ADVERTISEMENT:

 

 
 

Linda Oosthuysen se Ford Fiesta wat in die slag gebly het toe die wind die boom se een reusesytak afgeruk het.

Geluk by die ongeluk

Date: 18 July 2020 By: Andries van Zyl

Groot konsternasie het Saterdag by Ons Tuiste Ouetehuis op Louis Trichardt geheers, wat so te midde van die erge winterkoue die inwoners se adrenalien weer bietjie laat bruis en die harte laat vinniger klop het.

Die erge winterkoue wat die streek tans laat bibber is Saterdag voorafgegaan met by tye ‘n stormsterk rukwind. Talle bome het in die slag gebly, insluitend die reuse ou Tipoboom (Tipuana Tipo) op die sypaadjie voor Ons Tuiste. Die rukwind het een van die ou bosreus se reuse sytakke afgeruk, wat in die proses die enigste karretjie in die parkeerterrein voor die eetsaal te pletter geval het.

“Die was verskriklik gewees. Die het so net voor 10:00 die oggend gebeur. Gelukkig was die eetsaal leeg, want dit was al ná ontbyt. As hy dalk in etenstyd op die saal geval het, was dit miskien noodlottig,” het die bestuurder van Ons Tuiste, Kittie de Bruin, gesê. “Ons is verskriklik dankbaar niemand het seergekry nie, maar ek voel verskriklik sleg oor die karretjie,” het Kittie bygevoeg.

Volgens Kittie staan die ou groot Tipoboom al daar vandat sy 30 jaar gelede by die tehuis begin werk het. In die somer verskaf die boom welkome koelte aan die tehuis. Kittie sê hulle het al voorheen die boom se takke bietjie gesnoei om dit ligter te maak, uit vrees dat die takke (of boom) dalk op die eetsaal kan val. “Maar niemand het egter gedink so ‘n groot boom sal so buig en breek in die wind nie,” het Kittie gesê.

Alhoewel hy nie self gesien het wat gebeur het nie, was inwoner oom Bobby Eyssell eweneens dankbaar niemand het seergekry nie. “Ons het maar ná die tyd gehoor. Ons is net dankbaar die boom het nie op die eetsaal geval nie Die wind het hom gegryp en doodeenvoudig gebreek. Gelukkig het hy westekant toe geval en nie oostekant nie, anders was hier baie groot skade,” het oom Bobby gesê.

Oom Bobby het ook gesê hy voel baie jammer vir die eienaar van die karretjie, wat hy kort ná die slag daar gekry het. “Die eerste ding wat ek haar gevra het, was of daar kinders in die kar was. Gelukkig was daar nie. Omdat ons nie mag besoekers kry nie, kom mense soms hier aan en los hul kinders in die kar. Dan gesels hulle vinnig deur die heining en dan ry hulle weer,” het oom Bobby gesê.

Dit is presies wat Linda Oosthuysen oorgekom het. Dit was haar motor wat in die slag gebly het. “Wat kan ‘n mens sê. Dit was so ‘n skok,” het Linda Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê terwyl sy vertel het wat gebeur het.

“Ek moes ‘n tannie [‘n lewenslange vriend van haar] vir ‘n baie kort rukkie sien, maar ek kon nie ingaan nie en sy kon nie uitkom nie. Ek het juis in daardie hoek parkeer, want haar woonstel is net om die draai van daar. Ek het gedink sy kan net tot daar by my karretjie stap, dan praat ons vinnig deur die heining en dan kan ek net weer in my karretjie klim en ry,” het Linda gesê.

Vir een of ander rede het die tannie egter besluit om eerder haar vriendin by die heining by die tehuis se voorstoep te ontmoet. “Toe kom sy deur die anderkant by die hoofdeur en laat my weet ons moet eerder deur die heining by die personeel se parkeerarea praat. Terwyl ons so staan en gesels, hoor ek iets wat kraak, maar ek steur my nie daarna nie. Ek het regtig nie gedink dit is ‘n boom nie,” het Linda gesê.

In ‘n stadium moes iemand geskreeu het dat die boom gaan val. “Ek het egter bietjie gehoorprobleme, so ek het nie gehoor wat skreeu die persoon nie. Die tannie [met wie Linda gesels het] het net een of twee treë terug gegee en iets gesê in die lyn van ‘Die boom gaan op jou kar val!’ Instinktief begin ek te hardloop, en ek was net ‘n paar treë van my kar af toe val daai boom op hom!” het Linda vertel. Sy het in daardie stadium gesê sy het steeds geglo, eintlik gehoop, dat die boom langs haar karretjie geval het. “Maar toe ek so deur die takke klim, toe sien ek, nee, hy is op my kar.”

Linda is egter daarvan oortuig dat dit erger kon gewees het. “As ek vinniger gehardloop het, of as ek daardie vrou gehoor het toe sy die eerste keer geskreeu het, het ek dalk gehardloop om my kar weg te trek. Miskien kon ek net ingeklim het en dan het die boom geval. Hy sou my definitief doodgeval het of seergemaak het. As jy kyk na die foto’s, daardie een stomp het presies daar op die dak gelê waar ek sou gesit het,” het Linda gesê.

Linda se Ford Fiesta is erg beskadig en is Dinsdag afgeskryf deur die versekering, wat sy gelukkig gehad het. “Die ou karretjie is al oud, maar hy is klaar betaal en dit is myne. Net verlede jaar Julie het ek per ongeluk in ‘n lamppaal in ge-reverse. Toe het ek hom laat regmaak - die hele agterste gedeelte van my kar, en daar was ook ‘n vroeëre stamp op die kattebakdeksel – alles het ek mooi laat regmaak. Ek het sommer die voorste buffer ook laat regmaak en nuwe sitplekoortreksels laat insit. Ek het my karretjie so geniet, want alles was weer reg! Nou, presies ‘n jaar later, gebeur hierdie ding!”

Vir Linda was die feit dat sy versekering gehad het ‘n wonderwerk. “Net Donderdag voor die ding, toe bel ‘n ander versekeringsmaatskappy my om my af te rokkel van die een wat ek het. Hulle gee toe vir my ‘n goedkoper kwotasie en goedkoper paaiemente per maand. Maar ek hou nie van chop and change nie, en ek sê toe vir die outjie hy moet my net kans gee om daaroor te dink oor die naweek. Snaaks genoeg word ek Saterdagoggend wakker en ek lê nog so en dink, toe dink ek: Nee, ek gaan nie van verskering verander nie, want ek wil ‘n lang rekord hê by een maatskappy. Dan het jy beter voordele op die einde as jy dit nodig het. Dit is net sowel, want dink jouself in, ek het Donderdag my verskering gekanselleer, dan was ek Saterdag sonder versekering,” het Linda gesê.

So die karretjie kan vervang word en gelukkig het nie Linda of iemand anders seergekry nie. “As die boom ander kant toe geval het, het hy die ouetehuis getref.” Daar was ook ‘n ander “toevalligheid” wat Linda eerder as ‘n wonderwerk beskryf. “As die tannie nie besluit het om eerder by die voordeur uit te kom en daar te gesels nie, het die boom dalk op altwee van ons geval.”

Maar Linda mis haar karretjie. “So iets het nog nooit met iemand in my familie gebeur nie. Dat dit nou met my moes gebeur!? Ek was gelukkig om weg te stap, maar die skok was nog steeds vir my baie erg. Ek en die karretjie is al 16 jaar beste maatjies…” het Linda gesê.

Kittie het Dinsdag haar opregte dank uitgespreek teenoor die Makhado Munisipaliteit, wat feitlik dadelik mense gestuur het om die takke vanaf die sypaadjie en pad te verwyder. Sy het ook vir Louis en Simon Sauer en Pieter Schlesinger van Sandberg bedank wat masjinerie en arbeiders beskikbaar gestel het om tot Dinsdag toe nog die takke te snoei en weg te ry. Die boom is nie heeltemal uitgehaal nie en staan nou net ‘n paar meter hoog. Almal is dit eens dat hy weer sal uitloop.

 

 
 
 

Viewed: 867

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Dié reuse Tiboboom het Saterdag die parkeerarea en pad voor Ons Tuiste Ouetehuis versper nadat ‘n rukwind die boom feitlik middeldeur geskeur het. Ongelukkig het die enigste voertuig in die parkeerterrein in die slag gebly.

‘n Nadere kykie na die reusetak wat deur die rukwind afgebreek is. Gelukkig vir die ouetehuis het die tak nie op die eetsaal geval nie. Ongelukkig het dit wel op ‘n kar in die parkeerterrein geland. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT