ADVERTISEMENT:

 

 
 

Maré van der Merwe. Foto verskaf.

Dit is nie net mans wat droëbek sit weens alkoholverbod nie

Date: 15 August 2020 By: Pétria de Vaal

Vir baie vroue is ‘n glasie wyn of enige ander alkoholiese drankie lekker saam met ete, om te ontspan na ‘n harde dag, of om sosiaal te verkeer.

Aangesien vandeesmaand Vrouemaand is, het die Zoutpansberger ‘n paar dames gaan pols oor hoe hulle oor die verbod op alkoholverkope voel.

Sommige wil nie hulle name genoem hê nie, maar het ‘n klompie nadele van die nie-beskikbaarheid van alkohol uitgelig: een dame is ‘n kranige kok en wyn is soms ‘n belangrike bestanddeel in haar kookkuns – byvoorbeeld in bredies. Selfs gebak soos brandewyntert (die naam verduidelik homself!) en die Italiaanse tiramisu kan nie tans gemaak word nie. Die dames wat vrugtekoeke wil bak vir die Kerstyd, begin reeds wonder waar hulle brandewyn daarvoor gaan kry. ‘n Lekker klam vrugtekoek word vir weke lank elke week bedruip met brandewyn.

‘n Ander dame besing die medisinale waarde van sommige tipes alkohol – alles natuurlik binne perke. Dat die antioksidante in byvoorbeeld whisky en droë rooiwyn voorkomend kan wees vir kanker, toestande soos demensie en Alzheimersiekte teëwerk en beskerm teen hart- en hartvatsiektes is reeds lankal bewys.

Die verbod op die verkoop van drank het vir Zettie Fourie redelik geraak. “Ek is 'n persoon wat elke aand my glasie wyn geniet, terwyl ek kos maak en gesellig saam met my gesin verkeer. Soms verwelkom ek ook my man met 'n alkoholiese verversinkie na 'n harde dag se werk. Dit is ideaal om saans 'n drankie te drink en te gesels oor die dag se gebeure. ‘n Wyntjie gaan goed saam met Sondagmiddae se familie-etes. Ons is baie sosiale mense en geniet dit om saam met ons vriende te verkeer. Uiteraard is daar altyd 'n alkoholiese verversinkie op die tafel. Alkohol laat my ontspan ná 'n harde dag se werk,” sê Zettie.

“Hulle sê mos jy mis nie iets tot dit eendag nie meer daar is of, in hierdie geval, vrylik beskikbaar is nie.” Só sê Maré van der Merwe, wat ook lief is vir ‘n glasie wyn op sy tyd. Sy noem dat die verbod op die verkoop van alkohol in Suid-Afrika eintlik 'n bittersoet gemors is.  “Dan praat ek nie eers van die Covid-19 inperking wat ons in hierdie situasie gedompel het en wat enige mens na drank sal dryf nie -  mits jy dit in die hande kan kry! Daarvoor sal jy dan ongelukkig 'n misdadiger moet word, want drank, nes sigarette kan net op onwettige maniere verkry word en dit kom met 'n prys!” sê Maré. Sy gee te kenne dat ‘n glasie Merlot op 'n wintersaand nog nooit iemand skade aangedoen nie.

Marietjie Barkhuizen voel dat geen fout te vind is met matige drankgebruik, byvoorbeeld wyn saam met ‘n heerlike ete, nie. “Ek kan nie sien hoekom alle drank ingeperk moet word as gevolg van mense wat nie hul perke ken nie,” sê sy.

Vir Greta Fourie is die inperking van die drank al ‘n holruggeryde storie.  Mense praat vir maande lank daaroor, maar kan absoluut niks aan die situasie doen nie. “Die hele Covid-19-situasie infiltreer ons lewens! Om die etenstafel, in ons sitkamers, in ons kerke, in ons skole - al waaroor ons praat, is die virus. Mense vra gedurig of jy nog nie siek is nie, óf hulle vra of jy nog drank het, óf watter swartmark sigaret jy nou rook,” se Greta.  

Sy is van mening dat die verbod op die verkoop van drank vroue moontlik baie minder pla as vir mans. “As jy dit nie het nie, het jy dit nie, en as jy het, is jy gelukkig!” sê Greta. Sy voeg by dat, sou die owerhede besluit om byvoorbeeld teen die einde van die week die verbod op die verkoop van alkohol op te hef, dan juig almal. As dit blyk dat drank eers teen Desember weer beskikbaar gaan wees, dan rebelleer almal voort – en niemand kan enigiets aan die situasie doen nie. Baie vroue hoop egter ook dat die verbod op drankverkope spoedig opgehef sal word.

 

 
 
 

Viewed: 1061

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT