ADVERTISEMENT:

 

 
 

Van links na regs is Friede Meissenheimer, senior maatskaplike werker by die SAVF, Die kantoorbestuurder van die CMR (Louis Trichardt en Musina), Ronel Aylward, en Kittie de Bruin, bestuurder van Ons Tuiste Outehuis.

NWO’s trek swaar ná DSD besluit om subsidies te besnoei

Date: 30 August 2020 By: Pétria de Vaal

‘n Onlangse verslag met die titel Rapid assessment on the financial status of non-profit organisations providing social care services het die fokus geplaas op die benarde finansiële posisie waarin talle nie-winsgewende organisasies (NWO’s) hulle tans bevind, nadat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DSD) besluit het om subsidies te besnoei te midde van die Covid-19 pandemie. Ook op die tuisfront trek sommige NWO’s nou swaar.

Die verslag is opgestel deur Lisa Vetten (Care Work Campaign) en Margaret Grobbelaar (National Coalition of Social Services) en op 20 Julie vanjaar vrygestel. Hulle navorsing is gedoen toe 2.9 miljoen mense reeds hulle werk verloor het as gevolg van die Covid-19 virus. Twee-derdes hiervan is vroue. Die verslag handel oor die gedeeltelike of nie-betalings deur die DSD van subsidies aan NWO’s.

Die “byna-oornag” impak van werkloosheid het reeds ‘n groot aantal sosiale skokke tot gevolg gehad. Die behoefte aan maatskaplike versorging en ander verwante dienste neem onder hierdie omstandighede toe. Volgens die verslag gebeur dit in ‘n tyd waarin die nie-winsgewende organisasies ekstra broos is. Dit onderstreep die gevaar wat nou bestaan dat nie net maatskaplike dienste verswak nie, maar ook die werksmag wat dit bedryf.

Die tipe sosiale dienste wat in die verslag aangeraak word, sluit onder meer in skuilings vir diegene blootgestel aan huishoudelike geweld, kinderbeskermingsdienste, behuisingsfasiliteite vir bejaardes, ensovoorts. Inligting is hoofsaaklik verkry van die National Coalition of Social Services (NACOSS) en ander instansies wat saam met die Care Work Campaign werk. Wat belangrik is om op te let is dat die verslag nie verteenwoordigend is van AL die nie-winsgewende organisasies nie, maar dat dit veral fokus op die soorte probleme wat aangespreek behoort te word. Sommige instansies wou ook nie hulle identiteit bekendmaak nie.

Verskillende redes word aangevoer waarom betalings óf nie ontvang is nie, óf verminderde óf laat betalings ontvang is.

Eerstens het ‘n misverstand ontstaan ten opsigte van die registrasie op die Departement van Tesourie se sentrale databasis (CSD). Volgens die Classification Circular 21 van hierdie departement wat op 28 Mei 2018 in werking gestel is, moet alle verskaffers van dienste of produkte op hierdie databasis geregistreer wees. Sowat 99% van die nie-winsgewende organisasies in Limpopo is nie hierop geregistreer nie. Dit blyk ‘n misinterpretasie te wees aan die kant van die Limpopo Departement van Maatskaplike Ontwikkeling. Later het duidelik geword dat nie-winsgewende organisasies nie nodig het om op die CSD te registreer nie. ‘n Vertraging van tot drie-en-‘n-half maande ten opsigte van betalings was die gevolg.

Volgens die verslag het ses organisasies in die provinsie ‘n vermindering van 25% van die eerste kwartaal se subsidies gerapporteer, wat gebaseer was op die basis dat hierdie organisasies klaarblyklik nie gedurende dié tydperk gewerk het nie. ‘n Sewende organisasie het 35.6% van die totale subsidie ontvang. Organisasies het egter steeds gewerk – onder die voorwaardes van die inperking. Verder het die DSD ook instruksies gegee dat 15% van die organisasies se operasionele kostes op persoonlike beskermende toerusting spandeer moes word.

Twee plaaslike instansies wat in hierdie verslag gelys is, is die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) en die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) in Louis Trichardt. Die Zoutpansberger het hulle in hierdie verband genader.

Volgens Friede Meissenheimer, senior maatskaplike werker by die SAVF, rus die grendeltyd swaar op nie-winsgewende organisasies wat noodsaaklike dienste lewer aan die kwesbare lede van die gemeenskap. Behalwe dat fondsinsamelings steeds beperk is as gevolg van die grendeltyd-regulasies, is inkomste op ander maniere ook beperk. Baie mense het gesukkel om kop bo water te hou, met die gevolg dat persone wat op ‘n gereelde basis kon help, nie meer in ‘n posisie is om daarmee vol te hou nie. Boonop het die DSD die besluit geneem om die SAVF se subsidie ten opsigte van sekere afdelings met tot 7% effektief te besnoei. In ‘n amptelike brief vanaf die DSD word gemeld dat die reëling sal geld totdat die grendeltydperk verstreke is en normale aktiwiteite hervat kan word. Met die huidige stand van sake dui dit op ‘n onsekere toekoms vir organisasies wat afhanklik is van die gelde.

Ten spyte van die besnoeiing lewer die SAVF steeds dienste soos tevore. Individuele aanmeldings het afgeneem, deels as gevolg van persone wat minder beweeg, maar ook as gevolg van byvoorbeeld die skole wat gesluit was. Meissenheimer sê noudat skole heropen het, sal die aanmeldings in alle waarskynlikheid weer toeneem. “In hierdie stadium word daar baie dienste aan skole gelewer, wat tot gevolg het dat die getal persone wat elke maand bereik word steeds hoog is,” sê sy.

“Die departement het wel nuwe doelstellings vir befondsing geskep waarvoor daar aansoek gedoen kan word. Al die doelstellings is spesifiek gerig op die lewering van Covid-19-verwante dienste. Tans wag ons vir terugvoer om te verneem of die aansoek suksesvol was,” sê Meissenheimer. Sy het mense wat deurlopend die organisasie ondersteun het, bedank. “Sonder julle sou ons nie steeds die dienste kon lewer nie,” sê Meissenheimer.

Die kantoorbestuurder van die CMR (Louis Trichardt en Musina), Ronel Aylward, beaam dat hulle werk nooit opgehou het nie.  Maatskaplike werkers was steeds telefonies in verbinding met kliënte, werk word deur middel van rekenaars gedoen (byvoorbeeld verslae) en huisbesoeke word gedoen waar nodig.

Aylward beaam dat die CMR wel 25% van hulle normale subsidie ten opsigte van hul operasionele kostes nie ontvang het nie. “Salarisse en ander uitgawes is egter wel betaal,” beklemtoon Aylward. Sy bevestig ook dat hulle tans in gesprek is met die DSD, juis om besnoeiings reg te stel.  Die NWO-Forum het twee weke gelede vergader waar besluit is dat die subsidie-tekorte herstel sal word wanneer bewyse gelewer kan word dat dienste tydens die inperking wel voltyds gelewer is. “Ons het klokslag een keer per maand ons statistieke ingedien,” sê Aylward.

Hoewel Ons Tuiste Ouetehuis nie in die bogemelde verslag genoem is nie, het die Zoutpansberger gaan sekermaak en met die tehuis se bestuurder, Kittie de Bruin, gesels.  Volgens De Bruin kry hulle wel subsidie van die DSD en word dit steeds ten volle betaal. “Ons Tuiste is deel van die kwartaalstelsel en ons kan nie kla nie,” sê De Bruin. Hulle het ‘n baie goeie verhouding met beide die DSD en die Departement van Gesondheid. Laasgenoemde se direkteur (Limpopo) het ‘n WhatsApp-groepie vir ouetehuise in die Limpopo gestig en belangrike inligting word so deurgegee en vrae beantwoord. “Hulle is regtig ondersteunend en tegemoetkomend,” sê De Bruin.

 
 
 

Viewed: 927

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT