ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle oom Boet le Roux (82). Foto verskaf.

Soutpansberg se legendariese Boet le Roux oorlede

Date: 25 June 2020 By: 

Die Soutpansberg en sy boerderygemeenskap in geheel is beslis armer daaraan toe met die nuus van die dood van die legendariese oom Boet le Roux (82) van die alombekende Mollevel Voerkrale.

Piet le Roux, of Boet le Roux soos baie mense hom geken het, was voorwaar ‘n boorling van die Soutpansberg. Hy is op 25 Augustus 1937 op Schoemansdal gebore en het skoolgegaan by Laerskool Louis Trichardt en Pietersburg Hoërskool, waar hy sy hoërskoolloopbaan voltooi het.

Ná skool het die jong Boet landbou aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. Tydens hierdie tydperk in sy lewe het sy pa, ook Piet le Roux, ernstig siek geword en moes hy noodgedwonge na die plaas terugkeer om met die boerdery te help. Sy pa het by Happy Rest gewerk en in 1939 het hy die plaas Mollevel naby Waterpoort gekoop by ‘n ander Piet le Roux, wat na Levubu verhuis het.  

“My pa het vertel toe hulle die eerste aand op Mollevel geslaap het, het die wildehonde die paar beeste wat my oupa besit het, uit die takkraal gejaag en ‘n paar verskeur. My pa se generasie was die mense wat die wêreld agter die Soutpansberg mak gemaak het. Hulle het maar swaar gekry in die beginjare. Dit is nie ‘n maklike gebied om in te boer nie,” onthou dogter Mimi Greyling.

Oom Boet het vir jare bekend gestaan as Piet Bok, omdat hy baie sukses met sy boerbokboerdery behaal het. Hy het elke week vier treintrokke vol boerbokke na Soweto gestuur. Dit het hom in staat gestel om sy eerste beeste te koop en hy het begin met 20 Rooi Korthoring koeie.

Tydens die droogte van 1966 is oom Boet genoop om beeste te begin voer omdat weiding net eenvoudig nie meer beskikbaar was nie. Hy het vertel hoe hy in die aand gelê en luister hoe sy beeste bulk van die hongerte. Net daar het hy gesweer dat sy beeste nooit sal vrek van die honger nie en daar het hy sy voerkraal “loopbaan” begin op die plaas Mollevel. Oom Boet was een van die pioniers van die voerkraalbedryf, asook een van die vroegste lede van die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging. “Dit was juis sy omgee-liefde vir diere wat die sleutel tot sy groot sukses as ‘n voerkraaleienaar was,” het Mimi gesê.

“Ek hoor gereeld by mense wat beeste aan my pa verkoop het, dat hy hulle meer betaal het vir kalwers as waarop hulle ooreengekom het, bloot omdat die kalwers in sy oë ‘Dit werd was’,” het Mimi gesê.

“My pa was al 35 jaar oud toe hy en my ma getroud is. In daardie jare was hy amper al ‘n oujongkêrel,” het Mimi vertel. Haar pa het haar ma, Anneline, in 1970 ontmoet en in 1972 het die paartjie die knoop deurgehak. Buiten vir Mimi, is nog twee kinders, Pieter en Annette, uit die huwelik gebore.

In 1997 is oom Boet en tannie Anneline tydens ‘n plaasaanval ontvoer, maar hulle is gelukkig nie ernstig beseer nie. “Selfs daarna het hy nooit ‘n deur gesluit nie, want hy kon nie die sleg in iemand sien nie en het bloot almal vertrou, wat hom dikwels duur te staan gekom het,” het Mimi vertel.

Oom Boet het in Februarie 2014 sy voerkraal op Mollevel gesluit, omdat dit nie vir hom meer ekonomies sin gemaak het nie. “Om ‘n voerkraal te bestuur het ook meer en meer gekompliseerd geraak en die winsgrense het begin afneem. Hy moes beeste en voer van so ver as die Noord-Kaap en Namibië aanry, en op sy ouderdom was hy nie meer lus vir die uitdagings wat hiermee gepaard gaan nie,” het Mimi gesê.

Tannie Anneline is in Maart 2016 oorlede. Oom Boet het vir ‘n aantal jare nog alleen op die plaas aangebly. “Hy het wel van tyd tot tyd by ons ook kom woon, omdat sy gesondheid stadigaan agteruit gegaan het,” het Mimi gesê.

Oom Boet het in Junie 2019 sy intrek by Ons Tuiste Ouetehuis geneem, omdat dit nie meer moontlik vir hom was om alleen op die plaas te bly nie. “Hy wou ook nie by ons woon nie, omdat hy nie wou pla nie. Sy gesondheid het ook vinniger begin agteruit gaan en hy het voltydse versorging benodig,” het Mimi gesê.

Oom Boet is Sondag, 14 Junie, in die Zoutpansberg Privaathospitaal opgeneem, omdat hy nie lekker gevoel het nie. Hy is Woensdag, 17 Junie, omstreeks 21:30 rustig in sy slaap oorlede. “Hy het altyd gesê ‘Soos jy lewe, so sal jy ook sterwe’. Dit was toe ook so,” het Mimi gesê.

Volgens Mimi sal sy haar pa altyd onthou as ‘n uiters suksesvolle mens wat baie eenvoudig gelewe het. “Hy was seker een van die mees gerespekteerde mense in die omgewing omdat hy so nederig was. Hy het nooit grootgepraat nie en ook nooit iets aangepak wat hy nie kon voltooi nie. Hy het geglo dat ‘n ou ding wat onderhou word net so goed werk as ‘n nuwe ding,” het Mimi gesê. Volgens haar het sy omgee vir mense hom vooruit geloop. “Hy was op sy gelukkigste wanneer hy ander mense kon gelukkig maak. Niemand het ooit honger van die plaas af weg gery nie. My pa was nooit suinig om sy raad te deel nie; jy moes egter daarvoor vra, want hy wou nooit grootpraterig en baasspelerig voorkom nie,” het Mimi gesê.

‘n Gedenkdiens vir wyle oom Boet is op 23 Junie vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente gehou. Die diens is opgeneem en kan gekyk word op die gemeente se YouTube-kanaal.  

“Ons wil graag van die geleentheid gebruik maak om vir dr. Emil Gaigher, dr. Casper Venter en die Zoutpansberg Privaathospitaal te bedank vir sy laaste paar dae se versorging.  ‘n Groot dankie ook aan Ons Tuiste en hulle personeel wat my pa se laaste jaar so gemaklik moontlik probeer maak het.  Alhoewel hy eintlik steeds op die plaas sou wou bly, het hy lief geraak vir die mense van Ons Tuiste.  Baie dankie vir die gemeenskap se boodskappe en telefoonoproepe van medelye. Dit het weereens aan ons bevestig dat hy baie geliefd was,” het Mimi en die familie gesê.

Wyle oom Boet word oorleef deur sy kinders Pieter (met skoondogter San en hulle seun Pierre), Annette (met skoonseun Hannes en hulle kinders Jan, Le Roux en Hannelie) en Mimi (met skoonseun Lourens en kinders Gerhard, Stefan en Christiaan).

 

 
 
 

Viewed: 1919

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT