ADVERTISEMENT:

 

 
 

Me. Mariana Luus, bestuurder van Bergcare, saam met Bergcare voorsitter ds. Jan Pretorius, afgeneem by van die ekstra kospakkies wat Dinsdae uitgedeel word. Tans voed hierdie kospakkies ‘n gemiddeld van 300 ekstra monde per week vanweë die negatiewe impak van Covid-19.

Honger knaag steeds aan baie se mae

Date: 24 October 2020 By: Andries van Zyl

Met slegs nege weke oor tot Kersfees heers opgewondenheid in baie mense se gemoed. Dinge begin beter lyk met die land se ekonomie, wat stadig maar seker begin herstel ná die verwoesting van die Covid-19-inperkingstydperk, maar vir baie sal Kersfees 2020 steeds ‘n tyd van angs en onsekerheid wees oor waar hulle volgende maaltyd vandaan gaan kom.

Bergcare deel elke tweede Woensdag sowat 85 deernispakkies uit vir hoofsaaklik behoeftige bejaardes. Die syfer sluit 15 gesinne met kinders in. Die deernispakkies bestaan uit kos en noodsaaklike toiletware soos seep, sjampoe, deodorant en tandepasta. “Vanaf April [aan die begin van die grendeltydperk] het ons begin om Dinsdae en Vrydae grendeltyd-kospakkies uit te deel, maar vanaf Julie deel ons net Dinsdae grendeltyd-kospakkies uit,” het me. Mariana Luus, bestuurder van Bergcare op Louis Trichardt, gesê. Hierdie getal sluit hulle sowat 85 tweeweeklikse deernispakkies uit.

Aanvanklik het Bergcare begin met 39 addisionele grendeltyd kospakkies, maar dié syfer het vinnig opgeskiet na sowat 120 addisionele weeklikse kospakkies. Dié getal addisionele kospakkies per week is gehandhaaf tot die einde Julie, begin Augustus, waarna die getal stadig maar seker begin daal het namate die grendeltyd-regulasies begin verslap het.

Met die land tans op Vlak 1 van inperking kon ekonomiese bedrywighede in ‘n groot mate weer hervat. Baie mense se huislike omstandighede het egter weinig of min verander. Sedert middel September deel Bergcare steeds gemiddeld 75 addisionele grendeltyd-kospakkies uit. Die pakkies gaan hoofsaaklike aan mense wat hul werk verloor het, wie se salarisse gesny is, of wat minder verdien weens verminderde werksure.

Die aanvanklike 120 en huidige sowat 75 ekstra kospakkies per week mag dalk nie baie klink nie, maar die syfer kan dalk bietjie misleidend wees wat betref die werklike aantal  individuele monde wat gevoed word. “Ons maal die kospakkies per gesin met vier, want die gemiddelde huisgesin bestaan uit vier lede. Daar is families wat tot sewe gesinslede het. Ek dink die huidige omstandighede forseer baie mense om eerder saam te bly,” het Luus gesê.

As mens dan die sommetjie maak, het Bergcare sedert April (buiten hul sowat 85 tweeweeklikse deernispakkies) dus sowat 480 ekstra monde per week gevoed en het die syfer nou na ‘n gemiddelde getal van 300 ekstra monde weekliks gedaal, wat nog steeds ‘n ongelooflike getal ekstra honger monde is. “Daar is so een of twee mense wat dubbel kom haal [wat reeds die tweeweeklikse Woensdag kospakkie ontvang], maar 98% kom uit ‘n ander teikengroep,” het Luus gesê.  Sy het verduidelik dat die een teikengroep mense is wat reeds voor die grendeltydperk swaar gekry het. Die ander teikengroep is dié wat nou weens die grendeltydperk swaar kry.

Mens moet egter nie die positiewe miskyk nie, naamlik dat die getal ekstra weeklikse monde wat gevoed moet word wel aan die afneem is. “Baie was net vir ‘n rukkie, drie maande of so, sonder werk. Nou het hulle hul werk terug, maar is agter op skuld. Hulle is dus ekonomies aktiewe mense wat tans net bietjie swaar kry,” het Luus gesê.  Namate van hierdie mense se omstandighede weer verbeter, het Luus gesê, stel hulle Bergcare in kennis dat hulle nie meer die Dinsdag-pakkie nodig  het nie. Ander kom haal ook nie meer so gereeld nie, dalk net die laaste Dinsdag van die maand om hulle tot die volgende maand deur te sien.

Nog ‘n positiewe is dat hulle, ten spyte van die ekstra monde, altyd genoeg gehad en steeds het om uit te deel. “Ons koop niks aan vir die Dinsdag-pakkies nie. Dit is net skenkings. Net as ons dink die skenking is klaar, dan voorsien die Here weer. Dit is regtig soos die gelykenis van die vyf brode en twee vissies. Daar is altyd genoeg om uit te deel,” het Luus gesê. Dit gesê, is skenkings altyd welkom. Vir meer inligting hieroor kan Luus geskakel word by tel. 079 679 8790.

Nog ‘n plaaslike organisasie wat kospakkies aan behoeftige huisgesinne verskaf is Feed the Hungry van me. Helena van den Heever en haar vrywilligers. Helena en Bergcare probeer om ‘n duplikasie van gesinne wat met kospakkies bedien word te vermy.

“Ons deel elke Saterdag kospakkies uit. Voor die grendeltydperk het ons gekyk na sowat 380 mense, hoofsaaklik bejaardes. Vanaf die begin van die grendeltydperk het ons ‘n groot toename in nood gesien. Ons kospakkies het feitlik verdubbel. Tans verskaf ons kospakkies aan sowat 540 mense per week. Verlede week het ons 288 kratte kos gepak,” het Van den Heever gesê.

Volgens Van den Heever het hulle ekstra kospakkies ook tydens Junie/Augustus ‘n piek bereik van meer as 600 mense. “Ek het so twee of drie gesinne gehad wat kom sê het hulle benodig nie meer die kospakkies nie, maar dan kry ek weer vyf gesinne by wat kos nodig het,” het sy gesê. Sy het bygevoeg dat sy net verlede week gehoor het van ‘n plaaslike maatskappy wat 20 mense gaan aflê. “So, ek wag nog dat daardie mense by my moet uitkom.”

Te midde van ‘n oënskynlike afplatting in die getal mense wat van kospakkies afhanklik geword het weens die negatiewe impak van die Covid-19 pandemie, is Van den Heever nie baie optimisties dat dié afwaartse tendens gaan voortduur nie. “Ek het nou die dag met ‘n paar plaaslike sakemanne gepraat en hulle bespreek hierdie dinge. Volgens hulle gaan die kospakkie-nood eers in Desember ‘n piek bereik,” het Van den Heever gesê.

Vir baie gaan Desember beslis ‘n moeilike tydperk wees. “Ek het vroeër vanjaar besluit dat ons nie weer ons Kerspartytjie vir hulpbehoewende mense gaan aanbied nie. In die lig van wat ek nou gehoor het, het ons besluit om wel weer die partytjie aan te bied om Kersfees darem net bietjie meer spesiaal te maak vir diegene wat swaar trek. Ons gaan ‘n paar varke op die spit gooi en ons is nou besig om geskenkies bymekaar te maak. Ons geskenkies probeer ons prakties hou, soos ‘n sepie, tandepasta, ensovoorts. Elkeen kry ‘n skoenboks vol,” het Van den Heever gesê.

Juis om die moontlik “stormloop” oor Desember te hanteer, het Van den Heever gesê sy is nou reeds besig om werk te maak van die probleem. “Ek probeer weekliks koop wat ek moet koop en bêre die ekstra,” het Van den Heever gesê. Vir meer inligting oor haar projek kan sy geskakel word by tel. 078 077 9592.

 

 
 
 

Viewed: 856

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Me. Helena van den Heever van die Feed the Hungry projek sê hulle aanvraag na kospakkies vir behoeftige gesinne het feitlik verdubbel sedert die grendeltydperk begin het. Tans verskaf hulle kospakkies aan sowat 540 individue.  

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT