ADVERTISEMENT:

 

 
 

Vhembe se groottotaal Covid-19 gevalle het Woensdag op 26 gestaan, die laagste in die provinsie. Eerste was die Sekhukhune distrik met 154 gevalle met die Waterberg area in die tweede posisie met 82 gevalle. Capricorn was derde met 72 gevalle en Mopani vierde met 37 gevalle. Kaart uitgereik deur die Limpopo Departement van Gesondheid.

Covid-19 gevalle in provinsie styg stadig maar seker

Date: 18 June 2020 By: Andries van Zyl

Met die skole wat die afgelope maand weer oopgemaak het, al is dit net vir Graad 12’s en Graad 7’s, was daar opnuut ‘n opflikkering van paniek weens vrees vir die Covid-19 virus. Nasionaal word berig van talle skole wat intussen weer gesluit is weens die feit dat leerlinge en onderwysers positief getoets het vir die virus.

Ook in Louis Trichardt het gerugte die afgelope week die ronde begin doen dat twee leerlinge van Hoërskool Louis Trichardt blykbaar positief getoets het vir die virus. Die hoërskool was vinnig om te reageer. “Geagte ouers, ten spyte van die gerugte is daar geen leerling op dié stadium wat positief toets vir Covid-19 nie,” het ‘n SMS-boodskap aan alle ouers van leerlinge van die skool Maandag gelees.

Die gerugte dat ‘n leerling(e) van Hoërskool Louis Trichardt positief getoets het vir die virus kom in ‘n week waar die aantal Covid-19 gevalle in Limpopo eksponensieel vinnig begin styg het, wat ook die geval was in Vhembe.

Volgens die nuutste provinsiale statistiek wat Woensdagmiddag deur die Limpopo Departement van Gesondheid uitgereik is, het Limpopo se totale aantal positiewe Covid-19 gevalle met 26 in die voorafgaande 24 uur gestyg. Die grootste styging het in die Mopani-distrik plaasgevind, met 12 gevalle (agt gevalle by Ba-Phalaborwa, drie in die Groter Tzaneen area en een in Maruleng). Die tweede hoogste styging was vyf gevalle in die Sekhukhune-distrik, met vyf gevalle by Fetakgomo Tubatse, waar die grootste aantal gevalle tot dusver in die provinsie gerapporteer is met 158 gevalle (39 aktief, 118 herstel, een sterfte) teen Woensdagmiddag. Polokwane in die Capricorn-distrik en die Waterberg-distrik het elk vier nuwe gevalle bygekry.

Meeste lesers sal egter die meeste bekommerd wees oor plaaslike gevalle. In die ooreenstemmende 24 uur tot Woensdagmiddag is een addisionele geval van Covid-19 in die Vhembe Distrik aangemeld. Dit klink dalk nie baie nie, maar lesers moet in aanmerking neem dat die aantal positiewe gevalle in die Makhado munisipale area sedert 11 Junie vanaf vier (twee aktief en twee herstel) tot ses (vier aktief en twee herstel) op 17 Junie gestyg het. Die grootste toename in gevalle was in die Thulamela munisipale area (Thohoyandou), waar die aantal gevalle sedert verlede Donderdag tot Woensdag van agt (een aktief en sewe herstel) tot 16 (agt aktief en agt herstel) gegroei het. Die Collins Chabane munisipale area het die afgelope week ook hulle eerste bevestigde Covid-19 gevalle aangemeld, met ‘n totaal van drie - almal aktief. Die grensdorp Musina se een geval verlede week (aktief) het tot en met Woensdagmiddag gegroei na twee, beide nog aktiewe gevalle.

Vhembe se groottotaal Covid-19 gevalle het Woensdag op 26 gestaan, die laagste in die provinsie. Die meeste was die Sekhukhune distrik met 154 gevalle, met die Waterberg area in die tweede posisie met 82 gevalle. Capricorn was derde met 72 gevalle en Mopani vierde met 37 gevalle.

Teen Woensdagmiddag is 23 659 mense vir Covid-19 in Limpopo getoets, waarvan 401 positief was. Uit hierdie 401 gevalle het 218 mense teen Woensdag weer herstel. Ongelukkig is vier mense in die provinsie weens die virus dood, met die aantal aktiewe gevalle wat op 179 gestaan het.

Alhoewel die styging in gevalle stelselmatig begin toeneem, dui alle internasionale modelle daarop dat dié situasie onvermydelik is. Wêreldwyd het meer en meer lande hulle ekonomieë weer begin oopstel ten opsigte van ‘n verslapping in grendeltyd regulasies. Suid-Afrika het sedert 1 Junie vanaf Vlak 4 na Vlak 3 regulasies gegaan. Dit het veral vir restauranteienaars en kitskoswinkels as goeie nuus gekom wat weer etes op bestelling kon voorberei en verkoop, alhoewel aansit-etes nog nie toegelaat word nie. Lees meer oor wat plaaslike restaurant- en kitskoswinkeleienaars doen om weer aan die gang te kom op p. 8 van hierdie week se Zoutpansberger.  

* Baie van ons leser doen navraag of ons weet wie die mense in Makhado en Musina is wat die virus onder lede het. Lesers wil ook weet of al die gevalle in Louis Trichardt of Musina is. Die feit is dat inligting aangaande pasiënte privaat is en nie as 'n reël aan die publiek bekend gemaak word nie. Daarom is die aantal gevalle 'n aanduiding per munisipale area, en nie ten opsigte van 'n spesifieke dorp nie. 

 

 
 
 

Viewed: 1034

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT