ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die toneel by BP Louis Trichardt Dinsdagoggend. Lang toue voertuie en vragmotors het by die dieselpompe gewag om vol te maak. Volgens plaaslike vulstasie-eienaars word hier en daar probleme ondervind met brandstofvoorsiening, maar niks om oor bekommerd te raak nie.

Tekort aan brandstof nie rede vir paniek nie

Date: 03 July 2020 By: Andries van Zyl

Al hoe meer gerugte gaan rond dat die land ‘n totale brandstoftekort in die gesig staar. Uit gesprekke met plaaslike vulstasie-eienaars word dit egter gou duidelik dat alhoewel probleme tans ervaar word met brandstofvoorsiening, dit nie iets is om oor bekommerd te raak nie.

Dié gerugte het sedert begin Junie in intensiteit begin toeneem, nadat verskeie brandstofverskaffers hulle kliënte in kennis gestel het dat daar in daardie stadium brandstoftekorte in die land was. Dit kon toegeskryf word aan die feit dat van die land se raffinaderye nog gesluit was vir instandhouding, of nog in die proses was op “aanlyn” te kom. Die tekort is verder vererger weens die feit dat die brandstofpyplyn vanaf die kus na Gauteng ‘n lek opgedoen het.

Die Zoutpansberger het Dinsdagoggend ‘n oproep ontvang van ‘n leser. “Julle moet bietjie gaan kyk hoe lyk dit daar by Bridge Auto. Die motors en vragmotors staan toue! Daai dieseltenke is leeg!” het die leser beweer.

Toue mense het inderdaad gewag by BP Louis Trichardt. Die rede hiervoor was egter nie net vanweë bogenoemde situasie vroeër die maand in die land nie. “Ons het so bietjie van ‘n dieselprobleem, maar dit is nie so erg nie. Wat by BP gebeur het, is hulle het in hierdie selfde tyd van kontrakteur verander wat hulle diesel en petrol aflewer. Maandag en Dinsdag was hulle besig met die oorskakeling van kontrakteurs. Die nuwe kontrakteurs is egter laat met hulle heel eerste aflewering by my. Hulle moes al gister afgelewer het, maar hulle gaan seker vandag aflewer,” het mnr. Rampie Gilfillan, eienaar van BP Louis Trichardt, Dinsdag gesê.

Gilfillan het erken dat daar bietjie van ‘n dieseltekort bestaan, maar het bygevoeg dat die probleem bestuurbaar is. “Ek dink nie dit gaan teen die einde van die week nog ‘n probleem wees nie. My probleem is tans eerder my afleweringsdiens as die beskikbaarheid van brandstof,” het Gilfillan gesê.

Volgens Gilfillan het die “tekorte” by brandstofpompe tans ook ‘n ander oorsaak.  “Môre [Woensdag] gaan die brandstofpryse redelik op, so die verskaffers wil nie regtig voor die verhoging aflewer nie. Hulle sal dit nooit erken nie, maar dit is so … Altyd hierdie tyd as die pryse opgaan, dan sukkel ons om brandstof te kry. As die prys afgaan, dan kry jy maklik brandstof. Dan is daar ook nie ‘n vragmotor probleem nie. Dit is maar een van die uitdagings van ons besigheid,” het Gilfillan gesê.

Inderdaad het brandstofpryse om middernag op 1 Julie redelik dramaties gestyg. Die prys van 95 petrol het met R1,72 per liter gestyg, terwyl 93 petrol met R1,63 per liter gestyg het. Diesel 0.05% het gestyg met R1.73 per liter, terwyl diesel 0.005% met R1.69 per liter gestyg het.

Nog ‘n vulstasie-eienaar met wie die Zoutpansberger gaan gesels het oor die tekorte tans, is mnr. Nardus Barnard, bestuurder van Palm Vulstasie.

“Daar is definitief ‘n tekort. Ons sukkel maar om diesel en petrol te kry. Petrol van 95 oktaan is uitgesorteer, maar petrol van 93 oktaan is wel ‘n probleem tans by my,” het Barnard Woensdag gesê.

Volgens hom is die tekorte weliswaar veroorsaak toe die raffinaderye toegemaak het vir instandhouding tydens Vlak 5 van die grendeltydperk. Toe daar na Vlak 4 beweeg is, het Barnard gesê, was die aanvraag veel groter as die beskikbare reserwes, wat gelei het tot ‘n tekort. Weens die tekort is begin met die invoer van brandstof per skip, maar die huidige Covid-19 regulasies vertraag die aflewering van hierdie brandstof geweldig in hawens. “Dit is maar die situasie wat aan ons verduidelik is,” het Barnard gesê.

Hy meen egter ook dat die situasie bestuurbaar is. “Hulle [sy verskaffer] stuur nog elke dag ‘n trok na my toe wat aflaai,” het Barnard gesê. Hy het bygevoeg dat hy ook toestemming van sy verskaffer gekry het om brandstof by ander verskaffers uit te koop, sou sy tenks begin leegloop en hulle nie betyds kan aflewer nie. “Ek dink dit is moeilik vir hulle [sy verskaffer] maar hulle bestuur dit,” het Barnard gesê.

Barnard voorsien ook nie dat die brandstoftekort tans ‘n langtermyn probleem gaan wees nie. “Ek verwag ons gaan in die volgende week, dalk twee weke, redelik gemaklik deur hierdie ding kom. Dit is die vooruitsigte wat ons het as ons die kommunikasie wat hulle [die verskaffers] met ons het reg luister. Ons vertrou dit is waar, want dit kan nie so aanhou nie. Daar is bietjie probleme hier en daar, maar ek dink ons sal oukei wees,” het Barnard gesê.

 

 
 
 

Viewed: 736

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT