ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle tannie Tina van der Merwe (65) wat op 7 Julie oorlede is. Sy is een van die streek se eerste sterfgevalle vanweë die Covid-19 virus. Foto verskaf.

Nie almal so gelukkig om van Covid-19 te herstel nie

Date: 24 July 2020 By: Andries van Zyl

‘n Paar weke gelede sou inwoners van Louis Trichardt ver moes soek na iemand wat plaaslik die gevreesde Covid-19 virus opgedoen het. Die situasie het intussen dramaties verander.

Die Vhembe streek het nie die geweldige styging in Covid-19 gevalle vrygespring nie en talle inwoners het die afgelope paar weke die virus opgedoen. Meeste het sonder enige komplikasies hertel, maar daar was ook dié wat nie so gelukkig was nie.

Een van die minder gelukkiges was die 65-jarige tannie Tina van der Merwe wat op 7 Julie weens die virus dood is.  Sy was een van die eerste sterfgevalle in die Vhembe streek.

Tannie Tina en haar man oom Piet (66) bly op ‘n plaas naby die Hendrik Verwoerd Tonnels buite Louis Trichardt op die N1 noord. Dit was ook op die plaas waar tannie Tina haar stryd teen die virus sou verloor.

Oom Piet het tydens ‘n onderhoud met die Zoutpansberger vertel hoe hy en sy vrou van 25 jaar saam vir die virus gaan toets het so ‘n paar weke gelede. “Ons het medisyne vir die griep gesoek, want ons was al twee grieperig. Toe gaan ons dokter toe. Daar aangekom toe sê hy: Julle gaan nou hospitaal toe! Ons is toe na die daardie vraghouer [waar die Covid-19 toetse gedoen word] by die privaathospitaal. Twee dae nadat hulle ons getoets het, toe bel die dokter my en sê ons al twee het positief getoets,” het oom Piet gesê.

Volgens oom Piet het hy en tannie Tina al twee presies dieselfde simptome gewys. “Dit het ingesluit erge kopseer. Jou bors is seer en jy kry nie asem nie. Jou lyf is seer en jy wil net slaap,” het oom Piet gesê.

Die egpaar het hulle op hul plaas gaan isoleer. “Dinsdag, 7 Julie, het Tina laatmiddag gekla en vir my gesê sy kry nie asem nie. Toe bel ek ons dokter. Hy het uitgery plaas toe en ek het vir hom by die teerpad gewag, want hy het gesê hy weet nie hoe om tot by die huis te kom nie. My dogter het by haar ma by die huis gebly. Nadat ek die dokter by die teerpad gekry het, het ons dadelik huis toe gery. Die dokter het haar ondersoek, maar vir my gesê ons is te laat - sy is dood...” het oom Piet gesê.

Tannie Tina is omstreeks 20:00 daardie dag oorlede in die halfuur wat dit oom Piet geneem het om die dokter by die teerpad te gaan haal en terug te bring plaashuis toe. “Dit was so vinnig gewees,” het oom Piet gesê.

Volgens oom Piet was tannie Tina se dood die laaste ding wat hy verwag het. Hy het bygevoeg dat tannie Tina nie regtig gesukkel het met haar gesondheid nie, behalwe bietjie hoë bloeddruk en cholesterol. “Ek dink haar longe het platgeval of haar hart het gaan staan. Ek is nie seker nie,” het oom Piet gesê. Hy het egter bevestig dat Covid-19 amptelik as “natuurlike oorsaak” van tannie Tina se dood op haar doodsertifikaat gelys is.

Tot vandag toe nog weet Piet nie waar hy en sy vrou die virus opgedoen het nie. Hy het intussen negatief getoets. Vir hom gaan die lewe sonder sy vrou aan en hy het teruggekeer na sy besigheid toe. “Ons het baie daaroor gewonder. My mense wat vir my werk is nog almal hierso. Hulle is nie een siek nie. Tina was net by die winkel en by die huis en miskien by Checkers of Spar. Maar ek het nie ‘n idee nie. Ons moes dit verseker êrens in die publiek opgetel het,” het oom Piet gesê.

Wat laasgenoemde betref het oom Piet mense gewaarsku om weer te dink as hulle dink die virus is net ‘n ligte verkoue. “Daar bestaan nie so ‘n ding nie. Mense sal moet hulle maskers dra. As hulle die geringste simptome wys, moet hulle dokter toe gaan. Hulle moenie dink dit is net ‘n verkoue nie. Ek meen, ons het gedink dit is net ‘n verkoue ... Ek het regtig nie gedink dit is so ernstig nie. Nou besef ek hoe ernstig dit is,” het oom Piet gesê.

Nog ‘n Louis Trichardt egpaar wat beide positief getoets het vir die virus is oom Gert (70) en tannie San Coetzee (71). Soos met oom Piet en tannie Tina val hulle ook in die “hoë risiko” groep van mense wat die virus dalk nie kan oorleef nie weens hulle ouderdom. Tog was daar ‘n meer gelukkige einde aan hulle verhaal.

Oom Gert het ook Maandag sy en tannie San se storie oor hul worsteling met die virus met die Zoutpansberger gedeel. Alhoewel beide van hulle reeds verlede week uit die Zoutpansberg Privaathospitaal ontslaan is, verkeer hulle steeds in self-opgelegde kwarantyn. “Die huis se tralies is dikker as dik, maar ons gaan nêrens nie. Ons gaan aan. Die moegheid gaan egter nog nie weg nie,” het oom Gert gesê.

Oom Gert het vertel hoe hy begin siek voel het en hoe hy en tannie San beide op 2 Julie getoets is. Die volgende aand het hulle gehoor hulle uitslae was beide positief, waarna hulle op Saterdag, 4 Julie, in die Zoutpansberg Privaathospitaal opgeneem is. “Ek kan vir sou sê, ek het beelde gesien [hallusinasies]. Ek het vier keer ‘n nag nuwe lakens oorgekry in die hospitaal en skoon slaapklere aangetrek van koors...” het oom Gert vertel. Hy het vir vier dae met die hoë koors geworstel.

Tannie San het ook koors gehad, maar met gepaardgaande erge hoofpyn. “Ek is gewoond aan hoofpyn, want ek het ‘n rugprobleem … By my was dit koors,” het oom Gert gesê.

Tannie San en oom Gert is onderskeidelik verlede Donderdag en Vrydag uit die hospitaal ontslaan en sterk soos genoem tans verder tuis aan. Die moegheid bly ‘n probleem. “Ek het gister vir iemand gesê, as ek 10 treë loop, dan staan ek sewe treë lank. So erg is hy op my longe dat hy my so moeg maak. Tannie San ook dieselfde. Hy maak haar ook nog baie moeg,” het oom Gert gesê.

Te midde van die moegheid is die egpaar dankbaar. “Eintlik gaan dit wonderlik met ons! Ons jeug en jubel!” het oom Gert gesê. Hy glo vas daaraan dat die feit dat hy reeds voor die tyd gereeld ‘n bloedverdunner gedrink het, bygedra het tot sy herstel. “Dit en op die knieë bly en pelle wat vir jou bid! … Die Here se genade en sy hand het ons bewaar,” het hy bygevoeg.

Oom Gert het ook inwoners gewaarsku om nie die virus ligtelik op te vat nie. “Dit is nie ‘n flippen griep nie! Word wakker! Ek gun hom [Covid-19] nie vir ‘n hond nie,” het oom Gert gesê. Volgens hom het hy en tannie San die virus opgedoen by ‘n werksvriend wat in kontak was met ‘n persoon wat Covid-19 positief was. “Snaaks, hy het dit nooit gekry nie,” het oom Gert gesê.

Intussen sal ‘n roudiens vir wyle tannie Tina ná afloop van die opheffing van die streng Covid-19 regulasies gehou word. Sy word oorleef deur haar man Piet, haar dogter Natasha, Piet se dogters Lindie en Natasha, broer Tienie, suster Sannetjie, vyf kleinkinders en familie en vriende. “Dankie vir almal se boodskappe en oproepe. Daar is so baie en ons sal nie elkeen by die naam kan noem nie,” het oom Piet gesê.  

 
 
 

Viewed: 2216

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Oom Gert (70) en tannie San Coetzee (71) sterk tans tuis aan, nadat beide van hulle ook positief getoets het vir die gevreesde Covid-19 virus. Hulle het die publiek gewaarsku om nie die virus ligtelik op te vat nie. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT