ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 15-jarige Jaype Jansen van Rensburg (in die middel, met die Marvel mussie op) en sy tweelingbroer Donevan, afgeneem tydens die verrassingspartytjie wat vir hulle gereël is. Agter hulle staan ma Elize en pa Johannes. Foto verskaf.

Bietjie bederf vir Jaype te midde van chemo

Date: 03 October 2020 By: Andries van Zyl

Dit gaan onder omstandighede baie goed met die 15-jarige Jaype Jansen van Rensburg van Louis Trichardt wat tans chemobehandeling ontvang nadat hy op 27 Julie vanjaar met Ewing’s Sarcoma gediagnoseer is.

Ewing’s Sarcoma is ‘n seldsame, kankervormende gewas wat op die been en die sagte weefsel om bene groei. Dit kom veral voor in jongmense tussen die ouderdom van 10 en 20 jaar. Die goeie nuus is dat dié kanker in baie gevalle ‘n goeie kans het op genesing.  Jaype het vir bykans ‘n jaar-en-‘n-half met die kanker saamgeleef, terwyl hy in konstante pyn verkeer het, voordat hy met die siekte gediagnoseer is. Hy het intussen probleme ontwikkel om te loop, kon glad nie lê of regop sit nie en het weens die pyn meestal op sy knieë gesit.  

“Hy reageer baie goed op die behandeling en hy loop nou weer bietjie beter. Party keer maak die chemo hom egter maar siek en naar,” het ma Elize Maandag aan die Zoutpansberger gesê. Sy sê hy het die laaste tyd bietjie gesukkel om te eet as gevolg van die newe-effekte van die chemoterapie. Gelukkig het hulp vir hom gekom in die vorm van ‘n skenking van ‘n paar blikke Ensure-melkskommel, waaroor hulle baie dankbaar is. “Vandag het hy baie goed geëet,” het Elize gesê.

Dat Jaype bietjie meer van ‘n eetlus gehad het, is ook dan geen wonder nie, veral ná afloop van die baie bedrywige naweek wat hy en sy familie gehad het. Jaype, sy tweelingbroer Donevan, en ma Elize het Sondag almal hulle verjaarsdag gevier, met die tweeling wat 15 jaar oud geword het. Vroegoggend is hulle saam met pa Johannes kerk toe. Daarna is Jaype en sy broer verras deur ‘n paar skoolvriende en familie met ‘n verjaarsdagpartytjie. Jaype was oorstelp van opgewondenheid toe hy die groot groep kinders, met ballonne en al, na hom in die straat aangestap sien kom het terwyl hulle vir hom “Veels geluk liewe Jaype…” gesing het. “Met die partytjies wat hy gekry het, het hy ook goed geëet. Vanoggend het sy tuisskoolonderwyser ook vir hom ‘n klein partytjie gehou en kon hy darem ‘n doughnut en cupcake eet,” het Elize gesê. Jaype het in die agtergrond uitgeroep: “ …en ‘n marshmallow!”  

Die bietjie “bederf” die afgelope naweek was beslis wat die spreekwoordelike dokter voorgeskryf het. Jaype het reeds drie uitputtende chemobehandelings agter die blad. Hy moes Woensdag weer terugkeer na die Steve Biko Hospitaal in Pretoria vir sy volgende reeks van drie chemobehandelings. Elke van die behandelings duur ongeveer drie dae. As alles goed gaan, sal dokters daarna kan opereer om te kyk of hulle die oorblywende dele van die gewas kan uitsny. Daarna sal hy ‘n verdere agt sessies chemobehandeling ontvang.

Jaype het aan die koerant gesê hy is positief dat hy ten volle sal herstel. “Die pyn is nie meer so erg nie. Dit word net bietjie seer as ek baie loop,” het ‘n Jaype met ‘n aansteeklike glimlag op sy gesig gesê. “Hy lag altyd, al is dit hoe seer,” het Elize bygevoeg.

Volgens Elize het hulle glad nie voorsien dat so iets met hulle as familie sou gebeur nie. “Dit het maar vir ons as groot skok gekom,” het Elize gesê. Tog hou hulle goeie moed. “Mens moet maar. As dit met hom goed gaan, gaan dit met ons ook goed. Hy is positief oor alles en het vir ons gesê hy weet sy Here is saam met hom in sy omstandighede,” het Elize gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1082

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT