ADVERTISEMENT:

 

 
 

Leonie, afgeneem tydens die toetsing van die gehoorapparaat op 8 Oktober. Foto verskaf.

Ná 46 jaar sal Leonie weer kan hoor

Date: 18 October 2020 By: Pétria de Vaal

“Skenk groot asseblief gehoorapparate wat nie meer gebruik word nie.” Só doen Leonie Oberholzer ‘n beroep op lesers. Sy is baie, baie opgewonde oor die feit dat sy ‘n gebruikte gehoorapparaat van ‘n anonieme skenker af gekry het.

Leonie is van kindsbeen af doof in haar linkeroor en het slegs 25% gehoor in haar regteroor. Sy het as gevolg van masels wat sy op ‘n baie jong ouderdom opgedoen het - so het die dokters destyds gesê - haar gehoor verloor.

As Graad 1-leerling aan die Laerskool Wespark in Pretoria is sy beskou as disrespekvol teenoor die onderwyser – min wetende dat sy eintlik doof is. “In daardie dae is kinders se ore by skole getoets. Tóé eers is vasgestel dat ek ‘n gehoorprobleem het,” sê Leonie. “Op skool (en selfs daarna) het dit bitter moeilik gegaan. Nie net die feit dat ek nie kon hoor nie, maar die gedurige geterg was soms ondraaglik,” voeg sy by.

Leonie onthou met ‘n dankbare hart dat haar oorlede pa die een was wat, selfs al het hy nagskof gewerk, haar na afsprake byvoorbeeld by die oor-, neus- en keelkliniek in Pretoria geneem het.

Destyds het medici vir haar gesê dat, indien sy ‘n gehoorapparaat sou kry, die regteroor sou oorkompenseer vir die dowe oor – wat nooit gebeur het nie omdat sy nie ‘n gehoorapparaat gekry het nie. Leonie het in haar vroeë twintigerjare (ongeveer 1996) weer vir ‘n gehoortoets gegaan. ‘n Operasie sou toe min of meer R40 000 kos. Sedertdien het Leonie vrede gemaak met haar gehoorprobleem en leef al byna 46 jaar saam met hierdie gebrek.

Groot was die verrassing toe sy tóg maar die kans gevat het om weer haar ore te laat toets nadat sy die skenking ontvang het. Hoewel sy bang was om weereens te verneem dat hulle dalk niks vir haar kan doen nie, het Leonie het op 8 Oktober na die spesialiskamers by die Zoutpansberg Privaathospitaal gegaan, waar die personeel van Kind 2 Hearing baie behulpsaam was. Daar het hulle bevestig dat sy wél met die hierdie gehoorapparaat kan hoor – slegs enkele verstellings ten opsigte van die programmatuur, versterkingsdraadjie en filters is nodig.

Opgewonde vertel Leonie dat sy eersdaags weer ‘n afspraak vir die pas en instel van die apparaat het. “Uiteindelik sal ek kan hoor! Sonder die jarelange ondersteuning van my man Charl, my moeder Marie Warrington, my werkgewers Marius en Esté Pretorius van McDoman Chemical en baie ander vriende, sou dinge nie dieselfde gewees het nie,” sê Leonie dankbaar. “Ek was al die jare baie skaam oor my gebrek, vanweë die voortdurende geterg. Dit voel of ‘n wonderwerk aan die gebeur is. Ek dank die Vader dat Hy sulke goeie mense oor my pad gestuur het – veral in so ‘n hartseer tyd. Ek weet nie watter persentasie gehoor ek nou sal hê nie; ek weet net dit sal genoeg wees om te kan hoor! Uiteindelik sal ek in stereo kan hoor – my man se grootste wens nog al die jare!” sê Leonie glimlaggend.

Leonie wil graag die boodskap aan die gemeenskap deurgee dat gebruikte gehoorapparate wél vir iemand anders gebruik kan word. “Mense dink dat jy nie iemand anders se apparaat kan gebruik nie. Ek het self so gedink. Neem hierdie apparate na die spesialiskamers waar Kind 2 Hearing twee maal per maand besoek aflê. Hulle sal dit toets en kyk of dit vir ander pasiënte [soos Leonie] geskik sal wees. ‘n Mens betaal dan slegs vir die ekstras wat bykom,” sluit Leonie af.

 

 
 
 

Viewed: 1120

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT