ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 42-jarige Martie Grobler wat helder oordag voor Standard Bank by Makhado Crossing beroof is. Saam met haar sit haar man, Pieter (47).

Niks kan jou daarvoor voorberei nie

Date: 27 June 2020 By: Andries van Zyl

‘n Week later sukkel die 42-jarige Martie Grobler van Louis Trichardt steeds om te slaap nadat sy Donderdag, 18 Junie, helder oordag die slagoffer geword het van ‘n gewaagde gewapende roof.

Martie het dié betrokke dag net voor 12:00 vir haar werkgewer gaan geld bank, nadat hulle die oggend ‘n groot kontanttransaksie gehad het. Sy het niksvermoedend na die nuwe Standard Bank by Makhado Crossing gery. In haar handsak was net meer as R17 000.

By die bank aangekom, het Martie ‘n oop parkeervak gesien, nie ver van die bank se ingang nie. Sy het eers verby gery en toe in tru-rat in die parkering ingery. “Ek het in my tru-spieëltjie die twee ouens daar sien sit. Hulle het gelyk soos normale mense. Ek het nogal gekyk dat ek nie hulle bene of iets raakry nie. Daar waar hulle gesit het, het hulle nie eers maskers aangehad nie,” het Martie gesê.

Volgens Martie het sy heel veilig gevoel, maar ... “toe ek my deur oopmaak en uit die kar uitklim, het die een man my so op die skouer gevat en baie kalm gesê: ‘Give me your bag’. Ek het vir hom gevra: ‘For what!? What do you want to do!?’ Dit was toe wat hy my af grond toe druk,” het Martie gesê.

Volgens Martie was daar heelwat mense in die parkeerterrein wat gesien het wat gebeur. Hulle het egter niks gedoen nie. “Met dié wat hy my so afdruk grond toe, het hy ‘n handwapen op my gerig. Dit was toe dat ek besef: hierdie is ‘n rooftog. Toe skreeu ek soos ‘n mal ding!” het Martie gesê.

Martie se geskreeu het nog mense se aandag getrek. “Met dié wat hy sy geweer op my gehou het en ek begin skreeu het, het ek eers besluit ek sal nie die geld vir hom gee nie. Maar toe ek so in die geweer se loop in opkyk, toe besef ek hy gaan my skiet. Ek het dadelik aan al my persoonlike goed in my handsak [telefoon, beursie, bankkaarte en rybewys] gedink, maar ek het vir hom gesê, ‘Vat dit! Los my net uit!’”

Martie sê die roof het slegs ‘n paar sekondes geduur. “Toe ek so terugkyk, toe sien ek hoe spring die man in ‘n voertuig.” Die voertuig waarna sy verwys, was ‘n silwerkleurige Mercedes Benz wat agter haar geparkeer het.

Die volgende oomblik, het Martie vertel, het sy gesien het hoe ‘n man uit die bank met ‘n pistool in sy hand na haar toe aangehardloop kom. “Ek het eers gedink, nee man! Ek is reeds beroof, jy kan my nie weer beroof nie!” Sy het egter gou besef die man is ‘n polisiebeampte, nadat sy die polisie se logo op sy gesigmasker gesien het.

Martie het dadelik vir die polisieman vertel wat gebeur het en die polisieman het losgebrand op die drie verdagtes in die voertuig. In die proses het haar werksvoertuig ‘n paar koeëlgate opgedoen. “Ek het vir hom gesê: ‘Shoot them, because I want my bag back! Don’t let them get away!’”

Die booswigte kon daarin slaag om te vlug. Die verdagtes se voertuig is later op die lugmagbasispad gevind waar dit onklaar geraak het. Bloed is in die voertuig gevind en die polisie vermoed een van die rowers is raakgeskiet. Gelukkig is Martie se beursie met al haar kaarte, minus ‘n paar rand in kontant, ook in die voertuig gevind. Haar selfoon is ‘n ruk vantevore in die bos langs die N1 by die Ben Lavin-afdraaipad gevind, nadat dit nagespeur is.

Martie sukkel steeds om die voorval te verwerk. “Ek sê die hele tyd vir almal ek is oraait, maar ek is nie. Hier binne my is iets fout ... Sondagaand het ek die hele insident in ‘n nagmerrie herleef”. Dit is die eerste keer in Martie se lewe dat sy so ‘n nare ondervinding beleef.  Tans gebruik sy medikasie om haar te help ontspan en slaap, iets waarvoor sy uit eie sak moet betaal. Sy is ook nou erg paranoïes. “As ek ry, stop ek nie meer dood by ‘n stopstraat nie. Ek sluit ook nou dadelik al die deure in ‘n kar as ek inklim; iets wat ek nooit tevore gedoen het nie,” het Martie gesê. “Ek lê baie en dink wat sou gebeur het as hulle my geskiet het. Sou iets gebeur het as ek ‘n ander roete gery het? Ek vra baie vrae vir myself, maar kry geen antwoorde nie.” Sy het intussen weer begin werk.

Geweldsmisdaad, veral teenoor vroue en kinders, is deesdae pal in die nuus. “As ek iemand kan raad gee wat in so ‘n situasie kom, is dit om te probeer kalm bly. Ek was net baie gelukkig hulle het my nie geskiet toe ek begin skreeu het nie. Niks kan jou voorbereid op so ‘n ervaring nie. Jy skrik jou in ‘n ander bloedgroep in.” Sy maak geen geheim van wie haar beskerm het nie. “Van die mense noem my nou ‘bullet-proof’, maar dit was die Here wat my beskerm het,” het Martie gesê.

Teen druktyd kon nog geen arrestasies in verband met die roof bevestig word het nie. Martie is egter seker dit was ‘n “inside job”, soos die gesegde gaan.

 

 
 
 

Viewed: 5381

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT