het én dat sy dit opgegaar het.  “Mens kan nie glo hoeveel verskillende kleure daar is nie,” sê sy.

Inarié het op die Internet gaan rondsoek, maar kon niks oor “Cutex-kuns”, soos ‘n goeie vriend dit noem, opspoor nie. Sy het klein skilderdoeke (wat sy in voorraad gehad het óf self gespan het) voorberei – net soos wat dit vir ‘n groot skildery gedoen word. Dit word met ‘n onderlaag behandel alvorens sy daarop begin skilder. “‘n Groot voordeel van hierdie medium is dat dit maklik droog word. Daar is natuurlik nadele ook. Die naellak kan soms té vinnig droog en taai word. ‘n Mens moet ook wag totdat ‘n gedeelte of een kleur heeltemal droog is voordat jy verder aangaan. Die walms van die naellak het tot gevolg dat ‘n mens nie té lank aanmekaar daarmee kan besig bly nie en dat ‘n masker gedra moet word – iets wat ons in elk geval moes doen!” skerts Inarié. Nog ‘n nadeel is dat ‘n mens glad nie kleure kan meng nie – nogal ‘n uitdaging vir ‘n kunstenaar wat daaraan gewoond is om byvoorbeeld ligblou te maak deur wit en ‘n donkerder blou te meng.

Die verfproses is letterlik druppeltjie vir druppeltjie. Inarié het in alle gevalle die naellakbotteltjie se eie kwassie gebruik. Elke druppel dra by tot die uiteindelike skilderytjie. “Terwyl ek hiermee besig is, is daar twee dinge wat deurentyd deur my gedagtes maal: eerstens die feit dat my oorlede ma, Marietjie de Vaal, altyd haar glasbakke, skottels en ander houers met naellak gemerk het alvorens dit na ‘n funksie toe is – sodat sy dit weer kon terugkry. Ek het in daardie tyd reeds agtergekom dat dit geweldig lank hou – letterlik jare. Tweedens voel dit vir my of ek met elke druppel (al is dit ‘n druppel in die emmer!) ‘n bydrae ten opsigte van herwinning en die bewaring van die omgewing lewer,” sê sy.

“Ek het vinnig agtergekom dat die medium wérk. Dit het ‘n mooi, blink voorkoms – asof die skildery vernis is. Dis ‘n hele avontuur om ‘n prentjie te kies wat hom daartoe leen om met naellak en ‘n dikkerige kwassie geskilder te word. Vir my is dit belangrik om iets te kies wat steeds dieselfde boodskap uitdra as ‘n groot skildery,” sê sy.

“As dit nie vir Covid-19 was nie, het ek dit dalk nooit probeer nie,” vervolg Inarié. Om in die kleine gemotiveerd te voel het vir haar baie beteken. “Klein” het haar gedra deur ‘n onseker tyd. Sy het tot die besef gekom dat haar klein skilderytjies iets was wat ten goede gebore is – teenoor die aanval van die groot virus.

Hierdie piepklein, uitsonderlike kunswerkies word gewoonlik in ‘n heelwat groter raam geraam, wat ‘n baie mooi effek het en reeds baie gewild is onder Louis Trichardt se inwoners.

Inarié het reeds voor die ouderdom van twee jaar herkenbaar begin skets. Kuns was vir jare lank net ‘n stokperdjie, hoewel dit by haar laaste werkgewer, Brenthurst Biblioteek (eiendom van die Oppenheimer-familie), handig te pas gekom het toe haar belangstelling (kuns) en akademiese kwalifikasies (Biblioteekkunde en Rekordbestuur) ineengevloei het. Beskeie noem sy dat die Oppenheimers ook van haar kunswerke besit.

Inarié is dankbaar om nou genoeg vrye tyd te hê om haar voltyds op kuns toe te spits en het reeds ‘n paar suksesvolle uitstallings in en om Louis Trichardt gehou.

Hierdie veelsydige kunstenaar werk in alle media (soos olie, akriel, grafiet) en skilder bykans enigiets, van landskappe en portretstudies tot stillewes en dierelewe. Haar grootste werke is grafietskilderye van 1 m x 1.2 m. Meer onlangs het sy begin om kremetarte te skilder – nes haar oorlede pa, Piet de Vaal. “Ek het nooit kremetarte geskilder nie. Hoewel ek altyd by my pa afgekyk het hoe hy dit doen, het ek dit as ‘heilige terrein’ beskou. Eers ná sy dood in 2013, was dit vir my asof hy my eendag die goedkeuring gegee het sodat ek daarmee kon voortgaan,” sê Inarié. Dit is juis by hom wat sy baie geleer het oor komposisie, kleurgebruik en so meer. “Dit voel werklik asof hy my lei wanneer ek kremetarte skilder,” sê sy.

Inarié beskou haarself as ‘n “medium” tussen ‘n Hoër Hand wat inspirasie gee en die skildery self. Dit voel nie vir haar asof dit sy self is wat skilder nie. Inarie skilder met hart en siel. Juis daarom is dit vir haar belangrik om die persoon wat die skildery besit, of daarna kyk, te motiveer – elke dag.  Die skildery moet beleef en ervaar word. ‘n Kunswerk kan elke dag ‘n ander boodskap, byvoorbeeld blydskap of kalmte, uitstraal – wat iemand dalk nodig het om hom of haar deur die dag te dra. Met hierdie filosofie hoop Inarié dat mense op hierdie manier ‘n stukkie van haar siel in hulle huise of werksplekke sal ervaar en dat dit werklik betekenis vir hulle inhou en nie net ‘n mooi prentjie is nie.

 

 
 

 
 
 
 
 
 

Pétria de Vaal

Email: petria@devaalanddevaal.co.za

 
 

More photos... 

Kunstenaar Inarié de Vaal het as boorling van Louis Trichardt besluit om ná haar aftrede na die Soutpansberg terug te keer. Foto verskaf.