ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Hennie Erasmus (33). Foto verskaf.

Hennie verloor stryd teen breinkanker

Date: 30 October 2020 By: Andries van Zyl

Inwoners het Dinsdag met groot skok en hartseer verneem dat die 33-jarige Hennie Erasmus van Louis Trichardt sy kort stryd teen breinkanker verloor het.

Hennie, wat sy hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Louis Trichardt voltooi het, was vanaf 2009 tot 2012 werksaam by Alert Staal op Louis Trichardt. Nadat hulle toegemaak het en die naam verander het na Steyn Staal, was hy daar werksaam tot 2017. Hennie is daarna na Steyn Staal in Tzaneen verplaas, waar hy vanaf 2018 tot Oktober 2020 gewerk het, toe hy terug verplaas is na Louis Trichardt om by sy familie te wees.

Hennie het in Februarie vanjaar gegaan om ‘n kwaadaardige moesie op sy rug te laat uitsny en te laat toets vir kanker. Die toets het ongelukkig positief teruggekom vir ‘n melanoom. Medici het toe sy limfkliere uitgesny en ook dié weggestuur vir verdere toetse.

Terwyl hulle blykbaar nog gewag het op die uitslag van hierdie toetse, het Hennie egter begin kla van erge hoofpyne, wat so erg geraak het dat hy in April vanjaar na die MediKliniek in Tzaneen gejaag moes word. Daar aangekom, het medici vermoed dat die kanker dalk na sy brein versprei het en Hennie is verwys na Johannesburg vir verdere toetse en skanderings. Die toetse het gewys dat ‘n gewas in sy regterbrein gevorm het.

In Augustus vanjaar is begin met stereotaktiese bestraling van die gewas, wat onsuksesvol was. Intussen was hy in en uit die hospitaal. Einde September, begin Oktober, het hy sy sig begin verloor en ook epileptiese aanvalle begin kry. Hy het Saterdag, 24 Oktober, weer ‘n epileptiese aanval gekry en is opgeneem in die Zoutpansberg Privaathospitaal. Vandaar het sy gesondheid vinnig agteruitgegaan. Hy is Dinsdag net ná 02:00 in sy slaap oorlede as gevolg van die drukking op sy brein, wat net te erg was.

‘n Roudiens vir wyle Hennie vind eerskomende Saterdag om 11:00 vanuit die AGS-gemeente in Louis Trichardt plaas. Hy word oorleef deur sy ouers, Corrie en Marie Erasmus, vrou Ruanda en driejarige seuntjie Ruhan, suster Nelda Erasmus wat in Amerika bly en aangetroude familie.

 

 
 
 

Viewed: 3541

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT