ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 40-jarige Frans Vermaak van Louis Trichardt, afgeneem in die Pietersburg MediKliniek waar hy verlede week opgeneem is nadat hy met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer is. Die siekte het hom verlam gelaat, maar Frans is positief hy gaan die siekte volkome klop. Foto verskaf.  

Rare sindroom lê energieke jong sakeman lam

Date: 13 November 2020 By: Andries van Zyl

Familie en vriende van die 40-jarige Frans Vermaak van Louis Trichardt is optimisties dat hy volkome sal herstel nadat hy verlede week met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer is. Die siekte is ‘n rare, inflammatoriese siekte waar die liggaam se immuunstelsel vanweë ‘n verkeerde reaksie die liggaam se senuwees aanval en verlamming tot gevolg het.

Frans het min bekendstelling in Louis Trichardt en omstreke nodig. Buiten vir sy jarelange verbintenis tot die familiebesigheid, LTT Radio & Electrical Centre, is hy ook bekend as een van Tafelronde Zoutpansberg 66 se mees energieke Tafelaars.

Frans het einde Oktober saam met Kobus Otto en vriende in Mosambiek gaan kuier. “Kobus sê Frans het reeds Saterdag, 30 Oktober, gesê hy voel nie lekker nie. Sondag [31 Oktober] het hulle teruggekom en hy was by my ma-hulle [Henk en Sonet Vermaak]. Frans het vir my ma gesê sy vingers is naalde en spelde, hy kan nie sy voete voel nie en hy haal bietjie moeilik asem. Maandagoggend sewe-uur toe bel hy my pa en vra hom om hom asseblief te kom haal, want hy lê by die voordeur en kan nie loop nie,” het Frans se suster, Karien Cloete, gesê.

Frans se pa het hom gaan haal en na dr. Casper Venter geneem. “Dr. Venter het dadelik gesê dit lyk vir hom soos ‘n bakteriële infeksie. Hy is toe Polokwane toe, eers na Dokter [Sarel] Spies toe. Daar aangekom het Dokter Spies hom na Dokter [Abdul] Ahmed toe gestuur. Dié het dadelik gesê hy vermoed dit is Guillain-Barré-sindroom. Drie uur Maandagmiddag is Frans in die Pietersburg MediKliniek opgeneem. Hy kon toe nie eers meer van die bed af klim nie. Hulle het dadelik ‘n lumbale punksie gedoen en dieselfde aand nog het hulle begin met ‘n bloedplasma-uitruiling (plasmaferese),” het Karien gesê.

Frans is verlede Dinsdagmiddag, 3 November, na die kliniek se hoësorgeenheid geskuif waar hulle begin het om hom suurstof te gee. “In daardie stadium kon hy feitlik niks meer vir homself doen nie. Dit is baie moeilik om te beskryf. Hy sê dat alhoewel hy basies heeltemal verlam is, hy kan sien hy beweeg sy ledemate, maar hy kan dit nie voel nie. Die kommunikasie tussen sy brein en sy ledemaat is nie daar nie. Tot sy tong het doodgegaan. Sy neus ook. Hy het vir my ma gesê dit voel nie soos sy neus nie,” het Karien gesê.

Hierdie week het dit al heelwat beter gegaan met Frans. “Hy het baie moeilik gepraat, maar hy praat al beter. Hulle het ook al verlede Woensdag met fisioterapie begin in die hospitaal, maar net so een keer per dag. Saterdagoggend het hulle klaargemaak met die plasma behandeling. Hy is toe teruggeskuif na ‘n gewone saal,” het Karien gesê.

Karien sê dat toe hulle Sondag by hom was, hy oraait gelyk het. “Hy het net verskriklik vinnig moeg geword. Hy het so 10% gebruik gehad van sy regterarm. Oor sy linkerarm het hy bietjie beter beheer gehad. Hy kon darem sy foon vashou, maar dit val kort-kort uit sy hand. Maar dit is regtig baie inspanning vir hom. Jy kan sien hy sit alles in om sy arms te beweeg. As hy klaar is, dan slaap hy. Dan is hy stokflou,” het Karien gesê. Sy het bygevoeg dat hulle in daardie stadium ook bietjie gesukkel het met Frans se bloeddruk. “Die dokters was Sondag egter tevrede. Dit is besig om baie stadig af te kom,” het Karien gesê.

Diegene wat Frans ken, sal weet dat hy ‘n regte terggees is. Ten spyte van die siekte, het Karien gesê, is daar steeds niks fout met Frans se humorsin nie. “Hy is presies nog die Frans wat hy was. Hy is die enige glimlagte en maak grappies, maar hy is baie moeg. Hy sê dit frustreer hom dat hy nie self kan regop kom nie en niks vir homself doen nie,” het Karien gesê.

Dit kan Frans weke, maande of selfs jare neem om ten volle te herstel. “Die dokter het vir hom gesê sodra hy self kan opstaan en die sowat vier meter badkamer toe en terug kan loop, dan kan hulle praat oor huis toe gaan,” het Karien gesê.

Die ligpunt is dat Frans baie positief is. “Sy kop is op die regte plek. Dit gaan regtig elke dag beter, maar daar lê vir hom bitter harde werk voor. Ons kan niks voorspel in hierdie stadium nie, maar ons hoop vir die beste dat hy volkome sal herstel,” het Karien gesê. Almal was oorbluf oor hoe vinnig die siekte Frans platgetrek het. “As hy jou vat, dan vat hy jou vinnig. My pa het juis vir iemand gesê jy kan nie glo die mannetjie wat net nou die dag self huis toe gery het nie is dieselfde outjie wat nou nie eers sy televisie se afstandbeheer met die punt van sy vinger kan druk nie,” het Karien gesê.

Frans self het Dinsdag vanuit sy hospitaalbed laat weet dat dit goed gaan met hom. Hy het dankie gesê vir al die boodskappe en SMSe van mense wat hom sterkte toewens. Vir hom was dit 'n hoogtepunt dat hy dié dag darem weer 'n stort kon geniet, veral na 'n uiters uitputtende sessie van fisioterapie.

 

 
 
 

Viewed: 1932

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT