ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die boom moes erg teruggesnoei word en aanvanklik is gehoop dat die ou boom behoue sou kon bly. Weens veiligheidsredes is egter besluit om die boom te verwyder.. Foto verskaf.

Spanpoging maak ligte werk van “swaar” taak

Date: 29 October 2020 By: 

Ons Tuiste Ouetehuis in Louis Trichardt se vooraansig sien deesdae heel anders daar uit nadat die laaste oorblyfsels van die reuse ou Tipoboom (Tipuana Tipo) voor die eetsaal verwyder is.

Voordat natuurliefhebbers egter op hol raak, moet genoem word dat een van die ou bosreus se reusesytakke in Julie tydens ‘n erge windstorm afgeskeur is. Gelukkig het die reusetak nie op die eetsaal geval nie, maar ongelukkig het dit ‘n besoeker aan die tehuis se kar in die parkeerterrein platgeval. Die boom moes erg teruggesnoei word en aanvanklik is gehoop dat die ou boom behoue sou kon bly. Weens veiligheidsredes is egter besluit om die boom te verwyder.

Dié taak was egter makliker gesê as gedaan en het ‘n hele spanpoging vanuit die gemeenskap gevat om die boom met wortels en al te verwyder! Vir dié doel is ‘n fondsinsamelingsprojek geloods met Elthea Schlesinger as sameroeper. Sy het die afgelope week namens Ons Tuiste haar dank uitgespreek teenoor al die besighede en persone wat ‘n bydrae gelewer het om die meer as 30-ton stomp van die gevalle boom voor die ouetehuis te verwyder en vir die plaveisel en afdakke wat daarna voor die ouetehuis opgerig is.

“Calla van Wyk en sy span van Kumo Plant Hire het die enorme taak aangepak om die 30-ton boomstomp uit te kry en het gratis die terreinvoorbereiding gedoen. Dit was onder toesig van James Strydom, in samewerking met Paul Otto van PD Otto Elektries, en Nardus Janse van Rensburg  van NF Plant Hire. Nardus het die padgruis verskaf en aangery,” het Elthea gesê.

Met behulp van Muirhead en Roux, Wouter en Leonie Meintjies, Louis en Cornea van der Walt, Ronel en Witte Beetge, Lalie en Christi Nel en ‘n paar anonieme skenkers, asook Vancrete en Sunset Shades se ruim afslag, is R70 000 vir die projek ingesamel, wat uiteindelik teen R67 400 afgehandel is. “Met die oorblywende R2 700 kon ons die palissade agter die nuwe afdakke, wat ook skade gely het onder die vallende boom, regmaak en verf,” het Elthea gesê.

Sy het ook groot dank uitgespreek teenoor Ons Tuiste inwoners Gerrie Voges en Sonia Scheepers vir hulle gratis arbeid en beplanning en vir Johan van Dyk vir sy donasie om die beskadigde tuin agter die gevalle boom weer te hervestig.

Hierdie was ‘n moeilike jaar vir Ons Tuiste en juis daarom het die inwoners groot dankbaarheid vir die steun wat die projek ontvang het. “As gevolg van Covid-19 kon Ons Tuiste se inwoners nie vanjaar met hul jaarlikse basaar hul normale R160 000 weer insamel nie. Hierdie bedrag word normaalweg gebruik om nie net instandhouding te doen nie, maar ook om veral te sorg dat die maandelikse huur vir inwoners nie buitensporig styg nie,” het Elthea verduidelik.

Daarbenewens was die bestuurder van Ons Tuiste, Kittie de Bruin, en haar personeel ook vanjaar onder geweldige Covid-19 werksdruk, veral in die siekeboeg met bykomende, onvoorsiene uitgawes en die feit dat die tehuis nie nuwe inwoners kon inneem tydens die hele grendeltyd nie. “Ons het dus nie net ekstra uitgawes gehad nie, maar ook nie die gewone inkomste uit verhuring kon inkry nie,” het Kittie gesê.

Kittie het bygevoeg dat hulle tydens die grendeltyd ook vir sewe weke ‘n krisis gehad het met ‘n gebreekte interkomstelsel. Die stelsel is gekoppel aan die kameras en noodknoppies by die beddens in die siekeboeg. “Dit was ‘n verskriklike moeilike tyd. Ons personeel was dag en nag aan’t hardloop omdat die interkom, klokkies en kameras nie gewerk het nie, want elke druk van ‘n noodknoppie in die siekeboeg kan ‘n saak van lewe en dood wees,” het Kittie gesê. “In ‘n stadium het dit gelyk asof ons R200 000 sou moes kry om die stelsel te vervang, maar gelukkig kon die fout ná weke se gesukkel, opgespoor en reggemaak word,” het sy bygevoeg.

Volgens Elthea kan inwoners van die Soutpansberg streek hulself baie gelukkig ag dat hulle ‘n ouetehuis en siekeboeg van Ons Tuiste se standaard het. “Ons ouetehuis en siekeboeg word met deernis bestuur teen ‘n werklik bekostigbare prys. In stede kan die koste tot vyf keer die prys vir dieselfde diens hef, en in baie klein dorpies van ons land het ouetehuise verval onder finansiële druk. Dit is wonderlik om eerstens naby ons ouers te kan wees (ver van hulle kinders vereensaam bejaardes dikwels) en om die gemoedsrus te kan hê dat ons ouers met deernis versorg word. In baie ander ouetehuise is dit nie so vanselfsprekend soos dit hier klink nie, en is dit vir menige kinders ‘n nagmerrie om hulle ouers nie met gemoedsrus in ‘n versorgingseenheid te kan los nie,” het Elthea gesê. Sy het weereens almal bedank vir hulle onbaatsugtige hulp. “Baie, baie dankie aan julle almal wat dit met diens en donasies vir ons moontlik gemaak het om ons ouetehuis se standaard hoog te hou en Ons Tuiste se uitstekende werk vir ons ouers en brose bejaardes te help bewaar! Sonder ‘n wonderlike gemeenskap soos julle, was dit nie moontlik nie!” het Elthea gesê.

 

 
 
 

Viewed: 829

 

 
 

 
 

More photos... 

Die reuse Tipoboom (Tipuana Tipo) voor die eetsaal wat tydens hewige rukwinde in Julie beskadig is.

Kittie de Bruin (links), bestuurder van Ons Tuiste Ouetehuis, en inwoner Gerrie Voges (regs) afgeneem voor die nuwe, ruim, geplaveide parkeerarea met skadunetafdakke voor die tehuis. Gerrie en nog ‘n inwoner, Sonia Scheepers (inlas) het gratis hul hulp en beplanning aangebied om die beskadigde tuin agter die gevalle boom weer te hervestig.

Die reusagtige wortelstelsel van die boom is met groot moeite uitgegrawe en met net soveel moeite en harde werk gelaai om weggeneem te word. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT