ADVERTISEMENT:

 

 
 

As wenner van die Classic Regency South Africa Pageant gaan Veronica Suid-Afrika volgende jaar in Las Vegas verteenwoordig in die Classic Regency International Pageant. Die aandrok wat sy aan het, het sy self gemaak. Foto verskaf.

Voller figuur Veronica op pad na Las Vegas om SA te verteenwoordig

Date: 04 October 2020 By: Pétria de Vaal

Veronica van der Neut, ‘n nooi Badenhorst, was in Louis Trichardt op hoërskool. Deesdae is sy wêreldwyd bekend vir haar deelname en wen van skoonheidskompetisies, veral dié vir die voller figuur.

Veronica, tans woonagtig in Pretoria, gesels entoesiasties oor hoe dit gebeur het dat sy begin het om aan kompetisies deel te neem. As hoërskooldogter het sy by haar ouma, Mathilda Badenhorst, op Levubu gewoon. Sy was gedurende die week in die koshuis. Met heimwee dink sy aan die lekker tye wat haar hoërskoolmaats saam gekuier het op die plaas waar mango’s, piesangs en avokadopere volop was. Haar ma was woonagtig in die destydse Messina (nou Musina), terwyl haar pa in die lugmag op Hoedspruit was.

Ná haar matriekjaar in 1993, het sy ‘n diploma in bemarking by die destydse Pretoriase Technikon gaan doen. Sy het in daardie tyd ook begin met modelklasse en het ‘n klompie skoonheidskursusse aangepak. In 1995 is sy na haar ma op Musina waar sy haar man, Cornell, ontmoet het. In 1996 was Veronica in ‘n ernstige motorongeluk en moes sy van voor af leer loop. As gevolg van die ongeluk het sy heelwat gewig opgetel en het, volgens haar, nooit weer dieselfde gelyk nie.

In 1998 het hulle Pretoria toe verhuis en in 2004 het is sy Cullinan toe vir ‘n geleentheid waar die “Groot Gat Godin” (GGG) aangewys is.  Sy was net nuuskierig om te sien wat daar gebeur. “En daar besluit ek toe op die ingewing van die oomblik om self deel te neem!” sê Veronica. “Groot was die verrassing toe ek boonop die titel wen!” voeg sy by. Sy benadruk die feit dat die naam van die kompetisie beslis nie te doen het met die feit dat dit vroue met ‘n voller figuur is wat deelneem nie, maar dat dit verwys na die groot gat waaruit diamante gehaal word.

“Ek het die kompetisie só geniet, dat ek besluit het om aan te hou daarmee. Sommige van die titels wat ek al ingepalm het, is die ‘Mrs SA Fuller Figure’, ‘Mama Africa’ en is ook aangewys as die ‘Africa Brand Ambassador’,” vertel sy opgewonde. “Die gróót een wat ek in 2019 gewen het, is die ‘Mrs Diamond South Africa Brand Ambassador’. In hierdie kompetisie is daar verskillende kategorieë, selfs vir dogtertjies van die ouderdom van drie jaar af. Ek is aangewys as die algehele wenner – dit beteken dat ek selfs die jonger en maerder deelnemers uitgestof het!” sê sy dankbaar.

Volgens haar moet deelnemers vooraf baie hard werk. Vir ongeveer ses maande word ‘n portefeulje saamgestel. Dit behels byvoorbeeld bewyse van gemeenskapsdiens en -betrokkenheid, wat ingehandig word saam met foto’s van alles wat gedoen word. “Die tema was ‘diamante en denim’ en ek het self ingespring om ‘n paar uitrustings te ontwerp en te maak!” sê sy. “Vir twee maande nadat ek as die wenner aangewys is, het ek ‘n geborgde motor gehad om mee rond te ry,” sê Veronica.

As wenner gaan Veronica Suid-Afrika volgende jaar in Las Vegas verteenwoordig in die “Classic Regency International Pageant”. Hiervoor is sy ook hard besig om haar portefeulje by te hou.

Veronica werk voltyds as ‘n sekretaresse by die Suid-Afrikaanse Weermag. Behalwe vir haar pligte as wenner, is sy ook gereeld betrokke by die maak van advertensies, as aktrise (‘n ekstra) op die kassie en as beoordelaar by skoonheids- en modelkompetisies – iets wat sy baie geniet en waarby sy konstant iets leer.

Veronica skryf haar sukses toe aan haar selfvertroue. Sy bieg dat sy die eerste paar kere op die verhoog benoud was, maar het al hoe meer selfvertroue ontwikkel. Nadat sy die eerste keer gewen het, het sy besef dat daar nie ‘n groot genoeg “mark” vir groter vroue is nie. Sy is juis besig met ‘n aanlynkompetisie, “Moulin Rouge” (op Veronica se Facebookblad) waarin vroue ‘n collage van vyf foto’s instuur.  Die beoordelaars kyk of die vroue hulleself versorg en gee wenke.  Inskrywings word nog tot 15 November ingewag en wenners word op 21 November aangekondig. Vanjaar se wenners sal dan in 2021 aan ‘n volwaardige skoonheidskompetisie deelneem.

Onlangs het ‘n groot voorreg vir Veronica te beurt geval toe ‘n Amerikaanse tydskrifbaas haar raakgesien en ‘n onderhoud met haar gevoer het. Die artikel het in World Class Beauty Queens, World Class SA, World Class Full Figure en World Class Africa verskyn.

Hierdie besige ma van drie pragtige dogters sit steeds nie stil nie. Sy maak ook haar eie gesig- en ander rome, Noble Skin.  Die hoofbestanddeel is die spekboom (of suurstofboompie, soos dit ook bekend staan). “Vroue moet hulle velle oppas soos dié van ‘n prinses. Jy kan hóé groot wees, jy moet steeds na jouself kyk. Groot vroue moet nie net ‘laat gaan’ nie. Wees skoon, dra keurige grimering, versorg jou hare en gee om vir jouself,” sê Veronica.

Haar raad aan vroue gedurende die grendeltyd was (en is steeds aan diegene wat tuisbly): “staan steeds op, was jou gesig, sit grimering aan – dit hoef nie baie te wees nie, maak jou hare netjies. Moenie onversorg lyk nie. Hoe beter jy versorg is, hoe beter voel jy,” beveel sy aan.

Op die vraag wat vroue wat net effe oorgewig is kan doen, antwoord Veronica dadelik: “Stap vir oefening. Doen meer moeite met jouself. Probeer reg eet. Die woord ‘dieet’ maak jou depressief. Sny bloot suiker en stysel uit. Raak ontslae van klere wat te klein is. Trek iets aan wat jou pas en waarin jy goed voel,” is haar goeie raad. Veronica is ook besig met die skryf van dagstukkies – geestelike stukkies vir die voller figuur. Die doel hiervan is om hierdie vroue met ‘n voller figuur daagliks op te beur. Sy hoop om dit binnekort te publiseer.

Sy motiveer graag vroue deur aan te beveel dat hulle herinneringe bou en dan ‘n plakboek daarvan maak. Jy moet kan trots voel op dit wat jy doen – maak nie saak wat dit is nie. “Inspireer jouself. Volg jou drome. Jy gaan die vrugte pluk van dit wat jy vandag doen,” sê Veronica.

Veronica sal self graag onthou wil word as ‘n groot vrou met ‘n groot hart. Sy wil nie net plaaslik groter vroue inspireer nie, maar ook wêreldwyd.

 

 
 
 

Viewed: 1632

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

Veronica van der Neut, afgeneem in haar tuin in Pretoria.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT