ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image.

TLU SA uiters krities oor Makhado begroting

Date: 04 July 2020 By: 

Die Makhado Munisipaliteit het onlangs hul 2020/21 begroting goedgekeur en sal dit amptelik op 7 Julie aankondig. Bietjie meer as ‘n maand gelede is die publiek uitgenooi om insette te lewer ten opsigte van die begroting, veral ten opsigte van die geïntegreerde ontwikkelingsplan (IDP). Sommige mense en instansies meen egter hulle het nie genoeg tyd gehad om die dokumente te bestudeer en insette te lewer nie.

Een van hierdie ongelukkige organisasies is die TLU SA. Me. Erika Helm, plaaslike regering voorsitter van die TLU SA, het in ‘n verklaring gesê dat die land se ekonomie tans op sy laagste is sedert 1994. Volgens haar het die inperkingsmaatreëls ook die landbouer geweldig nadelig getref en meen sy dat nou die tyd is vir die regering, en spesifiek ook plaaslike regerings, om te help om die ekonomie weer op te bou. “Die Grondwet van Suid-Afrika plaas ‘n verantwoordelikheid op die regering om die welvaart van alle persone te verseker binne die Republiek … Die doelwit van plaaslike regering in die wetgewing bepaal duidelik dat sosiale en ekonomiese ontwikkeling bevorder moet word, asook die bevordering van ‘n veilige en gesonde omgewing,” het Helm gesê.

Helm het gesê dat TLU SA op 1 Julie ‘n nasionale projek loods ten einde ‘n beroep te doen op alle munisipaliteite binne die land om hulle fundamentele verpligtinge na te kom. “Die heroorweging van eiendomsbelastingtariewe vir die 2020/2021 belastingjaar behoort die grondslag te vorm vir enige ekonomiese verligting,” het Helm gesê. Sy het egter bygevoeg dat die drastiese verskil in tariewe deur aangrensende munisipaliteite vir hulle ‘n bron van kommer is. Hierdie aspek, het sy gesê, kan uitgelig word deur die groot verskil tussen Blouberg Munisipaliteit en Makhado Munisipaliteit te vergelyk. “Landbou het met groot tevredenheid kennis geneem van die wyse waarop Blouberg Munisipaliteit sy inwoners ondersteun het deur reeds aan te dui dat eiendomsbelasting op landbougrond verminder is vir die volgende belastingjaar.  Die enorme verskil in eiendomsbelasting tussen aangrensende munisipaliteite voldoen nie aan die Grondwet se bepaling waarin belasting uitgeoefen moet word op ‘n wyse wat nie wesenlik en onredelik die ekonomiese aktiwiteite tussen munisipale grense benadeel nie,” het Helm gesê.

‘n Verdere verantwoordelikheid, het Helm gesê, is om tariewe bekostigbaar te hou sodat die reeds sukkelende inwoners in die gebied beskerm word teen onregverdige uitbuiting wat die sosiale en ekonomiese groei belemmer. “Daar word ‘n beroep gedoen op die Makhado Munisipaliteit om die opsie van ‘n ekonomiese impakstudie deur onafhanklike partye binne sy grense te onderneem om hulself te vrywaar teen onbillike en onregverdige ekonomiese uitbuiting van die inwoners van die land,” het Helm gesê.

Helm het weereens beklemtoon dat eienaarskap een van die belangrikste faktore is wat ontwikkeling en uitbou van die ekonomie ondersteun. “Die huidige situasie van onteiening sonder vergoeding het ‘n wesenlike negatiewe invloed op die gesonde basis van eienaarskap. Die waardasie van ‘n eiendom word bepaal deur ‘n gesonde en vrye behoefte wat bestaan tussen ‘n gewillige koper en gewillige verkoper sonder ‘n verpligting om in ‘n kooptransaksie betrokke te raak.  Die behoefte om eiendom teen markwaarde aan te koop met die oog op onteiening teen R0 vergoeding ontmoedig enige behoefte om eiendom aan te skaf,” het Helm gesê.  Hierdie aspek, meen sy, het ‘n daadwerklike invloed op die waarde van enige eiendom. “Die moontlikheid bestaan dus dat munisipaliteite die grondeienaar uitbuit om grondbelasting te hef op ‘n waarde wat opgeblaas is en nie die werklikheid weerspieël nie. Daar is dus ‘n verpligting op elke munisipaliteit om binne hulle beplanningsraamwerk ‘n algemene waardasierol te onderneem binne die volgende boekjaar wat aanvang neem 1 Julie, ten einde te waak teen die onbillike uitbuiting van die inwoners van die munisipaliteit,” het Helm gesê.

Wat die Makhado Munisipaliteit se opkomende begroting betref, het Helm gesê daar is met kommer kennis geneem dat die Makhado Munisipaliteit se kennisgewing van hulle Ontwikkelingsplan en begroting eers op 29 Mei 2020 in die Zoutpansberger verskyn het, terwyl dit ook volgens haar die enigste kennisgewing was, ten spyte van die inperkingsmaatreëls van “bly by die huis, bly veilig” wat gedurende daardie tydperk op elke inwoner gerus het. “Die dokument is 274 bladsye en die inwoners het slegs 15 werksdae gehad om hierdie dokument te beskou, indien daar wel kennis geneem is daarvan.  Die landbou-unie, wat reeds vir jare betrokke is by die munisipaliteit en jaarliks kommentaar lewer, moes gedweë kennis neem dat selfs hulle kantore nie deur ‘n boodskap van die Ontwikkelingsplan en begroting ingelig is nie. Die Makhado Munisipaliteit het dus binne die grendeltydperk geensins enige addisionele aksies geneem om buite die norm die publiek in kennis te stel van die voorgestelde ontwikkeling nie,” het Helm gesê.  

Volgens Helm is eiendomsbelasting deel van ‘n publieke deelnameproses waarin die tarief wat betaalbaar is vir die finansiële jaar bekendgemaak moet word, sodat insette gegee kan word aangesien dit ‘n impak het op die finansiële situasie van die inwoner. “Hierdie inligting ontbreek in die ontwikkelingsplan, en geen kennisgewing is in die plaaslike koerant waargeneem nie. Dit is ontstellend, die wyse waarop die Makhado Munisipaliteit eiendomsbelasting op die grondeienaar afdwing, maar hulle verpligting rakende die publiek se deelname in die vasstelling daarvan heeltemal ignoreer,” het Helm gesê.

 

 
 
 

Viewed: 949

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT