ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Skermgreep van die kommentaar op Linda van Tonder se Facebook-plasing op Louis Trichardt Funkmail op 19 Junie. Sy het gevra of daar nog mense is wat belaglike kragrekeninge vanaf die munisipaliteit ontvang het.

Talle inwoners kry kragskok op maandelikse rekening

Date: 11 July 2020 By: Andries van Zyl

Asof die Covid-19 pandemie nie vir baie mense genoeg kopsere berokken ten opsigte van werksverliese en verlies aan inkomste nie, wil dit voorkom asof kragverbruikers nou ook sommer dubbel soveel moet betaal vir hulle maandelikse munisipale verbruik.

Sosiale media platforms het die afgelope paar weke gegons met inwoners van Louis Trichardt wat gekla het oor die skynbaar onverklaarbare verhoging in die Makhado Munisipaliteit se elektrisiteitstariewe. “Is daar nog mense wat ‘n belaglike kragrekening gekry het?” wou Linda van Tonder op 19 Junie op Louis Trichardt Funkmail se Facebook-blad weet. Gou het 32 mense haar geantwoord.

In meeste gevalle het die klaers gesê hulle rekeninge was sommer dubbel soveel as vorige maande. “Ja, dit is belaglik. Dis onmoontlik,” het Santie Pavier Booyens geskryf. Sommige mense se gemiddelde maandelikse rekening het vanaf R3 000 na R5 800, van R1 500 na R4 000, en self groter, belaglike verhogings van R1 500 na sommer R16 000 gespring.

“Toe ons nog in die dorp gebly het, het ons dit gereeld gekry. Ek het al begin dink die honde gebruik die appliances as ons by die werk is,” was Colleen Badenhorst Coetser se kommentaar. Plaaslike inwoner Craig Lee was uiters krities oor die munisipaliteit. “Die munisipaliteit doen nie hulle werk nie. Dis mos Covid-19, nou doen ons niks. Was vandag by meterlesing agente, hul doen die werk ma die opdatering word nie reg by die munisipaliteit gedoen nie,” het Lee gesê.

Letitia Weyers het in haar Facebook-kommentaar bespiegel oor waarom die tariewe so hoog is. “Met ons ook gebeur en het agtergekom die meter is twee weke later gelees as gewoonlik, so dan betaal jy op die duurder glyskaal, buiten vir die twee weke ekstra elektrisiteit,” het sy geskryf.

Weyers se “teorie” oor die hoër tariewe was soortgelyk aan inwoner Michael Scott se argument. Hy was een van talle inwoners wat die Zoutpansberger genader het om oor die hoë rekeninge te kla.

Scott sê hy het die afgelope paar weke al ure by die munisipaliteit spandeer om die probleem opgelos te probeer kry. Hy word egter die heel tyd van bakboord na stuurboord gestuur. Scott het vertel dat hy die een dag die munisipaliteit geskakel het, waarna hy deurgesit is na die rekeninge afdeling waar ‘n vrou geantwoord het. “Toe ek sê ons sukkel met die rekeninge het sy, sonder om die gehoorstuk toe te maak, in haar taal vir haar kollegas gesê: ‘Another customer, ha, ha, ha!’ Toe lag hulle kliphard vir my en sy sê nee, hulle rekeninge is reg en ons is verkeerd,” het Scott gesê.

Scott sê hy is ook deur ‘n munisipale amptenaar ingelig dat die hoë rekeninge toegeskryf kan word daaraan dat die lesings nie geneem is op die dag wat op die rekeninge aangedui word nie. Hy beweer die man het vir hom gesê die lesings word op die 23ste van elke maand geneem, en nie op die 15de, soos op die rekeninge aangedui word nie. “Daar is ‘n hele klomp mense wat nou sukkel met hulle rekeninge en die munisipaliteit dink dit is ‘n groot grap as jy vir hulp vra,” het Scott gesê.

Volgens Scott was die munisipaliteit selfs al by sy huis, waar hulle bevind het sy meter is foutief. Tog, het hy gesê, hou hulle vol met die holruggeryde argument van: Betaal die bedrag, dan sorteer ons later die probleem uit. “Almal sê hulle gaan dit uitsorteer, maar daar word niks uitgesorteer nie,” het Scott gesê. Intussen het hy al twee finale aanmanings vanaf die munisipaliteit ontvang vir die buitensporige hoë rekeninge.

Makhado munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi is op 29 Junie genader vir kommentaar. Hy is gevra of hy bewus is van die talle klagtes rondom buitensporige hoë elektrisiteitsrekeninge. Hierop het hy geantwoord dat die munisipaliteit blykbaar nie bewus is van enige klagtes rondom rekeninge nie. Bobodi is ook spesifieke vrae gevra rondom onder meer bewerings dat amptenare dink dit is ‘n grap wanneer ‘n lid van die publiek hulle skakel met ‘n klagte. In antwoord het Bobodi gesê dat hy die lys van spesifieke klagtes en beweringe na die relevante departement gestuur het vir kommentaar. Maandag hierdie week het Bobodi aangedui dat hy steeds wag op terugvoering van die betrokke departement.

 

 
 
 

Viewed: 988

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT