ADVERTISEMENT:

 

 
 

Lillian se voltooide kunswerk van ‘n vrou wat op die maan sit.

Lillian hard besig om ‘n skitterblink wêreld te skep

Date: 16 July 2020 By: Pétria de Vaal

Om ‘n skitterblink wêreld te skep in hierdie donker tye wil gedoen wees – iets waarmee tannie Lillian Meintjes van Louis Trichardt haarself besig hou. Heelwat mense bó die ouderdom van 60 jaar is genoodsaak om vir veiligheid liefs in afsondering te bly. Vir baie het Covid-19 die ideale geleentheid geskep om hulleself in een of ander stokperdjie uit te leef.

Lillian het as Kersgeskenk in 2019 ‘n paar “Diamond Dot” kunswerke van haar dogter ontvang. “Ek is nog altyd lief vir kuns en kultuur,” sê Lillian. “In groot stede is hierdie nuwe neiging alreeds ou nuus, maar vir my was dit nuut, vars, en steeds heerlik om te doen.”

Die prent wat bestel kan word, is soortgelyk aan die “verf per nommer”-tegniek wat jare gelede baie gewild was.  Volgens Lillian kans mens kies uit ‘n magdom ontwerpe en groottes.  Ontwerpe is volop en sluit in abstrakte ontwerpe, wildlewe, blomme, kinderprente, Disney-ontwerpe, perde, sportmotors, en ander voertuie asook vrouefigure en meer romantiese tonele.

Lillian verkies die laaste twee soorte. Die kleure is sag en mooi. Vloeiende lyne laat dit pragtig vertoon. ‘n Vertrek vol van hierdie prente begin letterlik “lewe” wanneer dit begin donker word saans. Vandaar die naam “Diamond Dot Painting”.

Lillian vertel gretig hoe ‘n mens te werk gaan om die kunswerk te voltooi Die ontwerp is bedek met ‘n plastiekfilm. Die oppervlak is gegom. Die plastiekfilm word afgetrek wanneer mens begin om die “diamante” daarop te plak. As mens vinnig daarna kyk, lyk dit soos die gaatjies van ‘n tapisserie, maar dit is egter die nommers en alfabetletters in swart – bo-op elke sirkeltjie – wat dit van ver af na ‘n gaatjie laat lyk. By nadere aanskoue sien ‘n mens die nommers of letters. Die diamante lyk soos piepklein kraletjies. Dit het ‘n plat kant en ‘n driedimensionele kant, wat letterlik soos ‘n geslypte diamant lyk. ‘n Bestanddeel binne-in laat dit blink as lig daar op val.

Volgens Lillian kom elke ontwerp kompleet met die genommerde kleure diamante, ‘n klein bakkie met ‘n tipe tuit vooraan, asook ‘n soort pen. Die pen word eers teen ‘n waslagie gedruk - dan tel die punt die diamantjie op.  Die korrekte kleur diamante is reeds vooraf in die bakkie gegooi en op hierdie manier word hulle een vir een opgetel en neergesit op die taai, genommerde sirkeltjie. Hierdie aksie van optel en akkuraat neerplaas, verg heelwat vaardigheid en geduld (en goeie oë!). ‘n Mens moet ook baie sekermaak dat die plat kant onder is wat teen die taai oppervlak geplak word. Nagenoeg 22 000 diamante was nodig om een van die ontwerpe (‘n vrouefiguur wat op ‘n maan sit) te voltooi. Hierdie ontwerp se afmetings is 52 x 68 cm. Lillian sê sy het ongeveer ses weke hieraan gewerk, wat vinnig is; dit sou haar normaalweg twee maande geneem het.

Die diamante waarmee Lillian werk, is elk maar ongeveer twee millimeter in deursnit. “’n Mens kry egter ook verskillende groottes en vorms – afhangend van die ontwerp. Kinders werk gewoonlik met groter diamante,” sê Lillian.

Sommige ontwerpe word in geheel met diamante bedek, ander net gedeeltelik.  “Dit hang alles af van die ontwerp en watter dele gegom en genommer is,” sê Lillian.  Sy beveel aan dat indien enigiemand hierdie kunsvorm wil aanpak, hulle eers met ‘n kleiner ontwerp begin. Haar goeie raad is ook om net aan een ontwerp op ‘n slag te werk en dit af te handel, “anders sal jy gou moedeloos word”, sê sy.

Op ‘n vraag of Lillian al besluit het wat sy met haar pragtige kunswerke gaan doen, noem sy dat sy nog nie weet nie. “Dit sal waarskynlik geraam word en dien as geskenke vir die kinders en ander familie,” sê sy. Sy noem ook dat die vreugde om so-iets te maak maklik kan verdwyn wanneer dit byvoorbeeld op bestelling gedoen word. “Hierdie kunsvorm is pret en is geweldig terapeuties,” sê Lillian.

Inwoners bo 60 jaar word uitgenooi om die Zoutpansberger te kontak met die interessante stokperdjies wat hulle spesifiek gedurende die grendeltyd besighou.

 

 
 
 

Viewed: 799

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

Tannie Lillian Meintjies wil ‘n skitterblink wêreld skep in hierdie donker tye met haar stokperdjie.

Lillian besig om met die pen die klein “diamantjies” uit die bakkie op die patroon te plaas. Dit is fyn werk en jy het nogal “goeie oë” nodig.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT