ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom Rolf (79) en tannie Gerda (73) is bly om weer by die huis te wees, nadat oom Rolf in Italië deur die gevreesde Covid-19 virus platgetrek is.

Oom Rolf gee virus 'n uitklophou

Date: 05 July 2020 By: Andries van Zyl

Vir oom Rolf (79) en tannie Gerda Schlieben (73) is daar geen groter vreugde as om weer veilig terug te wees op hul plaas in die rustige Soutpansberg nie.

“Ek sal vir jou sê, dit is ‘n ervaring wat ek nooit, ooit, ooit weer sal wil deurmaak nie. Sjoe! Ek raak erg emosioneel hieroor! Jy weet, ek is so dankbaar ek is hier!” sê oom Rolf. Dit nadat die egpaar se een-maand-lange bootreis drie maande geword het toe oom Rolf die gevreesde Covid-19 virus opgedoen het. In totaal was oom Rolf en tannie Gerda 80 dae in isolasie, waarvan om Rolf 11 dae in die hoësorg-eenheid van ‘n Italiaanse hospitaal in Rome gelê het en daarna 29 dae in ‘n hersteleenheid deurgebring het.

Vir dié getroude paartjie van 20 jaar was die bootreis iets waarna hulle geweldig uitgesien het. Alles het egter in ‘n nagmerrie ontaard nadat hulle in Italië gedok het. “Die skip het in Savona gedok. Ons is per bus, nege ure lank, na Rome toe. Op daardie bus het ek die blerrie virus gekry,” vertel oom Rolf.

In Rome is die egpaar en hul toergroep vanweë die Covid-19 pandemie vanaf 23 Maart tot 7 April in hulle hotel in kwarantyn geplaas. “Ons het uit kartonne geleef. Dit was net pasta, pasta en pasta!” onthou oom Rolf.

Op Dinsdag, 7 April, het oom Rolf-hulle se lewe ‘n dramatiese wending geneem. “Op die 15de dag in die hotel saam met Gerda, toe kry ek mos die aanval. Toe vat die virus my. Ek was blou om die mond en toe ek wakker word, toe lê ek in die hospitaal. Dit was die 7de April,” sê oom Rolf.

Oom Rolf sou die volgende paar dae [tot 15 April] in isolasie in die hoësorg-eenheid van die Sandro Pertini hospitaal in Rome deurbring, sonder enige kontak met tannie Gerda. “Die dag toe ek 79 geword het, 14 April vanjaar, was ek sewe dae in die hospitaal. Ek kan nie Italiaans praat nie. Hulle praat net Italiaans. Ek weet van bokkerol, ek sterk goed aan, maar ek weet glad nie wat met Gerda gebeur het nie. Sy het agtergebly in die hotel, ook in kwarantyn,” vertel oom Rolf.

Toe gebeur daar iets wonderbaarlik ...

“Daar kom ‘n verpleegster aan - ek noem haar ‘n engel uit die hemel uit - die oggend om halfses. Sy sê ‘Bonjour’ en ek sê terug ‘Good Morning’. ‘O, you are English. From where are you?’ wou sy weet. Ek sê toe vir haar Suid-Afrika en vra of sy my kan help? My vrou is in hierdie kamernommer in hierdie hotel. Ek verjaar vandag en ek weet nie of sy positief of negatief getoets het nie. Ek het nie geweet of sy aangesteek het by my of nie. Ek weet nie of sy in die hotel, hospitaal of waar sy is nie. Sy [die verpleegster] stap na die bed langs my (ons was net vier in die kamer) en sy vat die een ou se selfoon. Hy slaap. Sy tik daar die nommer van die hotel in. Sy vra vir kamer 501 en hier antwoord my vrou...” vertel oom Rolf, en jy hoor die emosie in sy stem. “Dit is hoe dit met ons daar gegaan het...” sê hy.

Oom Rolf is op 15 April uit die hospitaal ontslaan en oorgeplaas na ‘n hersteleenheid in ‘n klein “agterstraat” hotelletjie. Vir oom Rolf was dit egter meer van ‘n detensiesentrum gewees. “Ek sê vir jou, nader aan hel kry jy nie! Ek het swaargekry daar,” sê hy.

Oom Rolf het vertel dat 99% van die ander mense saam met hom in die hersteleenheid afkomstig was vanuit Oos-Afrika. “Die meeste was Soedannese. Ons was onder weermagbewaking, want die Soedannese probeer elke keer ontsnap. Boy, o boy!” onthou oom Rolf.

Dit was egter die behandeling en kos wat hulle in die sentrum ontvang het wat nou nog ‘n wrang smaak in oom Rolf se mond los. “Die hospitaalkos was mooi. Dit is opgestel deur ‘n dieetkundige en dit was gebalanseerd. Maar daardie detensiesentrum! Die ouens het nie ‘n duiwel vir jou omgegee nie. Die vrou wat die vloere was, het my so uitgevreet omdat ek te vinnig die water van my voordeur weggevat het. Ek het ‘n Italiaanse agtergrond, want ek het Italiaans gepraat as kind. Ek was in ‘n skool in Italië. Ek het net vir haar in Italiaans gesê: ‘Haai! Ek is nie ‘n vark nie! Verstaan jy?’ Sy het groot geskrik en daarvandaan het ek vir haar gesê dat as ek haar groet, dan groet sy terug. Ek het vir haar gesê ek is ‘n blerrie mens, ek is nie ‘n dier nie!” sê oom Rolf.

Oom Rolf het op 11 Mei negatief getoets vir die virus en op 15 Mei weer. Op 16 Mei sou hy die blye nuus ontvang dat sy taxi gereed was. “Jy kan na jou vrou toe gaan,” is oom Rolf meegedeel. Dit sou die eerste kontak wees wat hy met tannie Gerda gehad het sedert hy in die hospitaal opgeneem is. “Die enigste ding wat my aan die gang gehou het, was dat sy my nege-uur die oggend, drie-uur die middag en nege-uur in die aand gebel het. Ek kon nie uitbel nie, maar sy kon inbel,” vertel oom Rolf. Nog iets wat oom Rolf “gered” het, was sy boek met 500 Sudokus.  

Wonder bo wonder het tannie Gerda nooit die virus opgetel nie. “Sy was baie gelukkig. Sy was ‘n dag in die hospitaal en hulle het allerhande toetse op haar gedoen. Sy was eers positief getoets met die neus toets, maar toe toets hulle haar bloed en toe wys sy negatief. Volledig negatief. Sy is nog twee keer daarna weer met die mond en neus metode getoets en sy was negatief,” sê oom Rolf.

In die stadium wat oom Rolf uit die hersteleenheid ontslaan is, het hy en tannie Gerda alreeds ‘n week gewag vir ‘n vlug terug na Suid-Afrika. Die skeepsagente kon daarin slaag om ‘n vlug te reël, en op Sondag, 24 Mei, het die egpaar op OR Tambo Lughawe geland. Die vlug vanaf Rome na Parys en vanaf Parys na Doha, waar hulle oorgeslaap het, was uitputtend.

Terug in Suid-Afrika moes die egpaar nog 14 dae in kwarantyn bly, net om seker te maak. Hulle was deel van ‘n groep van sowat 260 mense wat saam met hulle teruggevlieg het en by The Capital on the Park hotel in Sandton in kwarantyn geplaas is. “Dit was die laaste hekkie wat ek moes oorkom,” sê oom Rolf.

Oom Rolf het finaal negatief vir die virus getoets. Tans is hy en tannie Gerda terug op hul plaas buite Louis Trichardt en geniet die “vryheid”. Waarna oom Rolf die meeste uitgesien het, was om weer ‘n lekker stuk biltong en Jungle Oats te eet. “Jy weet, ek het kanker oorleef. Ek is nou vier jaar sonder kanker. Nou het ek die virus oorleef. Nou raak ek te oud! Ek weet nie hoeveel lewens het ek nog nie!” lag oom Rolf.

Oom Rolf is baie dankbaar vir almal wat hom en tannie Gerda die afgelope paar weke bygestaan en vir hulle gebid het. “Jy moet sê dat ek vreeslik dankbaar is vir die mense wat vir my gebid het. Vernaam my buurman, Prof Koos van Rooy. Ons het saam gebid oor die telefoon. Ek is ook dankbaar vir Braam Helberg en sy vrou. Hulle het elke Saterdagmiddag gebel,” sê oom Rolf. Hy skryf sy herstel toe aan die Here se genade. “Ons het tydens ons verblyf in Rome weereens besef dat ons lewens in Sy hande is. God het ons elke dag gedra en ons gehelp om sin te maak van die situasie waarin ons ons bevind het. Steeds beleef ons God se genade met groot dankbaarheid. Dit was vir ons goed om al die angs te ervaar, ‘want God is goed. Sy goedheid duur vir altyd’ (Psalm 118: 29),” het die egpaar gesê. Hulle het ook oom Rolf se matriekgroep van 1959 bedank vir hulle getroue gebedsgroep. “Hoe langer ons terug is, hoe langer raak die lys van name van mense wat ons wil bedank,” sê oom Rolf. Hy het bygevoeg dat hy dit nie genoeg kan beklemtoon hoe absoluut fantasties die dokters en personeel van die Sandro Pertini hospitaal in Rome se behandeling was nie.

 
 
 

Viewed: 1554

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT