ADVERTISEMENT:

 

 
 

Fanie Havinga van Levubu meen die winter is beslis ‘n kouer aanvoelbare een as die vorige twee tot drie jare. Foto verskaf.

Is vanjaar se winter kouer as gewoonlik?

Date: 25 July 2020 By: Pétria de Vaal

Is vanjaar kouer as ander jare? Hierdie vraag is op almal se lippe. Die Zoutpansberger het by kundiges gaan kers opsteek.

Fanie Havinga is ‘n boer van Levubu en hoewel hy homself nie as ‘n kenner of weerprofeet beskou nie, het hy ‘n groot belangstelling daarin omdat “dit tog die een ding is wat ons lewens as boere direk beïnvloed”, sê hy.

Fanie bevestig dat dié een ‘n kouer aanvoelbare winter as die vorige twee tot drie jare is. Hy is van mening dat dit daaraan toe te skryf is dat die kouefronte wat vanjaar oor die binneland inbeweeg het baie sterker is en baie hoër op, met ander woorde verder noord as gewoonlik, die binneland ingekom het. Die verskil tussen vanjaar se fronte en verlede jaar s’n is waarskynlik dat min wolke vanjaar saam met die fronte verbygekom het. Dit veroorsaak dat die uitstraling van die aarde se hitte saans meer is en die temperatuur dus dadelik afneem sodra die son ondergaan. Die aande voel dan van vroeg af al baie koud, en nie net soggens vroeg nie. “Hierdie is egter by verre nog nie die koudste winter wat ons al in Levubu gehad het nie, maar kom ons raak nou nie te opgewonde nie; die winter is nog glad nie verby nie,” sê Fanie.

Hy noem dat hy wel berigte gekry het van gebiede suid van die Soutpansberg wat baie koud was, met groot skade aan gewasse wat doodgeryp het. Temperature van -7°C tot -10°C is op plekke in die Limpopo Provinsie gemeet.

Die goeie nuus van ‘n kouer winter is dat dit die nodige balans bring wat veral vir die boere baie nodig is. Peste en plae word deur die koue verdryf en kan oeste positief beïnvloed. Nóg ‘n interessante feit is dat wanneer die Kaap gedurende die winter ‘n goeie reënseisoen het, die reënval in hierdie streek ook hoër is gedurende die somer.

“Ons het gelukkig nog nie swart ryp gehad nie. Die vrieswind is ons darem nog gespaar,” het Fanie bygevoeg.

Volgens Dries Alberts, landboukonsultant in die Levubu-omgewing, was die  winter inderwaarheid baie matig, tot ongeveer twee weke gelede. Dries beskou homself ook nie as ‘n professionele weerkundige nie, maar hou tog die weer dop om boere dienooreenkomstig te kan adviseer. “Ons koue van die afgelope twee weke was beslis ‘n oorspoel van die koue in die grootste gedeelte van die binneland,” sê Dries.

Dries hou self die medium-termyn voorspellings en terugblikke op die Weerdiens se webblad dop en beveel aan dat diegene wat geïnteresseerd is, gaan kyk na https://www.weathersa.co.za/images/data/longrange/gfcsa/scw.pdf. Die dokument “Seasonal Climate Watch June to October 2020” maak melding daarvan dat bo-normale reënval verwag word vir die suid-westelike en suidelike gedeeltes van die land. Terselfdertyd is die toestande baie droër as normaal in die res van Suid-Afrika. Bo-normale temperature word verwag vir die grootste gedeelte van die land, met die uitsondering van die noord-oostelike gedeeltes wat op hulle beurt weer temperature laer as die normale sal beleef.

Musa Mkhwanazi, senior wetenskaplike: klimaat-inligting van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, is gepols oor die kouer weer. Volgens hom is dit te vroeg om nou al ‘n antwoord te hê op die vraag of dit tans noemenswaardig kouer of warmer is as normaalweg. “Ons kry gewoonlik ons koudste weer vanaf Julie tot middel-Augustus, en daardie data is nog nie beskikbaar nie. Die begin van Junie was gekenmerk deur bo-normale temperature in die Wes-Kaap en die Westelike gedeeltes van die Noord-Kaap, terwyl die groter oorblywende gedeelte van die land tipiese wintertemperature beleef het,” sê Musa. Hy noem dat die korrekte data eers teen einde Augustus beskikbaar sal wees om te kan sê of die winter werklik kouer (of warmer) is as ander jare.

 

 
 
 

Viewed: 489

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT