ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die produksie is meesterlik aanmekaar gesit, met ‘n veel dieper boodskap as net Koben se pad na herstel. Dit is ‘n boodskap van hoop en inspirasie, maar meer spesifiek een van geloof te midde van die terugslae die afgelope twee jaar.

Koben inspireer met video oor geestelike groei

Date: 04 June 2020 By: Andries van Zyl

Daar is min keer aan die 17-jarige Koben Hofmeyr van Louis Trichardt se begeerte om mense te inspireer en te bemoedig, so ook nou te midde van die wêreldwye Covid-19 grendelperiode.

Plaaslik het hierdie jong leerling van Hoërskool Louis Trichardt geen bekendstelling nodig nie en terwyl ander by die huis sit en wag vir die grendelregulasies om te verslap, het hy ‘n sewe-minuut-lange video gemaak oor die pad wat hy sedert 19 Mei 2018 gestap het.

Vir diegene wat kan onthou, het dié jong man op daardie noodlottige dag sy nek gebreek tydens ‘n skole rugbywedstryd wat hom van sy skouers af ondertoe verlam gelaat het. Tog het Koben vasgehou aan sy droom om te kan opstaan uit sy rolstoel en weer te kan loop. Die video handel juis oor die pad wat hy na sy droom gestap het en is op 19 Mei vanjaar, op die tweejarige herdenking van sy ongeluk, op YouTube bekendgestel.

Die produksie is meesterlik aanmekaar gesit, met ‘n veel dieper boodskap as net Koben se pad na herstel. Die boodskap is een van hoop en inspirasie, maar meer spesifiek een van geloof te midde van die terugslae die afgelope twee jaar. “Dit is ‘n storie van ‘n seun wat herlewing gevind het in Christus se genesende krag … en hier, vandag, twee jaar na my ongeluk, kan ek niks anders sê as dankie nie. Want ek is dankbaar vir die persoon wat ek geword het, al het dit twee jaar, ontelbare valle, baie lesse, menige onsekerheid, pynlike letsels en verliese gevat, kan ek terugkyk en glimlag – wetende dit was alles die moeite werd gewees,” sê Koben onder meer in die video.

Die video roer behoorlik die hartsnare en baie sal vind dat dit onwillekeurig trane in die oë bring. “Ek wou mense wys dat ek nie net fisies herstel het nie, maar psigies en geestelik nuwe hoogtes bereik het … dat dit my ‘n beter mens gemaak het, alhoewel ek ‘n geliefde weergawe verloor het,” het Koben die afgelope week aan die Zoutpansberger gesê.  ‘n Knop-in-die-keel oomblik in die video is waar Springbokhaker Schalk Brits in ‘n persoonlike boodskap aan Koben sê dat hy vir hom as inspirasie en held dien.   

Die video is egter net ‘n klein kykie na Koben se lewe die afgelope twee jaar en kan onmoontlik nie alles saamvat waardeur Koben die afgelope twee jaar gegaan het nie. “Nee, dit behels nie alles nie, maar ek hoop dat daar eendag ‘n film gemaak kan word oor my verhaal en al die ander probleme langs die pad. Daarvan was daar baie. Die video het meer op my karakterontwikkeling gefokus in dié tydperk,” het Koben gesê.

Koben het self die video saam met sy familie en vriende aanmekaargesit. “Ek het al die videogrepe aan my suster [Aninke] verduidelik, geskiet en geredigeer volgens my visie. Ek het dan ander video’s wat ek vroeër in my Vlogs gebruik het weer ingegooi wat mense kon herken. Charles Schlesinger het die drone footage vir ons geskiet,” het Koben gesê.

Volgens Koben het sy video’s ten doel om mense aan te raak, al is dit net een persoon. “Maar met hierdie een het ek baie meer moeite ingesit omdat dit ‘n baie emosionele onderwerp vir my is en my hoop is dat ‘n filmproduksie-maatskappy dit dalk raaksien, en hulle ook daardeur aangeraak sal word, sodat baie meer mense aangeraak kan word,” het Koben gesê.

Vir die onmiddellike toekoms het hierdie jong man die afgelope paar weke ‘n groot besluit geneem. Hy het besluit om sy LUK-balkie terug te gee en Graad 12 te los om weer na Graad 11 toe te gaan om sy punte vir universiteit beter te kry. Dit was nie ‘n maklike besluit nie. “Ek voel dat dit dalk nie die beste besluit was vir die plan wat ek met my lewe het nie, maar ek het besef dat my plan nie die perfekte plan is ten opsigte van God se wil nie. So, ek het vir myself gesê al is dit nie nou die ideale besluit op dié oomblik vir my nie, is dit die beste besluit vir my toekoms.”

Koben se planne vir wanneer hy klaar is met skool sluit ook in om nog sulke produksies die lig te laat sien waardeur hy die Woord kan verkondig en mense kan help met hulle psigiese welstand deur hulle te motiveer. Tans probeer hy ten minste elke week ‘n video op te laai. “Soortgelyke produksies gaan net op spesiale datums gebeur. Ek wil nou nie my kuikens tel voordat hulle uitgebroei het nie, maar julle kan julle gereed maak vir my volgende produksie aan die einde van die jaar met die titel: Why 2020 was the most iconic year of my life.

Om dié video te kyk, kliek HIER

of klik op die video onder:

 
 
 

Viewed: 1076

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT