ADVERTISEMENT:

 

 
 

Dit wil voorkom asof daar ook weer ‘n groep mense is wat voertuie se wiele af steel waar hulle oornag by wonings buite geparkeer staan. Dit was die geval Woensdagoggend toe ‘n inwoner van Indaba woonstelle in die nuwe uitbreiding opgemerk het dat iemand deur die aand sy bakkie se agterwiele afgesteel het. Hulle het sommer sy eie plaveisel gebruik om onder sy voertuig te pak om die wiele af te kry. Foto verskaf.

Wees paraat!

Date: 07 August 2020 By: Andries van Zyl

‘n Plaasaanval in die Legkraal-omgewing (Bandelierkop) op Woensdagoggend het weereens die belangrikheid beklemtoon van mense in veral landelike gebiede om paraat te wees weens ‘n drastiese styging in misdaad te midde van die Covid-19 pandemie. Dié aanval is egter slegs een van talle misdade in die Soutpansberg streek die afgelope week.

Die 62-jarige plaasboer en sy 58-jarige vrou is tussen 01:00 en 02:00 op 5 Augustus op hul plaas deur ‘n groep gewapende mans oorval. “Ons het omstreeks 01:40 die noodroep oor ons radio’s ontvang,” het mnr. Jan du Toit, veiligheidsvoorsitter van die Legkraal-omgewing, ure ná die aanval aan die Zoutpansberger gesê. Hy het die aard van die plaasboer se beserings as brutaal beskryf.

Die man het erge kopbeserings opgedoen, nadat sy kop na bewering herhaaldelik teen ‘n muur geslaan is. Sy vrou is op haar beurt in die regterbeen geskiet. Beide is deurgejaag hospitaal toe in Polokwane vir mediese behandeling, met die man wat in ‘n bedenklike toestand opgeneem is.

Te midde van die trauma was daar darem ‘n bietjie goeie nuus gewees – die aanvallers is binne ure ná die aanval aangekeer.

Volgens provinsiale polisiewoordvoerder Brigadier Motlafela Mojapelo is drie mans deur lede van die polisie se blitspatrollie aangekeer nadat hulle inligting ontvang het dat die verdagtes die egpaar se Nissan Navara bestuur wat tydens die aanval geroof is. Die voertuig is opgemerk op die Matlala-pad, wat gelei het tot ‘n jaagtog tussen die polisie en die verdagtes. Die verdagtes is uiteindelik in ‘n hoek gedryf op die N1 suid buite Polokwane.

Twee verdagtes is op die toneel gearresteer, terwyl ‘n derde gevlug het. Dié is later gewond toe hy op die polisie begin skiet het en hulle teruggeskiet het. Teen druktyd was teenstrydige berigte gewees of die gewonde verdagte nog lewe of dood is. Volgens die polisieverklaring het hy nog gelewe.   

Mojapelo het bevestig dat die polisie twee gewere, ‘n televisie, ‘n tweerigting radio en die egpaar se bakkie herwin het ná die arrestasie. Buiten hiervoor is die verdagtes ook in besit betrap van vyf ongelisensieerde pistole. Mojapelo het gesê dat die verdagtes van huisroof en verkragting aangekla gaan word, nadat dit geblyk het dat die 58-jarige vrou ook verkrag is (om hierdie rede weerhou die koerant hul name).

Nader aan die huis is die 68-jarige Annette Bezuidenhout Sondag omstreeks 12:00 deur twee mans in die munisipale begraafplaas op Louis Trichardt oorval en beroof. Sy was daar op besoek aan haar seun, Charl, se graf. Baie lesers sal onthou van die hartseer waardeur die familie gegaan het nadat hierdie belowende jong sportman van die Soutpansberg op 19-jarige ouderdom in April 2002 tydens ‘n gewapende roof doodgeskiet is.

Annette het vertel hoe sy sowat 20 treë vanaf haar seun se graf in die koelte parkeer het. By haar seun se graf het sy egter gesien die blomme daarop was bietjie droog en het begin terug stap motor toe om water te kry. “Op pad terug na my kar toe het ek omgekyk en skielik twee mans agter my gesien. Ek het probeer om vinnig terug te kom by my kar, maar hulle was voor my daar,” het Annette gesê. Sy het gesê sy het hulle glad nie opgemerk toe sy ingery het nie en vermoed hulle het doelbewus weggekruip. “Ek het die heel tyd rondgekyk en niks gesien nie,” het Annette gesê.

Die een man het Annette van agter om haar keel en voorkop gegryp. “Ek het nooit gedink dat sou iets my sou oorkom nie. En kon nie help om te dink aan Charl toe hy ook beroof is nie,” het Annette gesê.

Beide mans het dadelik begin om Annette se sakke te deursoek. Sy sê die een was baie aggressief, terwyl die ander een kalmer was. Sy het egter net haar selfoon by haar gehad. “Toe sê hulle ek moet die kar oopsluit, want hulle soek geld,” het Annette gesê.

Sy wou aanvanklik nie haar motor oopsluit nie, want sy was bang hulle steel hom. “Maar ek het oopgesluit en toe gryp die een my handsak. Die ander een het die sak met my middagete gegryp wat ‘n vriendin vir my ingepak het,” het Annette vertel.

Haar situasie het daarna vererger.

In die gespook het Annette op die grond geval. Dit was toe dat die een wat haar selfoon gevat het, nader staan. “Toe moes ek keer, want toe is hy hier by my broek. Hy wou my broek aftrek. Toe gebruik ek my kop en sê vir hom: ‘My husband is on his way’,” het Annette gesê en gemeld dat beide Engels gepraat het.

Dit was toe dat dit vir Annette gelyk het of hulle begin haastig raak. “Dit is toe dat ek vir hulle gevra het om asseblief net my kaarte te los. Hulle kan my geld vat, maar nie die kaarte nie,” het Annette gesê. Die minder aggressiewe man het toe haar handsak se inhoud op die grond uitgegooi en haar beursie leeggemaak. Dit het maar sowat R200 bevat. “Toe kom die meer aggressiewe een en skeur my handsak in stukke,” het Annette gesê.

Die mans het kort daarna gevlug. “Ek het toe maar my goedjies opgetel,” het Annette gesê.

Annette het die aanval by die polisiestasie aangemeld. “Daar het hulle my gevra om asseblief mense wat ook by die begraafplaas aangeval en beroof word, aan te raai om die voorval te rapporteer. Dit sal vir hulle dit makliker maak om mense uit te ken indien hulle iemand arresteer,” het Annette gesê.

Vir Annette was die aanval egter een te veel. Toe die Zoutpansberger Dinsdag met haar gepraat het, was sy op pad om vir haar ander seun, Theo, te gaan kuier. “So een maal ‘n week of elke twee weke wou ek altyd bietjie by Charl se graf gaan kuier. Maar dit is nou die laaste, Ek sal nie weer kan gaan nie,” het Annette gesê. Sy is dankbaar sy het nie ernstig seergekry nie. Sy het inwoners aangeraai om onder geen omstandighede ooit alleen begraafplaas toe te gaan nie.

Annette was blykbaar nie die enigste slagoffer van ‘n roof by die begraafplaas nie. Na wat verneem word is twee mense ook verlede Vrydag by die begraafplaas oorrompel en beroof toe hulle besoek gebring het aan die Indiër-begraafplaas. Die veiligheid van besoekers aan die begraafplaas is in die verlede herhaaldelik onder die aandag van die Makhado Munisipaliteit gebring. Geen wagte doen meer diens by die begraafplaas nie en van die betonheining wat veronderstel is om booswigte buite hou, bly daar nie veel oor nie. Die munisipaliteit het daarom in hul begroting vir die komende finansiële jaar R4,8 miljoen begroot vir ‘n nuwe heining.

Buiten vir die rooftogte het heelwat diefstalle ook voorgekom. Dit wil voorkom asof daar ook weer ‘n groep mense is wat voertuie se wiele steel waar hulle oornag by wonings buite geparkeer staan. Dit was die geval Woensdagoggend toe ‘n inwoner van Indaba woonstelle in die nuwe uitbreiding opgemerk het dat iemand deur die aand sy bakkie se agterwiele verwyder het. Hulle het sommer sy eie plaveisel gebruik om onder sy voertuig te pak om die wiele af te kry.

Die plaaslike polisie is vir kommentaar gevra oor die skynbare styging is misdaad in die dorp, maar teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.

 

 
 
 

Viewed: 896

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Geen wagte doen meer diens by die begraafplaas nie, en van die betonheining wat veronderstel is om booswigte buite hou, bly daar nie veel oor nie. Die munisipaliteit het daarom in hul begroting vir die komende finansiële jaar R4,8 miljoen begroot vir ‘n nuwe heining.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT