ADVERTISEMENT:

 

 
 

Lizet Joubert van Lizet Joubert Property Professionals by haar agentskap se advertensiebord waarop iemand die afgelope naweek die gehate Nazi swastika gespuitverf het. Foto verskaf.

Agentskap woedend oor Nazi swastika op bord

Date: 24 July 2020 By: Andries van Zyl

Is dit bloot die werk van kwajongens wat verveeld was, of kan ‘n meer sinistere betekenis geheg word die gehate Nazi swastika wat die afgelope naweek op ‘n eiendomsagent van Louis Trichardt se advertensiebord geverf is?

“Vra dit! En dit hier reg voor ons kantoor!” het Lizet Joubert van Lizet Joubert Property Professionals gesê. Sy is woedend oor die groot swastika wat met swart verf oor die nuwe advertensiebord voor hulle kantoor op die hoek van Bauhinia- en Boababstraat geverf is.

Volgens Lizet het die opsetlike saakbeskadiging oor die naweek plaasgevind. “Ek het Saterdag nog tot so 14:00 gewerk, toe was hy nog reg gewees,” het Lizet gesê.

Lizet en ander personeel van die agentskap het Maandag op die toneel afgekom. Dit wou voorkom asof dit hulle enigste advertensiebord is wat beskadig is. “Ek dink dit sal waarskynlik die enigste een wees, want dit is te veel van ‘n risiko om rond te ry en agter op ‘n bakkie te staan en sulke goed te spuitverf,” het Lizet gesê. Haar vermoede is dat ‘n bakkie gebruik is, omdat mens moeilik die gehate teken op daardie hoogste sou kon spuitverf as jy op die grond gestaan het.

Die gebruik van die swastika om Lizet se advertensiebord te ontsier kom op ‘n baie slegte tyd. Wêreldwyd is rassespanning aan die toeneem oor die Black Lives Matter veldtog. ‘n Week vantevore het ‘n bom gebars oor ‘n EFF raadslid van die Makhado Munisipaliteit wat blykbaar homself voordoen as ‘n middeljarige blanke vrou op Twitter wat twiets gebaseer op rassestereotipering die wêreld instuur. Hy het egter intussen ontken dat dit hy is. “Dit is regtig slegte tydsberekening,” het Lizet gesê.

Hierdie is nie die eerste keer dat Lizet se agentskap se advertensieborde onder vandale deurloop nie. Verlede jaar het iemand al haar “Te Koop” bordjies wat sy in die dorp uitgesit het, gaan verwyder. In daardie stadium het sy gesê dat hulle as agente deurlopend sukkel met mense wat met hul advertensieborde peuter deur dit om te ry of uit te trek. “Dit is die hartseer realiteit van die samelewing waarin ons is,” het Lizet gesê.

Kort ná verlede jaar se voorval het Lizet ‘n beloning van R5 000 uitgeloof vir enige inligting wat kan help om die boosdoeners vas te trek. Ongelukkig het niemand met inligting na vore gekom nie. Ná die naweek se onsmaaklike skending van haar advertensiebord het Lizet ‘n beloning van R10 000 uitgeloof vir inligting wat sal lei tot ‘n arrestasie en skuldigbevinding. Sy het die saak by die polisie aangemeld. “Hopelik sal iemand nou na vore kom,” het Lizet gesê met verwysing na die beloning.

 

 
 
 

Viewed: 623

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT