ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 14-jarige Jaype Jansen van Rensburg, wat op 27 Julie met kanker gediagnoseer is, glo en bid dat hy volkome sal herstel. Dié foto van hom is geneem in die Steve Biko Hospitaal waar hy tans chemoterapie ontvang. Foto verskaf.

Jaype glo hy sal herstel

Date: 16 August 2020 By: Andries van Zyl

‘n Gemeenskap is die afgelope paar weke weer in gebed verenig en bid vir die spoedige herstel van die 14-jarige Jaype Jansen van Rensburg, ‘n Graad 8-leerling van Hoërskool Louis Trichardt. Hy is in Julie met kanker gediagnoseer.

Die Zoutpansberger het Dinsdag met Jaype se ma, Elize Jacobs, gesels waar sy by haar seun se bed in die kinderafdeling by die Steve Biko Hospitaal gewaak het. Sy bly tans by haar oudste seun in Pretoria om nader aan Jaype te wees, terwyl pa Johannes Jacobs die pot aan die kook moet hou op Louis Trichardt.

Volgens Elize het Jaype so in die middel van sy Graad 7 jaar tydens hokkie-oefening geval en sy stuitjie seergemaak. “So twee maande daarna het hy vir my gesê sy bene raak seer. Hy het toe begin snaaks loop en vir 24 uur per dag, sewe dae ‘n week, het hy pyn gehad. Hy kon nie regop sit nie, hy kon nie lê nie en hy het die hele tyd op sy knieë gesit, want dit was gemaklik vir hom,” het Elize gesê.

Die familie, soos baie ander families wat hulself in toenemend moeilike ekonomiese toestande bevind, het nie ‘n mediese fonds gehad nie. “Ons was elke maand by die staatshospitaal [die Louis Trichardt Gedenkhospitaal]. In ‘n stadium het ek hom twee keer by die ongevalle-eenheid gehad, omdat ek nie meer kon verdra om my seun in soveel pyn te sien nie. Elke keer het hulle nie vir my pynstillers gegee nie en gesê: ‘Gaan huis toe!’ Die laaste keer wat ons by ongevalle was, is ons verwys na Thohoyandou, maar die afspraak was nog eers ‘n maand en ‘n half later,” het Elize gesê.

Weens die erge pyn waarin Jaype verkeer het, kon die familie egter nie langer wag nie. Danksy die hulp van ‘n vriendin kon Jaype in die Steve Biko Hospitaal op 24 Junie opgeneem word.

“Ons het op 27 Julie uitgevind hy het kanker in sy rug en sy stuitjie,” het Elize gesê. Dit het vir hulle as ‘n groot skok gekom, want hulle het eers gedink dit is net ‘n rugprobleem. X-strale wat voor sy opname in Steve Biko geneem is, het gewys dat iets fout is met een van sy rugwerwels.

Jaype is met Ewing’s Sarcoma gediagnoseer. Dit is ‘n seldsame, kankervormende gewas wat op die been en die sagte weefsel om bene groei. Dit kom veral voor in jongmense tussen die ouderdom van 10 en 20 jaar. Die goeie nuus is dat dié kanker in baie gevalle ‘n goeie kans het op genesing.  “Hulle het seker drie of vier skanderings gedoen, insluitend ‘n MRI skandering. Die biopsie het toe gewys hy het kanker … So, my kind loop nou al amper ‘n jaar-en-‘n-half met daardie eina waarmee niemand ons kon help nie…” het Elize gesê.

Dieselfde dag wat Jaype se biopsie gewys het hy het kanker, het hy met chemoterapie begin. “Hy het chemo gehad vir drie dae en is nog steeds in die hospitaal … Hy moet ses behandelings (chemo) nog kry, waarna hy moet gaan vir ‘n operasie. Na die operasie moet hy nog agt behandelings kry,” het Elize gesê.

Gelukkig behoort Jaype nie vir hierdie hele tyd in sy hospitaalbed vasgekluister te wees nie. “Hy sal darem kort-kort kan uitgaan, maar omdat dit sy eerste [chemoterapie] keer is, is hulle bietjie bang om hom nou al te laat uitgaan. Hy is ook bietjie ondergewig weens die siekte, want hy wil nie eet nie. Nou probeer hulle maar eers om sy immuunstelsel sterker kry,” het Elize gesê.

Volgens Elize waardeer hul elke bietjie ondersteuning wat hulle ontvang, maar hierdie is maar moeilike tye vir hulle. “Tans is dit net my man wat werk. Ek het my werk opgegee om by my kind te wees,” het Elize gesê.

Te midde van die moeilike tye bly die familie positief. “Jaype is positief met alles. Hy lees sy Bybel en bid omtrent elke 10 minute. Hy glo sterk hy sal deur dit kom, en ek ook,” het Elize gesê. Jaype se tweeling-broer Donevan is perdfris en gesond, maar is ook baie bekommerd oor sy boetie. Dié twee sal op 27 September hulle 15de verjaarsdag vier.

 

 
 
 

Viewed: 1338

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT